Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
LUISTER: Begin jou week met 10 nuwe enkelsnitte!

’n Dokter, ’n operasanger en ’n ouditeur is onder die tien kunstenaars wat almal onlangs nuwe enkelsnitte uitgereik het. Christiaan Boonzaier vat hier al dié nuwe musiek saam.

Cindy-Louise, wat na Nederland verhuis het om haar operastudies daar voort te sit, het kort ná die uitreiking van haar Kerstreffer “A Different Little Christmas” nog ’n enkelsnit uitgereik.

“Make It Out Here Alive” is die eerste enkelsnit op haar nuwe album, Humanity, wat op 21 Maart uitgereik word.

Sy sê in ’n mediaverklaring die liedjie gaan oor “die tye wat jy voel dat jy nêrens inpas nie”. Dit word deur die oë van ’n hoërskoolkind vertel wat geboelie word, en dit is gegrond op Cindy-Louise se eie ervaring.

“Hierdie enkelsnit is my boodskap aan die wêreld dat die lewe vol goeie en slegte herinneringe is – dit is wat ons maak wie ons is. Soms is die sterkste ding wat jy kan doen om jou swakhede met ander te deel.”

• Nadat Corné Pretorius verlede jaar met die liedjies “Vuur en vlam”, “Vergewe my” en “Halfvol” gedebuteer het, het hy die enkelsnit “Biertjies” die lig laat sien en al vier liedjies op ’n kortalbum uitgereik.

Pretorius span op “Biertjies” kragte saam met Die Heuwels Fantasties en Ampie, en sê in ’n mediaverklaring die tyd was reg om nou “sommer net ’n lekker ligte liedjie” te maak.

“Daar is tans baie stres in die wêreld; ons kan almal doen met ’n bietjie pret en plesier.

“Dit is nou vir my ’n groot eer en next level om ‘Biertjies’ saam met Die Heuwels Fantasties en Ampie te kon doen.”

Die musiekvideo bestaan uit opnames van al dié musikante wat in Stellenbosch tussendeur die opname van die liedjie gebraai en met hul families gekuier het.

• Verhoudings wat wipplank ry en paartjies wat mekaar soms goed die harnas injaag is die onderwerpe in Pierre Nel se liedjie “Collide”.

Nel, ’n gekwalifiseerde dokter wat neffens sy musiekloopbaan in oogkunde wil spesialiseer, het pas ’n akoestiese weergawe van die liedjie saam met ’n musiekvideo uitgereik.

“Die liedjie lê my baie na aan die hart en ek is so dankbaar vir hoe luisteraars die eerste weergawe van ‘Collide’ ontvang het,” sê hy in ’n mediaverklaring.

“Ek wou dié keer iets spesiaals doen en die rou emosie vasvang wat ek die eerste keer gehoor het toe ek die liedjie klaar geskryf het.”

• Hoewel hy in sy jongste enkelsnit, “Babbelas blues”, sing dat hy “vandag met ’n ligte babbelas blues sit”, belowe Pierre van Schalkwyk dat hy die nuwe jaar “sonder ’n druppel oor die lippe ingewy” het.

Van Schalkwyk, wat verlede jaar met Studentejare gedebuteer het, sing nostalgies op die liedjie oor studenteliefde-verhoudings wat skeefloop.

“Die meeste mense het seker al ’n babbelas gehad, maar ’n babbelas blues is na my mening wanneer jy drink om van die pyn van ’n verlore liefde te vergeet,” sê hy in ’n mediaverklaring.

“As ’n student is dáárdie liefdespyn soveel erger. Elke keer wanneer jy verlief raak, dink jy dit is die een, en wanneer die verhouding – dalk te vinnig – tot ’n einde kom, bied dit die verskoning om jou sorge te verdrink.”

• Groot name het ’n hand in Rita Li se nuwe enkelsnit, “Iemand anders”: Nie net het Dewald Wasserfall saam met Danny Smoke die liedjie geskryf nie, maar die akteur Marno van der Merwe vertolk teenoor Li ’n karakter in die musiekvideo.

Die liedjie handel luidens ’n mediaverklaring oor ’n liefdesdriehoek, ook volgens Li “op die oomblikke wanneer ons in ons gedagtewêreld dink iets of iemand anders is beter as wat ons tans het.

