Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Liedmakersgilde bevorder kunslied ‘@home’

Die Liedmakersgilde het met ’n nuwe projek, bekend as songmakers@home, begin om sy doel as “uitbouer van die kunslied” aanlyn voort te sit en na te jaag.

Albie van Schalkwyk Foto: Argief

Die gilde, wat reeds sedert 1984 die kunslied in Suid-Afrika bevorder, het in Februarie sy eerste van ses konserte vir die jaar aangebied, voordat die res van sy konsertprogram ook weens die pandemie afgestel is.

Volgens die pianis Albie van Schalkwyk, ook die gilde se artistieke direkteur, is daar ná die instelling van vlak 3 van die inperking “voelers uitgesteek na sangers” wat ’n alternatiewe projek met hom sou wou aanpak.

“Groot groepe sangers, soos ’n operageselskap of ’n koor, was steeds nie aangemoedig om bymekaar te kom nie, maar een sanger en een pianis was skielik ’n baie werkbare situasie, en sodra ons kon repeteer, het ons met die songmakers@home-beplanning begin,” sê hy.

“Die formaat het beteken dat ons veilig by my aan huis (in Kaapstad) kon repeteer en dat die opnames slegs een sanger, een pianis en een video-en-klankman op ’n keer sou betrek.”

Makudu Senaoana Foto: Manyatsa Monyamane

Die reeks, wat deur die Rupert-musiekstigting ondersteun word, bestaan uit agt episodes wat elk een sanger se liedkeuses in sekere kategorieë insluit, onder meer die Duitse kunslied, die nie-Duitse kunslied (enige Europese taal), die Engelse kunslied (Brittanje of Noord-Amerika), die Suid-Afrikaanse kunslied (in enige van die 11 tale), ’n liefdeslied, ’n vinnige of vrolike lied, ’n cross-over- of kabaret-geïnspireerde lied, en ’n lied wat die inperking weerspieël.

Elke episode sluit ook ’n gesprek in oor aspekte wat belangrik is vir die sanger, pianis, kunsliedonderwyser en gehoorlid.

“Dit was nooit as ’n konsertreeks gesien nie, aangesien dit vir my belangrik was dat kykers sonder enige tierlantyntjies van kamerawerk, statige Ou Kaapse-huise of die opgewondenheid van ’n lewendige konsert iets meer oor die kunslied in hul eie huis kon ervaar – meer soos ’n lekker boek wat inlig, verander en vermaak as net ’n stuk visuele vermaak, en een wat ’n mens in die veilige, gesonde en tydbeheerde ruimte van jou eie huis kan geniet,” sê Van Schalkwyk.

“Hierdie is veral belangrik aangesien baie mense nie kans sien vir wat hulle verkeerdelik vermoed ’n intimiderende, ure lange uitvoering gaan wees waar hulle nie sal verstaan wat aangaan nie.”

Violina Anguelov Foto: Verskaf
Dónal Slemon Foto: Verskaf

Só vervul die gilde nie net sy doel as konsertaanbieder nie, maar ook as ’n organisasie wat die kunslied bevorder, sê hy.

“Dit was vir my duidelik dat ’n elektroniese ‘waardering van die kunslied en wat dit kan doen en nie doen nie’ interessant sal wees vir mense wat reeds daarna luister, maar ook vir mense wat nie gewoonlik na formele uitvoerings gaan nie. Dit is ’n opvoedingsgeleentheid, verkieslik nie in die sin van akademiese lesings oor hoe slim alles is nie, maar gemaklike uitvoerings deur vriende om te wys hoe mooi kunsliedere is en hoe min daar is om voor bang te wees.

“Ons verwag dat daar aanvanklik net ondersteuners van die kunslied na die programme sal kyk, maar hulle sal hopelik ander mense aanmoedig om te kyk. Die idee is om hierdie programme volgende jaar in ’n nuwe gedaante beskikbaar te stel, en dalk sal skole en ander opleidingsinstansies dit wil sien en idees gee vir verdere programme wat om die kunslied draai.

“Die idee is ook dat ’n voortsetting van hierdie soort elektroniese huisaanbiedinge as ondersteunende tak van die Liedmakersgilde se formele konserte in Erin Hall, Rondebosch, sou funksioneer.”

Die mezzosoprane Minette du Toit-Pearce en Lente Louw was onderskeidelik in episode een en twee, wat reeds aanlyn uitgereik is, te sien. Die res van die songmakers@home-skedule lyk so:

  • 7 Oktober: Makudu Senaoana (tenoor)
  • 21 Oktober: Dónal Slemon (basbariton)
  • 4 November: Janel Speelman (sopraan)
  • 18 November: Violina Anguelov (mezzosopraan)
  • 2 Desember: Barend van der Westhuizen (bariton)
  • 16 Desember: Louise Howlett (sopraan)

Elke episode is vir twee weke van 20:00 op die betrokke dag aanlyn beskikbaar. Kaartjies kos R60 en kan by Quicket bespreek word. Besoek https://www.facebook.com/TheSongmakersGuild/ vir meer inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.