Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Lekker luister aan dié albums

Daar is musiek op pad wat gaan donder en daar is albums reeds beskikbaar wat ’n goeie rommel of twee afgee.

Karen Zoid se eerste Afrikaanse album in ses jaar word op 11 Augustus op iTunes uitgereik. Sy stel Op die oomblik die aand tussen 20:00 en 21:00 direk op RSG bekend deur ’n direkte uitsending vanaf die SABC-ateljee in Seepunt.

Die eerste enkelspeler, “Vir jou”, is Vrydagoggend uitgereik en is reeds nommer een op iTunes se Afrikaanse speellys.

Volgens ’n mediaverklaring wissel die inhoud van die nuwe album van klassieke rock, sielvolle komposisies en kragtige ballades tot iets met ’n tikkie spot.

Zoid en haar orkes (Schalk van der Merwe, Henry Steel en Tim Rankin) speel al sewe jaar saam. Hulle het verlede jaar met Kyle Petersen op klavier begin werk en Kyle het ook saam geskryf aan die liedjie “Vir jou.”

Zoid volg die album op met ’n kortfilm, eintlik ’n visuele album, vervaardig deur ShowMax. Dit is op 20 Augustus op kykNET te sien. Op 24 Augustus word sy die eerste Suid-Afrikaanse sanger wat ’n visuele album op iTunes gaan uitreik. Internasionale kunstenaars wat al soortgelyke visuele albums uitgereik het, sluit Beyonce, Drake en Brad Paisley in.

Nog nuwe albums word eersdaags uitgereik. Grethe van der Merwe se tweede vollengte-album, Jy weet, word op Woensdag 23 Augustus in die Drostdy-teater in Stellenbosch bekend gestel. Sy skryf haar musiek rondom haar eie ervarings en oor plekke waar sy al was. Een van die liedjies op haar album, “Hierdie plek”, gaan aandag trek. Haar pa het die lirieke geskryf en beskryf die Klein Karoo van haar kleintyd.

Helena Hettema stel 21 plus (2017) op 16 September in die Atterbury-teater in Pretoria bekend. Hierdie optrede vier 22 jaar sedert haar eerste CD, Fool’s Gold, uitgereik is.

Die album van die drie broers Reno, Jeff en David-Lee Gericke is ook op pad. Hulle noem hulself die 1925Band. Die album se titel is Eintlik nogal baie. Die naam van die album was die temalied van die gelyknamige rolprent wat verlede jaar in November uitgereik is. Die liedjie het die nommereenplek op verskeie radiostasies in Suid-Afrika se trefferparades behaal en die fliek is internasionaal versprei.

Die albumuitreiking sal in September in Kaapstad en Pretoria plaasvind. Hou 1925Band se sosiale media dop vir meer inligting.

Nuwe albums reeds op die rak:

Len MullerOog van die storm

Dis Muller se tweede ateljee-album en is akoesties met banjo, mondfluitjie, tjello en akoestiese kitaar. Sy eerste album Doodgewone avontuur, wat in 2015 uitgereik is, het hom amptelik aan die musiekbedryf bekend gestel en heelwat treffers en benoemings het gevolg, onder meer Ghoema- en Tempo-benoemings vir Manlike Kunstenaar van die Jaar en Nuweling van die Jaar.

Die enkelsnit “Smag na jou” is gebruik op die klankbaan van die romantiese komedie Strikdas.

Die enkelsnit “Sing vir sente”, wat hy saam met Faraway George geskryf het, is op 5 Junie uitgereik en kan gereeld oor die radio gehoor word.

SharoneySkyn

Die liedjies is hoofsaaklik uit die pen van ADAM en Vaughan Gardiner en bestaan uit opgewekte dansmusiek

Die eerste enkelsnit, “Skyn”, is reeds bekend gestel.

As lid van die Performer Corner, is sy ook deur regisseur At Strydom genader om deel te wees van sy produksie Wasem. Haar musiekloopbaan het egter eers begin vlamvat toe Hugo Ludik, van Muse Productions, haar talent raakgesien het tydens ’n voorvertoning vir ADAM en hy het haar toe onder sy vlerk geneem het.

Jannie en CorleaUnforgettable

Jannie Moolman en Corlea Botha het as solosangers geen bekendstelling nodig nie. As nie-amptelike sangpaar was hul album Alle paaie lei na Rome ’n blitsverkoper. Hulle het in 2011 vir die eerste keer saam opgetree op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees waar hulle die duet “The Prayer” gesing het. Unforgettable se 15 liedjies is romanties en spesiaal vir hul stemme verwerk.

Elmé Rooiwyn en liefde

Elmé Jacobs Churr maak haar debuut in die musiekbedryf met hierdie album. Sy het die meerderheid van die liedjies (10 uit die 13) self gekomponeer. Sy was voorheen lid van die Barnyard se vermaaklikheidsgroep met onder meer Super Troopers (2010 tot 2011) en Bonfire hearts (2015) en sy het al in Zanzibar en Hong Kong opgetree. Op die album sing sy onder meer “Neem my op vlerke”, die lied wat Anneli van Rooyen gewild gemaak het. Een van die hoogtepunte op die album is Chris Torr se “Stille waters” met eenvoudige klavierbegeleiding.

Meer oor:  Karen Zoid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.