Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Leo Sayer kom saam met SA sterre sing
Leo Sayer. Foto: Ed Fielding

Leo Sayer, die popster wat menige meisie se knieë lam gehad het in die 1970’s en vroeë ’80’s, is op pad na Suid-Afrika vir twee Kerskonserte.

Dié popsanger wat bekendheid verwerf het met liedjies soos “One Man Band”, “You Make Me Feel Like Dancing” en “When I Need You”, gaan saam met 11 plaaslike musieksterre in ’n spesiale Kerskonsert optree.

In Kersfees Skouspel gaan Sayer (71) die verhoog deel met onder andere Nianell, Jak de Priester, Mathys Roets, Joshua na die Reën, Monique, Pieter Smith en Tasché, wenner van die derde reeks van The Voice SA.

Sayer sê in ’n verklaring hy is verheug om kort voor Kersfees ’n draai in Suid-Afrika te maak.

“Ek is so bly ek kan deel wees van die besonderse Kersproduksie, want Kerstyd is ’n spesiale tyd. Natuurlik gaan ek ’n paar van my treffers sing, maar die fokus gaan op Kersmusiek wees,” sê hy.

“Ek sien vreeslik daarna uit om saam met Suid-Afrikaanse kunstenaars op te tree. Ek wil nie te veel uitlap nie, maar ek gaan ’n liedjie of twee saam met die wonderlike, talentvolle kunstenaars sing.”

Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produksies, wat Kersfees Skouspel vervaardig, is net so in sy noppies oor Sayer se betrokkenheid.

“Ons het elke jaar ’n internasionale kunstenaar by Kersfees Skouspel,” sê Swart in ’n mediaverklaring.

“Verlede jaar het ons gehore (die Belgiese sangeres) Dana Winner vreeslik geniet en ek glo Sayer gaan net so ’n treffer wees.”

Die Engels-Australiese sanger het volgens sy webwerf, www.leosayer.com, 18 albums uitgereik, waarvan vier samestellings is. Benewens sy eie musiek het hy liedjies geskryf vir ander topkunstenaars soos Tina Turner, Dolly Parton en Cliff Richard.

  • Kersfees Skouspel word vanjaar op 14 Desember om 20:00 by GrandWest in Kaapstad aangebied. Kaartjiepryse wissel tussen R220 en R450. Bespreek by Computicket.
  • Die konsert word op 16 Desember om 15:00 in die Sun Arena in Pretoria herhaal. Kaartjiepryse wissel tussen R135 en R450. Bespreek by Computicket.
Meer oor:  Musiek  |  Jak De Priester  |  Nianell  |  Kerfees Skouspel  |  Leo Sayer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.