Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Lize Beekman duik stil-stil op met konserte in die Vrystaat

Ná sowat sewe jaar se stilswye het die liedjies weer vir Lize Beekman begin opdaag.

Met die dood van haar sielsmaat, Annake de Villiers, sewe jaar gelede, en die trauma wat daarmee saamgegaan het, het Beekman se wêreld eers klein geraak.

Lize Beekman

“Dit was soos ’n stormwind wat opgekom het in my lewe, my bene onder my uitgeslaan het en my in die lug opgegooi het. Ek het die afsondering en stilte nodig gehad, en daarmee saam was musiek vir baie lank vir my ontoeganklik,” verduidelik sy.

“In alle eerlikheid was ek lanklaas op enige plek, buiten ’n vertoning so hier en daar in my onmiddellike omgewing.”

Maar die afgelope twee maande voel sy weer die aarde onder haar voete en musiek kom draai weer in haar binneste.

“Ek sit geleidelik weer my voete by die deur uit en kry weer die ruimtes waar ek vreugde en vrede ervaar. So dis tyd . . .”

Buiten vir ’n paar opdragwerke wat Beekman die afgelope paar jaar gevra is om te skryf en komponeer, was haar skryfpen stil. Maar die afgelope twee maande het die liedjies egter weer begin opdaag en sien sy uit om ook ’n nuwe liedjie met mense in die Vrystaat te deel, waar sy vandeesmaand ’n klein toertjie aanpak met wat sy pop-up-konserte noem.

“Ek het vir lank nie baie opgetree nie, maar ek vind geleidelik weer my voete en my pad tot op ’n verhoog.”

Sy sê haar konserttoer deur die Vrystaat is met “ongewone omstandighede” omdat dit ’n manier van doen is wat sy nog nie voorheen probeer het nie.

“Dit is nie ’n formele musieklokaal nie, ek ry my eie klankstelsel saam, stel dit self op, daar is geen fancy beligting nie, en dis ’n intieme gestroopte vertoning met net ek en my kitaar en geen ander musikante nie. Ek kry soveel mooi skrywes van mense wat hou van my musiek en vra wanneer ek weer in hulle omgewing kom sing, en as hierdie manier van doen ’n sukses is, beteken dit dat ek gereelder sal kan sing vir dié wat graag wil luister.”

Tans het sy nog geen spesifieke planne rondom haar musiekloopbaan nie. “Ek beweeg ’n dag op ’n slag en kry vreugde in wat hierdie dag bring. Soms is dit my visuele kuns, soms is dit musiek, soms is dit kosmaak vir mense, soms is dit iets van alles!”

Oor ’n beplande nuwe album sê Beekman nog min.

“Die nuwe liedjies begin weer nader staan, so, wie weet, dalk is daar in die toekoms weer ’n nuwe CD. Ek hoop so. Tyd sal leer.”

Beekman se Vrystaatse reisprogram

  • 11 November in die Rachel Steyn-saal, die Hoër Meisieskool Oranje, Bloemfontein. Kaartjies kos R150. Bespreek deur info@lizebeekman.co.za (slegs tien kaartjies oor).
  • 13 November om 09:30 by die Bass Feather Lodge in Reitz saam met die kokkedoor Madelein Roets. Kaartjies kos R120. Bel Elmarie by 082 787 6163.
  • 13 November om 20:30 in die kapel van DeTuinen in Rosendal. Dit word voorafgegaan vanaf 19:00 deur ’n heerlike Griekse straatkos-langtafel in die tuin. Kaartjies kos R150 vir die konsert en R100 vir die ete. Bel Bonnie by 083 417 8427.
  • 14 November om 18:30 by die Naudé-saal in Kroonstad ten bate van die Presidentia-jeugsorgsentrum. Kaartjies kos R150. Skakel Watt’s by 056 212 3341 of Eagle Computers by 056 212 9924.
Meer oor:  Lize Beekman  |  Bloemfontein  |  Musiekkonsert  |  Musiek  |  Vrystaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.