Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Leo Sayer skree vir Bokke
Die popsanger Leo Sayer is tans in Suid-Afrika vir die Kersfees Skouspel die naweek in Kaapstad en Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Die wêreldbekende sanger Leo Sayer het nog altyd die Springbokke in rugby ondersteun en is trots op dié span wat die wêreldbeker gewen het.

“Ek is baie kieskeurig in my sportondersteuning. Ek ondersteun Suid-Afrika in rugby, Australië in krieket en Italië in sokker,” sê Sayer (71), ’n gebore Britse sanger wat deesdae in Australië woon.

Hy het Donderdag in Suid-Afrika aangekom vir twee Kerskonserte.

Dié popsanger, wat bekendheid verwerf het met liedjies soos “One Man Band”, “You Make Me Feel Like Dancing” en “When I Need You”, gaan saam met 11 plaaslike musieksterre in ’n spesiale Kerskonsert optree.

Leo Sayer, die sanger van die liedjie “You Make Me Feel Like Dancing”, tree die naweek by die Kersfees Skouspel in Kaapstad en Pretoria op.Foto: Deaan Vivier

In Kersfees Skouspel gaan Sayer die verhoog deel met onder andere Nianell, Jak de Priester, Mathys Roets, Joshua na die Reën, Monique, Pieter Smith en Tasché, wenner van die derde reeks van The Voice SA.

Kersfees Skouspel vind Saterdag en Maandag plaas, onderskeidelik by GrandWest in Kaapstad en die Sun Arena van Time Square in Pretoria.

Sayer gaan sowat ses liedjies sing tydens hierdie twee Kerskonserte. Dit is onder meer “You Make Me Feel Like Dancing”, “When I Need You”, “More Than I Can Say” en sy weergawe van The Beatles se “Let It Be”.

Hy sê die Suid-Afrikaanse gehore was nog altyd “fantasties” teenoor hom, met plaaslike kunstenaars wat sommige van sy liedjies selfs in Afrikaans of Sotho sing.

“Die reaksie was so groot toe ek die eerste keer hierheen gekom het, want die eerste twee, drie albums was reeds groot treffers hier,” sê Sayer.

Sedert sy eerste optrede in Suid-Afrika in 1979 het hy die land al ’n paar keer besoek. Dié besoeke was egter nie net om vir gehore te sing nie, maar ook om vakansie te hou.

Hy het al onder meer die Grand Prix op Kyalami bygewoon, by vriende op hul wildreservaat buite Port Elizabeth gaan kuier, en was al by die Kaapse wynlandgoed Steenberg.

Die Kersfees Skouspel vind die naweek plaas in Kaapstad en Pretoria met Leo Sayer as die internasionale gaskunstenaar. Foto: Deaan Vivier

“Ek het oor die jare baie vriende hier gemaak,” sê Sayer.

In die gees van Kersfees bekommer die kommersialisering daarvan hom soms.

“Dit word dalk op die verkeerde manier gebruik. Maar as ons aan Kersfees dink as ’n tyd wat vrede en welwillendheid verteenwoordig en dit eintlik na vore bring, dan is dit goed.”

Sayer beplan ’n rustige Kersfees by die huis waar hy in ’n klein dorpie van sowat 400 mense woon.

’n Herinnering van Kersfees wat by hom opduik, is die keer toe hy vir drie dae oor Kerstyd in die sneeubedekte Zürich, Switserland, gestrand was. Hy het aanvanklik sy vlug gemis.

“Ek het drie dae in saligheid deurgebring. Dit was so romanties, ongelooflik,” sê Sayer.

“Natuurlik het ek my geliefdes gemis, maar ek het ’n goeie tyd gehad.”

Sy gunsteling-Kersfeesliedjie is “Happy Xmas (War Is Over)” van John Lennon and Yoko Ono, omdat hy van die sentiment hou.

“Kersfees het gekom en nog ’n jaar is verby. Die groot vraag is: Het jy enigiets goed gedoen? Ons moet vrede vier,” sê Sayer.

Herman Grobler, ’n Beeld-kompetisiewenner, saam met die wêreldbekende sanger Leo Sayer wat in Suid-Afrika is om deel te neem aan die Kersfees Skouspel in Kaapstad en Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Meer oor:  Leo Sayer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.