“Ons droom en fantaseer daaroor, maar die besluit lê in jou eie hande; stap jy in hierdie driehoek in of stap jy weg? Die karakters stap in die straat verby mekaar en hul oë ontmoet. Dan wonder en fantaseer elkeen oor die moontlikhede van ’n verhouding.

“Op die ou einde stap hulle net verby mekaar en dis verby voordat dit begin het.”

“Iemand anders” is die eerste enkelsnit op die album Roekeloos verlief, wat op 9 April uitgereik word.

• Ook Zebraman het nog ’n nuwe enkelsnit, getiteld “Radio Romeo”, uitgereik. Luidens ’n mediaverklaring is dit die vierstuks van Potchefstroom se eerste “nostalgiese aanbieding” ná hul 2020-debuutalbum, Zebraman.

“ ‘Radio Romeo’ is tot ’n mate musikaal en liries ons uitdagendste aanbieding tot nog toe,” sê Johan Viljoen, die groep se hoofsanger.

“Soos ons as ’n band groei, so ontwikkel ons musikale en skryfstyl tot iets wat ’n bietjie meer ingewikkeld en opbouend as ons vorige enkelsnitte is.”

Stefan Jansen het met die musiekvideo van sy eerste enkelsnit, “Verdienste en genade”, ’n ander rigting ingeslaan: Hy het GoPro-kameras in sy ateljee opgestel en die kameras laat rol. Dít wat opgevang is, is in die musiekvideo se eindproduk gebruik.

“Hierdie is nie ’n mooi-lyk-video nie, hierdie is ’n video om my aanhangers deel te maak van die kreatiewe proses in die studio,” sê hy in ’n mediaverklaring.

“Omdat dit wys hoe alles gebeur het, kan ’n mens die optrede en emosie van die song selfs meer voel.”

Marichelle se debuut-popsnit, “You and Me”, is deur niemand anders nie as Faraway George geskryf, wat in 2018 op die Via-reeks Die kontrak naam gemaak het.

Hoewel die liedjie klink soos ’n liefdesliedjie, illustreer die musiekvideo die liefde en spesiale band tussen mens en dier – of in die geval van die video, Marichelle en ’n perd!

Dít gee luisteraars die kans om die liedjie op ’n ander manier te interpreteer, sê sy in ’n mediaverklaring.

• Die opkomende sanger PietFrik, wat heeltyds ouditeur is, het sy eerste enkelsnit, “Dis net jy”, as trougeskenk aan sy vriende opgedra. Dít sê baie van wie hy as liedjieskrywer wil wees, sê hy in ’n mediaverklaring.

“Ek skryf nie net om ’n liedjie te skryf nie. Ek skryf vir oomblikke. Ek wil graag hê dat mense na my liedjies moet luister om spesiale oomblikke te onthou. Ek voel musiek het tog so ’n gawe om ’n herinnering op te bring.”

Die liedjie handel oor verskillende aspekte van ’n liefdesverhaal, sê hy.

“Die troudag, saam oud word, die struikelblokke, die lesse wat jy saam as ’n paartjie leer. Maak nie saak in watter storm jy jouself bevind nie, jy sal altyd die liefde van jou lewensmaat hê – saam met God natuurlik!”

• Die Centurion-sangeres Zahn het luidens ’n mediaverklaring ’n “Lindt-sjokolade stem; sy is nie eksie-perfeksie Hollywood nie en daardie glimlag kan ’n ysman laat smelt”.

Sy bewys dit glo met haar derde enkelsnit, “ ’n Hart weer heelmaak”, wat ook volgens die verklaring “haar ryk stem so goed soos die Cat Woman se lyfpakkie” pas.

Die liedjie gaan oor ’n kunstenaar wat besef dat lirieke en musiek mense kan help om hul gebroke harte weer gesond en heel te maak.

“Toe ek vir die eerste keer na die liedjie geluister het, was dit asof Joshua (Oosthuizen) dit net vir my geskryf het,” sê sy.

“Dit was asof my lewe verby my geflits het. Ek het besluit dat ek nooit weer my talente onder ’n maatemmer moet wegsteek nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.