Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Lucinda Williams tier en dryf die duiwels uit

Lucinda Williams tier harder as ooit teen die slopers van liggaam en siel op haar jongste album. Danie Marais het geluister.

Lucinda Williams se ‘Good Souls Better Angels’

Levinia, ons 17-jarige kat, het genoeg gehad. Sy miaau nie meer nie, sy krys nou – skor, gebiedend en verontwaardig wanneer sy soggens haar water, dadelik, uit ’n lopende kraan wil hê.

Die 67-jarige Lucinda Williams se jongste, Good Souls Better Angels, klink of dit ewe rou en dringend uit emosionele noodsaak gebore is. Williams, met haar kenmerkende “Southern drawl”, het nog altyd gruispad, hardekwas en doringdraad in haar stem gehad – die titel van haar moontlik beste plaat is nie verniet Car Wheels on a Gravel Road (1998) nie. Maar harder as op Good Souls, haar 14de ateljee-album, het sy nog nooit ten hemele teen die slopers van liggaam en gees getier nie.

Dis blues-rock, maar nie die voorspelbaar gemoedelike, “oh yeah!”-twelve-bar-tipe waarvan die wêreld dekades gelede reeds ’n oordosis gehad het nie. Dis bebliksemde, intens persoonlike duiweluitdrywery dié.

Williams laat Buick 6, haar gesoute band, soos ’n trop swart honde saam met haar gewapende woorde los. Robert Johnson, Black Sabbath, Memphis Minnie en Iggy and the Stooges ontmoet wanneer Williams se gewonde stem in Stuart Mathis se grommende kitaar weergalm.

Wanneer sy “Pray the Devil Back to Hell” sing, twyfel jy vir geen oomblik dat sy die aangewese vrou vir hierdie onbenydenswaardige taak is nie.

“I’m sinking lower and lower / Down past the bottom where the devil won’t go” getuig sy in die opruiende “Down Past the Bottom” en jy weet: Sy was dáár, maar sy het oorwin.

Met die outobiografiese “Wakin’ Up” breek sy finaal los uit ’n giftige verhouding waarin sy fisiek en emosioneel verrinneweer is. Dis dalk die brutaalste musikale afrekening met ’n eks sedert Marianne Faithfull se bloedstollende “Why’d Ya Do It?” op Broken English (1979).

Good Souls bevat ook van die mees regstreekse politieke protes van Williams se loopbaan. In ’n onderhoud hieroor met The Guardian sê sy daar was nog altyd in Amerika rede om te rebelleer en kwaad te wees, maar sy het nog nooit in haar lewe iets soos pres. Donald Trump beleef nie. Rassisme en onverdraagsaamheid is deel van die Amerikaanse psige, maar volgens haar het Trump die deksel wat op daardie heksebrousel was, gelig en baie mense weer laat glo hulle het die reg om te haat en hul gewere te loop haal.

In die Trump-gerigte “Man Without a Soul” verklaar sy met die oortuiging van ’n waarsêer: “You bring nothing good to this world / Beyond a web of cheating and stealing / You hide behind your wall of lies / But it’s coming down.”

Daar is stadiger, stiller elegieë soos “When the Way Gets Dark” en “Shadows and Doubts” wat oor die opneuker-rocker Ryan Adams geskryf is.

In “Big Black Train” bely sy kinderlike angs met ’n sidderende country-twang en tref ’n ou metafoor jou soos koue koors en ’n nare voorbode op ’n eensaam perron: “I can hear it comin’ on down the track / And I don’t wanna get onboard […] That big black train.”

Maar dis die waaragtige woede waarvan hierdie plaat getuig wat dit uiteindelik meer van ’n regmaker as ’n gemoedsdemper maak. Die meesal medelydende Williams looi hier leer en swaai haar verontwaardiging soos ’n byl. Sy ruim op soos Clint Eastwood in ’n Western.

Wanneer sy Trump en al wat ’n kansvatter is, laat verstaan “You can’t take my money and try to rule me too”, voel jy weerbaar en minder uitgelewer. Genoeg is regtig genoeg.

Topsnitte:

  • “You Can’t Rule Me”
  • “Man Without a Soul”
  • “Big Black Train”
  • “Wakin’ Up”
  • “Shadows and Doubts”
  • “Down Past the Bottom”
Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.