Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Liedjieboer vier meer as 40 j. van musiek skep

Die liedjieboer Anton Goosen beskou sy nuwe album 40 jaar as ’n oorsig van sy trefferliedjies. Dit was ’n paar dekades waarin hy vir talle kunstenaars liedjies geskryf het en nou betrokke was by die Musiek en Liriek-beweging en so dan en wan met die sensuurraad paaie gekruis het. Dit was ’n opwindende paar dekades van musiek skep, het hy aan AJ Opperman gesê.

Die liedjieboer Anton Goosen is onlangs die duiwel genoem.

“Nou, dít is ’n eerste,” sê Goosen (73), wat onlangs die album 40 jaar: liedjieboer innie langpad, ’n keur uit sy musiek, uitgereik het.

“Ek kan nie onthou waar nie, maar ek het dit aanlyn gesien. Ek is al alles genoem behalwe die duiwel. Ek is baie trots daarop.”

40 jaar
Anton Goosen se eerste album ‘Boy van die suburbs’ is vanjaar 40 jaar gelede uitgereik. Foto: Estie Goosen

Dit was kommentaar op die musiekvideo van Goosen se jongste enkelsnit “Swart water”.

“Ons het die video met maskers gemaak na aanleiding van Martin Scorsese se dokumentêr oor Bob Dylan. Die band haal hul maskers aan die einde af en ek sit dan myne op. En daar is die liriek ‘onder draai die duiwel alte lekker rond’. Toe skryf iemand dit êrens aanlyn ék is die duiwel.”

40 jaar-album
Anton Goosen het in die 1970’s as liedjieskrywer en sanger naam gemaak.

Die liedjie handel oor ’n vloek op die plaas Boontjieskraal en die De Wet-familie.

“Dis die legende van Boontjieskraal, anderkant Caledon is die plaas en die Swartrivier. In die 1800’s het ’n reisiger vir ’n nag kom skuiling soek en die De Wets het nee gesê.

“Hy moes toe deur die rivier trek wat besig was om af te kom. Toe verdrink die perde, en sy vrou en kinders. Toe spreek hy ’n vloek oor die plaas uit dat elke eersgeborene nie ’n ryp ouderdom sal bereik nie. En so was dit. Ek vermoed mense gaan kwaad wees vir my.”

Goosen vertel stories met sy liedjies. Dit gaan vir hom oor waarneming.

40 jaar is ook ’n uitvloeisel van die RSG-musiekreeks Musiek en Liriek 40 wat Goosen vroeër vanjaar saam met Lise Swart aangebied het.

“Ek het besef die Musiek en Liriek-beweging is 40 jaar oud en ek het ’n paar songs van die vorige album uitgehou. En daar is die res.”

40 jaar-album
Anton Goosen met sy bekende rooiraambril. Foto: Estie Goosen

Dit is ook vanjaar 40 jaar sedert sy debuutalbum Boy van die suburbs uitgereik is.

Hy was reeds ’n paar jaar voor sy debuutalbum al bedrewe met liedjies skryf.

Hy is al as die Herman Charles Bosman van musiek beskryf.

“Is dit? Ja, ek hou daarvan, want ek hou van Herman Charles Bosman. Ek hou van hom soos wat ek van (die Amerikaanse skrywer) John Steinbeck hou.”

Goosen hou ook van poësie.

Hy noem digters soos Eugène Marais, Breyten Breytenbach, Ingrid Jonker en Dirk Opperman.

“Wie het ek uitgelos? Baie. Ek het baie uitgelos. Maar veral hulle.”

Die groot verlange, Leon Rousseau se biografie oor Marais, was vir Goosen ’n boek wat sy lewe verander het.

“Al Herman Charles Bosman se boeke was vir my life changing. Breyten Breytenbach, veral sy vroeë werk. En John Steinbeck was Engels. Bosman was Engels, maar daar is ’n deurlopende lyn van waarneming waarvan ek baie hou. Ek kan dink die Groot-Marico is seker vir hom baie kwaad. Dis seker hoe Gansbaai oor ’n paar jaar oor my gaan voel . . .” sê hy oor die Wes-Kaapse kusdorp waar hy woon.

Goosen sou graag met Marais wou gesels het.

“Die werk wat hy nagelaat het . . . wat ’n briljante mind.”

Goosen is in Middelburg in die Oos-Kaap gebore en hy wys met sy hand hy was vyf jaar oud toe hulle na Kroonstad in die Vrystaat verhuis het.

