Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Liedjieboer se radioreeks gevul met heimwee
Anton Goosen Foto: Felix Dlangamandla

Die Afrikaanse Musiek en Liriek-beweging van 1979 en die invloed daarvan op die afgelope 40 jaar vat pos in die Liedjieboer Anton Goosen se jongste musiekreeks op RSG.

Musiek en Liriek 40 begin Maandag en bestaan uit 13 episodes.

Laurika Rauch

In Maart 1979 het ’n groep mense besluit om oorspronklike Afrikaanse musiek te skep. Dit het ’n televisieprogram, verhoogvertonings en ’n hele nuwe beweging in die Afrikaanse musiekbedryf tot gevolg gehad.

“Die teelaarde was ryp om te plant en te pluk,” sê Goosen oor dié beweging wat spontaan begin het.

Die doel van die beweging was om ’n alternatiewe en substansiële musiekkultuur in Afrikaans te skep.

Tot in daardie stadium het Afrikaanse musiek meestal uit vertalings bestaan.

“Die groot klem (in die RSG-reeks) val op substansiële musiek,” sê Goosen.

“Die reeks is tot ’n mate kronologies, maar ons spring rond. Dit is nie noodwendig ’n weerspieëling van toe tot nou nie, maar eerder ’n holistiese oorsig op die vier dekades. Dis nie ’n geval van ek moet ietsie van almal speel nie. Dit wat gespeel word, is subjektiewe voorbeelde van substansiële musiek.”

Goosen wat saam met Lise Swart die program aanbied, het verskeie klankgrepe van oral gekry.

Sangers soos Laurika Rauch, Jannie du Toit, Mynie Grové – “wat almal by die ’79-ding betrokke was” – gesels in die reeks, asook mense wat in die tydperk direk daarna op die toneel verskyn het. Dit sluit in David Kramer, Amanda Strydom en Coenie de Villiers.

Deon Maas, Johan Badenhorst en Kerneels Breytenbach het ook bygedra.

“Tot en met (Karen) Zoid, en tot nou toe,” sê Goosen. “As ek reg onthou was Johan Badenhorst in ‘79 of ’80 tweede jaar op Tukkies en hy was joolvoorsitter. Kerneels was ’n resensent. Daar is wonderlike voice clips.”

Mynie Grové

Goosen verwys ook in die reeks na wat destyds in die media daaroor geskryf is.

Merwede van der Merwe het ’n televisiereeks Musiek en Liriek vervaardig waarop Goosen musiek-adviseur was. Vroeër is Stephan Bouwer se reeks Fyn net van die woord uitgesaai en ná Van der Merwe se reeks was Elke liedjie vertel ’n storie op die lug.

Jannie du Toit

“Merwede se reeks was die Rubicon, die keerpunt,” sê Goosen.

“Later is tydens ’n spontane bymekaarkom van verskeie rolspelers besluit om dit ook na die verhoog te neem en dis in die Laager (vandag die Mannie Manim) in die Markteater in Johannesburg opgevoer.

Later is dit landwyd opgevoer en daar is twee simposiums gehou.”

Daar was verdere musiekbewegings, soos Voëlvry en Houtstok.

“Daar is heelwat voorbeelde van wat oor die jare gekom het. Twee Musiek-en-liriek-plate is destyds uitgegee. Tertius Louw in Stellenbosch is ’n lopende ensiklopedie oor Suid-Afrikaanse musiek en hy het hierdie plate toe by ’n viniel-groep in Vanderbijlpark opgespoor.”

Volgens Goosen, steek verskillende bewegings in musiek voortdurend kop uit.

“And never the twain shall meet. Dit sal nooit suiwer wees en dit hoef ook nie te wees nie. In die geveg oor vertalings destyds is nie alles onder dieselfde besem by die deur uitgevee nie. Dis net ’n kwessie van daar moet ’n plekkie in die son vir substansiële musiek ook wees.”

* Musiek en Liriek 40 word Maandae om 21:10 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai.

Meer oor:  Rsg  |  Anton Goosen  |  Musiek  |  Radio
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.