Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Lucy droomverlore saam met Lost Boys
Lucy Kruger Foto: Calvin Siderfin

Lucy Kruger is jonk en vars en nuut, en haar groep Lucy Kruger & The Lost Boys is iets waarna ’n mens gerus kan luister. Sy beantwoord ’n paar vanTerésa Coetzee se vrae.

Vertel ons van jouself.

Ek bly in Gardens in Kaapstad saam met ’n goeie vriendin, Mia. Dis aan haar te danke dat ons huis altyd vol plante en pragtige musiek is. Ek is ’n heeltydse musikant.

Is Lucy Kruger & The Lost Boys se Summer Is Not That Simple jul eerste album?

Ek het my eerste album opgeneem toe ek in 2012 klaargemaak het by die universiteit – die album se titel was Cut ­Those Strings en is deur die bekende musikant Schalk Joubert vervaardig. Dit het ’n klomp fantastiese Kaapstadse musikante ingesluit en was ’n baie realistiese leerkurwe vir my.

Nadat ek Cut Those Strings uitgebring het, het ek ook begin om my eie band aanmekaar te sit, wat toe uiteindelik The Lost Boys geraak het.

Sedertien het ek al ’n hele paar albums opgeneem met betrekking tot verskillende projekte. Met my ander projek, ­Medicine Boy, het ons ons eerste vollengte album Kinda Like Electricity in Mei verlede jaar vrygestel.

Wie is The Lost Boys?

The Lost Boys is Andre Leo, Lucas Swart, Calvin Siderfin en Werner von Waltsleben. Hulle is my musikale familie en ook my beste vriende en ek is net so verlore soos hulle. Maar ons struikel saam op ons paadjie en ek dink dis nogal wonderlik.

Voordat ek Kaap toe getrek het in 2012, het ek nog nooit saam met ’n band gespeel nie. Toe ek in die Kaap aankom, het ek kontak gemaak met Lucas deur sy pa, wat ’n goeie familievriend van ons is.

Lucas was gaaf genoeg om my geselskap te hou, as ’n vriend en as ’n kitaarspeler terwyl ek besig was om sin te maak van dinge. Stadig maar seker het ons sirkel uitgebrei en toe onbreekbaar geword.

Vertel ons meer oor die album.

Ek het die liedjies geskryf en vir The Lost Boys gegee om in te kleur. Die meeste van die liedjies was geskryf in ’n stil spaar­kamer in my huis in Gardens; die liedjies gaan baie oor ek wat probeer om in aanraking te kom met my natuurlike instink. Ek het ’n gevoel gehad dat ek wil oopbars, maar ek was nie heeltemal seker hoe nie. Die liedjies was ’n manier vir my om stadig oop te maak en ek hoop dat die album dieselfde uitwerking het op mense wat dit luister.

Jy tree dikwels by die groot feeste op. Wat verkies jy, klein intieme konserte of groter konserte?

Ek dink albei is baie belangrik vir die musiek, vir die musikant en die gehoor. As jy gesels met klomp verskillende mense, ontdek jy dikwels nuwe aspekte van jouself. Dis dieselfde as ’n mens vir verskillende gehore jou musiek speel en dan toe te laat dat die musiek groei, verander, lewendig raak en verskillende dele van hulself wys.

Na watter musiek luister jy nou?

Ek luister na baie vroulike kunstenaars op die oomblik en ek het heeltemal verlief geraak op Marika Hackman se nuwe album, I’m Not Your Man, sowel as Big Thief se Capacity.

Wat is jou persoonlike klerestyl?

Ek het ’n baie simplistiese styl en dit beteken die meeste van die tyd swart, dis net makliker vir my so. Ek probeer wel my gedagtes kleurvol hou. Ek is mal daaroor om klere te “steel” by familie en vriende, want dit laat my na aan hulle voel as ek hul klere dra, asof ek ’n stukkie van hulle by my dra.

Wat weet mense nié van jou nie?

Ek is ’n baie private mens, maar my lirieke is baie persoonlik. Al my geheime is binne my woorde wat ek sing.

Wat doen jy om die Kaapse winterkoue te oorleef?

Ek is totaal en al verlief op winter. Ek drink duisende ­koppies tee en luister na ­dromerige musiek, lees baie boeke en skryf.

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.