Hier het hy ’n man geken wat later in sy gewilde liedjie “Jantjie” sou neerslag vind. Dit is die liedjie wat die sangeres Sonja Herholdt opgemerk het nadat Goosen as vryskut joernalis vir Huisgenoot met haar ’n onderhoud gevoer het en hulle tydens 'n latere afspraak deur sy lirieke geblaai het.

“Jantjie was ’n Griekwa wat vir ons gewerk en vir my geleer melk het en geleer kitaar speel het en geleer rook het. Sy vrou se naam was Katryn wat ook in die liedjie voorkom. Sy kon blomme rangskik. Pragtig. Sy was ’n groot invloed op my kinderlewe. My ma het kerk gehou in die garage op die kleinhoewe. En ek het dit bygewoon en dis waar ek hierdie singing gehoor het.”

Hy onthou ’n opmerking deur Mark Henning, voormalige skoolhoof van St. Stithians College in Johannesburg waar Goosen skoolgehou het, oor “Jantjie”: “‘Anton, sometime you should get someone to sing that song.’ Hy was die voorsitter van die Transvaalse krieketklub, en vir ’n krieketspeler was dit nogal ’n cool comment.”

‘40 jaar’, ’n oorsigalbum deur Anton Goosen, is onlangs uitgereik.

40 jaar is ’n oorsig eerder as ’n grootste-treffers-oplaag.

“Dis nuwe goeters, en ander goed wat nie voorheen uitgereik is nie.”

Die album bevat die oorspronklike weergawe van die lied “Kruidjie-roer-my-nie” waarvan sommige lirieke destyds deur die regering verbied is. Dit is vir die rolprent Pretoria, o Pretoria! geskryf.

Goosen het die lirieke verander na hoe die liedjie in die volksmond bekend geword het.

Die liedjie “Boy van die suburbs” is ook deur die openbare uitsaaier verbied.

“Die kritiek was daar moenie gemengde taal in wees nie. Toe sê ek jy kan nie van ‘seun van die voorstede’ sing nie, dit het nie dieselfde invloed nie. Die lied is verbied en toe is dit weer ontban.

“Dana Snyman het gesê hy het in ’n motor gery toe die liedjie speel en sy pa het dit gekritiseer. Toe sê hy vir sy pa, maar dis oom so en so waaroor hy sing. Dis maar net die ding van waarneming.”

Anton Goosen
Anton Goosen het vir talle sangers liedjies geskryf.

Goosen tel die eksemplaar van die album op en bekyk die lys liedjies.

Dit sluit ’n rock-weergawe van “Boy van die suburbs”, “The Road” wat hy saam met wyle Piet Botha opgeneem het, die temalied uit die rolprent Die laaste tango en ’n rock-keurspel van “Harlekyn”, “Byeboerwa” en “Blommetjie gedenk aan my” in.Laasgenoemde staan bekend as die eerste Afrikaanse rockliedjie.

Die Liedjieboer reken die poprubrieke wat hy destyds vir Beeld geskryf het, was vir hom ’n goeie leerskool.

Hy het liedjies geskryf wat kunstenaars soos Herholdt, Laurika Rauch en Carike Keuzenkamp bekend gemaak het.

Hy het ’n produktiewe meer as vier dekades van liedjies skryf agter die blad.

John Leyden, stigter van die gewilde groep Mango Groove, het op ’n dag vir hom gesê: “You kicked open the door to our minds.”

Goosen het toevallig vir Leyden aan St. Stithians skoolgehou.

“En as ek ’n jaar langer aangebly het, sou ek vir Dave Matthews (van die Dave Matthews Band wat deesdae in Amerika woon) skoolgehou het. Dit sou eintlik nice op my CV gelyk het.”

Goosen klink nog nie uitgeskryf nie.

“Soms hoef daar nie ’n storie te wees nie, dit kan net catchy wees. Dit hoef nie ’n major storielyn te hê nie, maar ek hou meer van goed met substansie. Ek vind dit is afwesig in die meeste Afrikaanse musiek, maar ek kritiseer dit nie.

“Dit is ontvlugting, daar is genoeg misery daarbuite. Musiek as ’n vrolikheid is vir my eintlik goed, maar dit moenie ten alle koste gedoen word nie.”

Meer oor:  Rsg  |  Sabc  |  Anton Goosen  |  Gansbaai  |  Musiek  |  Musiek En Liriek  |  Sangers  |  Album
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.