Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Loring se ‘African Footprint’ in Dubai te sien

Ná ’n oproep "uit die bloute" is Richard Loring se gewilde dansproduksie African Footprint in Dubai op die planke.

En tydens dié verkorte weergawe van die produksie wat Afrika se veelsydigheid met Afrika- en Eurosentriese klanke vier, het Loring al navrae ontvang om dit in drie lande in 2020 op te voer.

“Dit is almal mense wat die speelvak in Dubai bygewoon het,” sê Loring, wat Donderdag van Dubai teruggekeer het.

Dubai
Richard Loring en die medevaardiger Debbie Batzofin saam met die dansers van ‘African Footprint’.

“Daar is belangstelling om dit in Atlanta (in die Amerikaanse deelstaat Georgia) in Swartgeskiedenismaand op te voer. Dan is daar ook belangstelling uit Las Vegas en Nieu-Seeland.

“Dit is ongelooflik hoe die besoekers aan die Global Village by die produksie aanklank vind. ’n Mens kon die opwinding daar aanvoel. Die Village kry daaglike duisende besoekers.”

Hulle moes die duur van die produksie na ongeveer ’n halfuur verkort, maar dit word tot 30 Desember drie keer per dag opgevoer.

Dit beeld uit die hartstog, energie en drome van Suid-Afrika se inwoners van die antieke tye tot vandag.

“Ek het inspirasie geput uit die Soweto van die 1970’s en 1980’s. Met die gumboots delf ons in die myngeskiedenis van Suid-Afrika.”

Dit sluit in ander style soos die kwêla-jive en hip-hop.

African Footprint, wat deur die Australiese produksie Tap Dogs geïnspireer is, is byna 20 jaar gelede die eerste keer opgevoer.

“Drie dele uit die produksie is die heel eerste keer in die millennium-konsert op Robbeneiland opgevoer. Daarna is die Globe-teater by Gold Reef City spesiaal gebou sodat ons die volledige produksie daar kon opvoer.”

Oudpres. Thabo Mbeki was een van die gaste met die openingsvertoning in Mei 2000.

“Die produksie het ’n lang speelvak gehad. Die teater het sowat 300 sitplekke gehad. Dis waarom dit so ’n lang tyd opgevoer is.”

Dit is intussen dikwels in die buiteland opgevoer.

“Daar is van die spelers wat nou in ons produksie dans wat tydens die oorspronklike speelvak seker vyf of ses jaar oud was.”

African Footprint het onder meer Naledi-teaterpryse vir beste choreografie en beste musiekspel ontvang.

“Ek wil dit baie graag weer in Suid-Afrika opvoer. Die hoop beskaam nie.”

Meer oor:  Dubai  |  Dans  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.