Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Leo Sayer: SA is my 3de tuiste
Leo Sayer Foto: Michael Palmer

Die Brits-Australiese sanger Leo Sayer sê hy tree al so lank in Suid-Afrika op dat hy die land werklik as sy derde tuiste beskou.

Sayer, wat wêreldwyd bekend is vir liedjies soos “One Man Band”, “You Make Me Feel Like Dancing” en “The Show Must Go On”, het vir die eerste keer in 1979 in Suid-Afrika opgetree en het sedertdien elke dan en wan ’n musikale draai hier gemaak.

Hy sal op 14 en 16 Desember – 40 jaar ná sy eerste optrede in die land – weer verhoë in onderskeidelik Kaapstad en Pretoria bestyg, dié keer om saam met sangers soos Nianell, Jak de Priester, Mathys Roets, Joshua na die Reën, Monique, Pieter Smith en Tasché in die vertoning Kersfees Skouspel op te tree.

“Ek het in 1979 danksy Sol Kerzner by die splinternuwe Sun City opgetree,” vertel Sayer per telefoon vanuit die Suidelike Hooglande, sowat 120 km suid van Sydney, Australië.

“My pad het (vroeër) in Londen met dié van Sol gekruis en hy het my vertel van hierdie nuwe plek wat hy besig is om te bou en waar hy wil hê ek moet optree. Ek dink ek sou die eerste kunstenaar gewees het wat by Sun City sou optree, maar iemand het ons voorgespring.

“Ek onthou wel hoe ek drie weke voor my vertoning daar opgedaag het en gekyk het hoe hulle die Superbowl klaar gebou het.”

Die sanger het kort ná dié aanvangskonsert na Suid-Afrika teruggekeer en solokonserte in Kaapstad en Johannesburg aangebied, maar dit was ’n onverwagse konsert in Soweto wat hom vandag nog bybly.

“Ek het agterop ’n lorrie ’n impromptu-vertoning vir Winnie Mandela in Soweto gehou – ook vir Cyril (Ramaphosa), jul fantastiese president, wat ’n ou vriend is. Dit was natuurlik in die apartheidsjare, maar ek wou my deel doen om die wêreld te verander. Ek is bly dit het eindelik in Suid-Afrika gebeur, en ek dink dit is juis daarom hoekom ek vandag steeds aanhangers vanuit alle uithoeke in Suid-Afrika het.”

Sayer (71) is op Shoreham-by-Sea in Engeland gebore. Hy het sy musiekloopbaan in 1973 in sy geboorteland begin voordat hy wêreldwyd sukses behaal het.

Sowat 15 jaar gelede was sy loopbaan volgens hom egter aan die taan. Om dit weer lewe te gee, het hy in 2005 na Australië verhuis en ’n Australiese burger geword.

“Australië was nog altyd ’n magiese plek vir my én my loopbaan,” sê hy. “Dit is die enigste plek waar ek Beatle-manie ervaar het – die gewildheid was ongelooflik – en Australië het daarom my tweede tuiste geword. Ek beskou Suid-Afrika as my derde (tuiste).

“In Engeland wou my aanhangers net my loopbaan met al my ou liedjies herleef, terwyl Aussies nuwe musiek verwelkom het. In Australië kon ek dus nuwe musiek maak en weer as kunstenaar gebore word, wat ek nie in Europa kon doen nie.

“Nou mag ek dalk 71 jaar oud wees, maar ek voel geestelik 25 en geniet steeds wat ek elke dag doen. Dít het my aangevuur om vanjaar ook my nuwe album, Selfie, uit te reik.”

Leo Sayer in 1970. Foto: Getty Images

Die sanger sê hy is baie opgewonde om in Kersfees Skouspel op te tree, nie net omdat hy ’n somer-Kersfees bo ’n winter-Kersfees verkies nie, maar ook omdat hy weer met die vertoning se musikale regisseur, Jaconell Mouton, kan saamwerk.

“Die laaste keer wat ek in Suid-Afrika opgetree het, was in Montecasino. Jaconell was in my band, en het vir my gesê sy sal graag ’n Kersvertoning met my wil doen. Ek het toe vir haar gesê my dagboek is oop en dit sal lekker wees. Ek is baie lief vir Kaapstad en ek het steeds goeie vriende in Pretoria wat ek weer wil sien.”

Sayer sal ses liedjies in die konsert sing: twee Kersliedjies en vier van sy eie treffers. Dit is definitief nie sy laaste vertonings hier nie, sê hy.

“Ek wou nog altyd in Durban en Port Elizabeth optree, so hopelik sal dié optrede eindelik tot ’n vollengte toer deur die hele land lei. Dit sal fantasties wees.”

  • Kersfees Skouspel vind vanjaar op 14 Desember om 20:00 by GrandWest in Kaapstad plaas. Kaartjiepryse wissel tussen R220 en R450. Bespreek by Computicket.
  • Die konsert word op 16 Desember om 15:00 in die Sun Arena in Pretoria herhaal. Kaartjiepryse wissel tussen R135 en R450. Bespreek by Computicket.
Meer oor:  Musiek  |  Kersfees Skouspel  |  Jak De Priester  |  Nianell  |  Leo Sayer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.