Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Loock verstom oor Akademieprys
Hennie Loock, eertydse dirigent van die Tygerberg Kinderkoor, word deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer met die Huberte Rupert-prys vir klassieke musiek.

Hennie Loock, wat 46 jaar die dirigent van die gevierde Tygerberg Kinderkoor was, is pas deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer met die Huberte Rupertprys vir klassieke musiek.

Loock was sprakeloos; hy het die eerste keer van die verering gehoor toe Netwerk24 hom bel om kommentaar.

“Ek weet niks hiervan nie, dit is ’n verskriklike eer. Dit is lekker om só vereer te word. Ek is mos nou op die agtergrond en het al lankal oorgegee aan Karina (Erasmus). Nie gedink sulke goed sal nog met my gebeur nie. Ek is maar besig met my kinders, kleinkinders en om die huis reg te pak,” het Loock gesê vanuit sy huis in Kuilsrivier naby Kaapstad.

“Dit sal later insink, maar ek is nie alleen nie. Die koor verdien ook die eer, en Theresa, my oorlede vrou. Ek sou dit so graag met haar wou deel, sy was altyd my steunpilaar, die eer kom haar toe,” het Loock gesê.

Theresa is in 2018 aan kanker oorlede. Hy het in die jaar ook as dirigent van die koor uitgetree. Die koor het dubbelgoud gewen by twee Wêreldkoorspele: in 2010 in Shaoxing in China en in 2018 in Tshwane. Loock word beskou as een van die beste kinderkoordirigente van alle tye.

Die koor word tans as die beste kinderkoor in die wêreld beskou. Dit pryk ook in die vierde plek op die lys van die duisend beste kore in die wêreld, soos saamgestel deur die Interkultur-organisasie van Duitsland. (Die Universiteitskoor van Stellenbosch beklee tans die eerste plek.) Die koor word dan ook met reg beskou as die maatstaf vir kinderkore wêreldwyd, sê die Akademie.

Die Loock-egpaar was sedert die begin van die Tygerberg Kinderkoor by die koor betrokke, hy as dirigent en sy as begeleier en verwerker. Hulle het die koor saam begin en deur die jare gelei tot een van die beste kinderkore ter wêreld. Meer as 3 000 koorlede is deur die paartjie opgelei en die koor spog met talle plaaslike en internasionale prestasies.

Loock se bydrae tot klassieke musiek, nasionaal en internasionaal, is onberekenbaar, luidens die Akademie se persverklaring.

“Ek het nooit vir pryse en eerbewyse gewerk nie, maar vir die liefde van musiek en die kinders,” het Loock gesê.

Die prysgeld word deur die Rupert-stigting geborg.

Die pryse word later vanjaar op ’n virtuele geleentheid aan die wenners oorhandig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.