SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Musiek
Legendariese prof en dosent laat groot musiekbeurs na
Die omslag van een van die vele CD’s wat prof. Japie Human opgeneem het.

Een van die grootste musiekbeurse in Suid-Afrika is deur die legendariese pianis prof. Japie Human en die dosent Willem Naudé nagelaat.

Aansoeke vir dié HumanNaudé-musiekbeurs van R100 000 tree onmiddellik in werking vir instrumentaliste en volgende jaar vir sangers. Dit sal voortaan jaarliks om die beurt vir instrumentaliste en sangers beskikbaar wees.

’n Hoë standaard word van aansoekers vereis wat, tipies van Human, in besonderhede in die testament uiteengesit is, sê Johan Cromhout.

Cromhout, ’n pianis, onderwyser en oudleerling van Human, dien saam met die klavierdosent Anneke Lamont, sangdosent Leana Lötter en pianis Charl du Plessis in die beoordelaarspaneel en het ook die beursinligting saamgestel.

Die beursvereistes

Suid-Afrikaanse burgers wat in die Vrystaat skoolgaan of tersiêr studeer, kan vir die beurs aansoek doen. Die wenner mag egter die geld gebruik om aan enige instansie in Suid-Afrika of in die buiteland te studeer.

Instrumentaliste mag nie ouer as 22 wees ten tyde van die aansoek nie, en sangers nie ouer as 26 nie. Alle musici se repertorium moet op minstens gr. 8-vlak van Unisa, Royal Schools of Music of Trinity se eksamens wees.

Voornemende instrumentalis-kandidate moet teen 15 Desember vanjaar op die webwerf www.humannaudé-trust.co.za geregistreer wees en ’n ongeredigeerde video-opname van 15 tot 20 minute se spel van drie kontrasterende werke uit drie stylperiodes ingestuur het.

Die name van die vyf finaliste wat uit die opnames gekies word, sal op 20 Desember bekend gemaak word.

Dié vyf sal op 20 Februarie 2020 in die Odeion-teater op die UV-kampus om die wenprys meeding.

Vir dié uitvoering moet ook drie kontrasterende werke gespeel word, waarvan een ’n sonate of sikliese werk moet wees.

Sangers, wat volgende jaar kan inskryf, moet ook werke uit drie stylperiodes op video instuur met begeleiding deur ’n pianis. Een werk moet in Duits wees en ’n kunslied, oratorium-resitatief of opera-aria moet ook aangebied word.

Die beursgeld word in paaiemente beskikbaar gemaak op grond van die voorlê van ’n studieplan en twee verslae per jaar van die instansie waar die wenner studeer.

Die beursstigters

Prof. Japie Human

Japie Human (1932-2015) het in Winburg grootgeword en in 1951 met sy musiekstudie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) begin, waar hy in 1976 ’n PhD verwerf het. Hy is reeds in 1961 as klavierdosent aangestel en was ’n professor toe hy ná ’n hartaanval in 1991 vroeg afgetree het. Human het ook in Brittanje en die VSA gestudeer, waar hy onder meer vyf lisensiate en ’n MMusEd verwerf het. Die bekende Gerald Moore was een van sy klavierpedagoë.

As geliefde dosent aan die UV het hy talle beurs- en kompetisiewenners opgelewer, van wie sommige steeds aktiewe musiekloopbane in Suid-Afrika en in die buiteland volg.

Human was etlike jare ’n Unisa-eksaminator en het in talle beoordelaarspanele vir Suid-Afrikaanse en internasionale klavier- en musiekkompetisies gedien.

Hy was ook ’n bedrywige uitvoerende pianis oral in Suid-Afrika – as solis, kamermusikus en saam met al die voorste orkeste. Daarby was hy ’n briljante jazz-pianis, sodanig dat die bekende Adolph Hallis gesê het: “You have a marvelous talent for jazz-piano. Why on earth are you wasting your time on classical music?

Human was toe reeds ’n gevestigde dosent en klassieke pianis waarvoor hy ook ’n bewonderenswaardige talent gehad het en diep spore getrap het.

Willem Naudé

Willem Naudé het in Heilbron grootgeword, ná skool landbou studeer, sy loopbaan as ’n onderwyser begin en jare lank Engels aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein gegee.

In 1970 het hy geskuif na die departement van kultuursake, waar hy met begeesterde leiding talle kunstentoonstellings, toneelopvoerings en musiekkonserte oor die Vrystaat heen aangebied het.

Hy was ook ’n sanger wat gereeld in amateurproduksies opgetree het en later ook orrel leer speel het.

Hierbenewens was hy ’n uitstekende pottebakker, tuinier en kok.

Human en Naudé se huis was ’n gewilde kuierplek vir hul groot vriendekring wat opgebou is om ’n liefde en waardering vir goeie musiek te kweek. Hulle het gereeld huiskonserte gehou en hul weeklikse musiekoggende was ’n inspirerende heenkome vir baie.

Daarby het Naudé se fyngebak van elke geleentheid iets besonders gemaak.

Naudé is in 2013 op 88 oorlede.

Meer oor:  Musiek  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.