SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Musiek
Letlander se Sjostakowitsj fassinerend

Die Bostonse Simfonieorkes met Andris Nelsons as hoofdirigent toon hulself as totaal opgewasse teen die heroïese elemente in die Rus Dmitri Sjostakowitsj se sesde en sewende simfonie, skryf Paul Boekkooi. Hy resenseer die album "Under Stalin's Shadow". 

Dmitri Sjostakowitsj (1906-1975) se credo is ’n klinkklare bevestiging wat hy as komponis wou bereik: “My beskouing is dat elke kunstenaar wat hom van die wêreld isoleer, gedoem is. Ek vind dit ongelooflik dat ’n kunstenaar homself sou wou wegsluit van die mense wat uiteindelik sy gehoor vorm. Ek dink ’n kunstenaar behoort die grootste moontlike aantal mense te dien. Ek probeer altyd om myself so wyd moontlik verstaanbaar te maak, en slaag ek nie, dan lê die fout by my.”

Sy 15 simfonieë en 15 strykkwartette, ses concerto’s en die grootste deel van sy veelsydige oeuvre, vind bykans 45 jaar ná sy dood steeds wyd inslag – veral omdat dié poli-stilis se komposisies selde hul onderliggende aktualiteit aan enige modes of giere hoef af te staan.

Die Letlandse dirigent Andris Nelsons (40) is in die proses om Sjostakowitsj se simfonieë in Boston op te neem. Sy jongste dubbelalbum met die nommers 6 en 7, ’n suite uit sy klankbaanmusiek vir King Lear en sy gewildste orkeswerk, die sprankelende Feestelike Ouverture, dra die titel “Under Stalin’s Shadow”.

Die sewende het die bynaam “Leningrad”. Dit was baie gou ’n simbool van verset teen die onderdrukking van die Russiese volk deur die Duitsers in 1941. In sy omstrede Sjostakowitsj-memoires skryf Solomon Volkov dat dié simfonie ook beskou kan word as protes teen die Sowjets. Uiteindelik was Stalin immers geen kleiner onderdrukker as Hitler nie.

Dié simfonie is ’n klinkklare veragting van elke vorm van terreur en fascisme. In die openingsdeel, Allegretto, kom ’n uitgebreide marsiale tema voor wat (in die trant van Ravel se Bolero, maar hewiger) met banale klanke die besetting van die stad uitbeeld, wat 900 dae sou duur. Die oorblywende drie dele het sy uitgebreide oomblikke van bombasme, maar is ter wille van ewewig, ook meer beskouend.

Nelsons, ’n strukturele denker, interpreteer Sjostakowitsj hier, asook in die meer sinies-lughartige Simfonie no. 6, met ’n natuurlike aanvoeling vir die dinamiese orkestrale diversiteit wat die komponis vereis. Die Letlander se fassinerende en suiwer musikale benadering hou die programmatiese elemente in bedwang sonder om enigsins die dramaties-tragiese sfeer te onderbelig.

Die Bostonse Simfonieorkes met Nelsons as hoofdirigent toon hulself as totaal opgewasse teen die heroïese elemente in albei simfonieë. Hulle word met duidelike spanningsboë opgebou, gekenmerk deur diep inkerwende klimakse, helder omlynde ritmes en natuurlik vloeiende tempokeuses.

Sjostakowitsj het ruim 40 klankbane gekomponeer, dit deurentyd ernstig opgeneem en hulle van opusnommers voorsien. Die musiek vir King Lear was sy swanesang wat rolprentbetrokkenheid betref. Dit bestaan oorwegend uit kort fragmente en fanfares wat die aandag hou. Eienaardig is dat die woordlose Requiem hier uitgelaat is.

Die Feestelike Ouverture is ’n briljante, opkikkerende jubelsang, pikant georkestreer, met die Stalin-skaduwee totaal in die niet.

  • SJOSTAKOVITSJ: Simfonie no. 6 in b mineur, opus 54; Simfonie no. 7 in C majeur, opus 60 – Leningrad; Suite uit die bykomstige musiek vir King Lear, opus 58a; Feestelike Ouverture, opus 96. Bostonse Simfonieorkes / Andris Nelsons. DG 483 6728 (2 CD’s).
Meer oor:  Musiek  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.