Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Leer ken die dieper kant van die kontrabas

Drie kontrabasvirtuose van Amerika is vandeesweek in Kaapstad as aanbieders van die eerste kontrabasslypskool tot nog toe in Suid-Afrika.

Die kursus duur van 9 tot 13 Desember en bied nie net gehalte-opleiding aan sowat 20 jong spelers van oor die land heen nie, maar het ook groter bewusmaking van die kontrabas ten doel.

Van die aanbieders van die eerste kontrabasslypskool in Suid-Afrika is van links Gudrun Raschen, Zanelle Britz, Mariechen Meyer, Jeff Bradetich en Nick Scales. Raschen, Bradetich en Scales is van Texas in die VSA en Britz en Meyer in Kaapstad.

Nick Scales van die West Texas-Universiteit se musiekskool en Jeff Bradetich en Gudrun Raschen van die North Texas-Universiteit se musiekkollege sal die deelnemers die fyner kuns van kontrabasspel leer met die hulp van die plaaslike spelers Roxane Steffen, Zanelle Britz en Mariechen Meyer. Steffen en Britz is lede van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) en Meyer ’n ad hoc-speler.

Die kursus bestaan uit lesings, demonstrasies en meesterklasse asook ’n konsert wat oop is vir die publiek.

Uiteenlopende aspekte soos korrekte postuur, die versorging van die instrument, orkes-etiket, sakebestuur en bemarking sal in die lesings behandel word.

In die meesterklasse sal tegniek en vertolking aandag kry en die deelnemers voorberei word vir ensemble-optredes op die laaste dag van die slypskool.

’n Hoogtepunt is die konsert waarvoor die ses aanbieders in verskillende kombinasies saamspan om die prettige en virtuose eienskappe van kontrabasspel ten toon te stel.

Scales, Bradetich en Raschen het doktorsgrade in musiek en is behalwe dosente ook soliste en kamermusiek- en orkesspelers.

Scales is sedert 2005 die hoofkontrabasspeler in die Amarillo-simfonieorkes en die Utah-operaorkes, direkteur van ’n musieksomerskool asook ’n bedrywige jazzmusikant.

Bradetich het sedert sy debuut in 1982 in meer as 600 konserte op vyf vastelande opgetree, verskeie solokompetisies gewen, ses albums vir kontrabas en klavier opgeneem en boeke oor kontrabasonderrig geskryf.

Raschen was 17 jaar oud toe sy met haar ouers na Suid-Afrika verhuis het en as tjellis aan die Universiteit van Kaapstad gegradueer het. Sy het haar studies in Amerika in tjello en kontrabas voortgesit en ’n doktorsgraad in kontrabasspel verwerf. Raschen tree gereeld as tjellis en kontrabasspeler op en is ook ’n dosent aan die North Texas-Universiteit.

Die slypskool is deel van die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugsimfonieorkes se reeks What it Takes-aanbiedings.

* Double Bass Delight: 11 Desember om 19:00 in die Erin-saal, Rondebosch. Die kaartjies kos R80 en R100 by Quicket of die deur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.