Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
‘Lockdown Diary’ laat kontrabas na vore tree
Jan-Hendrik HarleyFoto: Verskaf

Al die werke wat die komponis en altviolis Jan-Hendrik Harley vir die konsert A Lockdown Diary óf nuut geskep óf verwerk het, deel hy met net een ander musikus, sy vrou, die kontrabasspesialis Mariechen Meyer.

Dit sal die eerste keer wees dat die Stellenbosse egpaar sonder medespelers optree, hoewel hulle al van 2009 af gereeld saam op verhoë verskyn.

Dié Yellowwood String Duo is deel van die 20/20 Entertainment in Containment-reeks wat Magdalene Minnaar vroeg in die inperkingstyd geskep het as ’n optreeplatform om vir kunstenaars ’n inkomste te bied.

Harley sê sy komposisies vir die program plaas die kontrabas sterker op die voorgrond as wat dikwels die geval is.

“Die kontrabas sal telkens die melodie speel terwyl die altviool of mandolien, wat ek speel, die begeleiding verskaf. Die rolle is nie so duidelik afgebaken nie; uit ’n musikale oogpunt is dit eerder ’n kwessie van gee en neem.”

Harley stel hierin ook sy fotografievaardighede ten toon met meestal natuurfoto’s wat hy, saam met die musiek, aan die kunstenaar Dedré Fouquet gegee het om as inspirasie vir haar lynsketse te dien.

Die digitaal geïntegreerde produk sal die luisteraar visueel en ouditief op verbeeldingsreise neem.

Mariechen MeyerFoto: Verskaf

Werke wat Harley vir die konsert verwerk het, is JS Bach se “Komm, Süsser Tod” vir solo-altviool, Courante uit Bach se eerste Tjellosuite vir mandolien en kontrabas, en Chorale Reflection op Bach se “Wachet auf, ruft uns die Stimme” vir vier kontrabasse op ’n skerm wat in vier verdeel is.

Harley se eie komposisies, albei splinternuut en vir altviool en kontrabas, is Finding Hope en Seeking Adventure.

Die veelsydige musikus het ’n MMus in komposisie en kamermusiek aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en ’n MMus in altviooluitvoering en vroeë musiek aan die Universiteit van Noord-Texas in Amerika. Hy is ’n ad hoc-speler vir die Kaapstadse Filharmoniese Orkes en die stigter van die ensemble Here Be Dragons.

Een van sy nuutste projekte is die skep van komposisies in die 17de eeuse volksliedstyl. Dié musiek kan as ’n (Kers)geskenk aan ’n spesiale persoon gegee word of wat ook al die behoefte is. Harley werk in elke komposisie die opdraggewer of ontvanger se naam in die liriek of as kantnota in, wat dit persoonlik en ekstra spesiaal maak.

Meyer het haar musiekstudies by Peter Guy in Bloemfontein begin, dit onder Roxane Steffen aan die Universiteit Stellenbosch voortgesit en is toe na die Universiteit van Noord-Texas, waar sy ’n doktorsgraad verwerf het.

Sy is tans ’n deeltydse dosent aan die US, gee privaat les, tree as ’n vryskutmusikus op en is ’n ad hoc-lid van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes.

Kaartjies vir A Lockdown Diary kos R80 by Quicket en is nog tot 26 November beskikbaar.

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.