Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
LUISTER: Begin jou week met dié nuwe musiek

Die sangers Dozi, Refentse en die duo John James het almal onlangs nuwe enkelsnitte uitgereik om die winter te groet en die lente in te lui.

Die liedjie “Ek wil vir jou sê” is die tweede enkelsnit op Dozi se jongste album, Vrede – die 19de op sy kerfstok!

“Die liedjie is gedurende die inperking deur Stef Kruger geskryf,” sê Dozi in ’n mediaverklaring.

“Dit handel oor ’n persoon wat op toer of weg van die huis af is, en dan terugkeer na sy geliefde toe.

“As gevolg van die afwesigheid word daar baie druk op ’n verhouding geplaas. Die liedjie is vir my baie spesiaal, want dit het ontstaan toe ek deur presies dieselfde omstandighede en emosies gegaan het.”

Die liedjie is een van 12 op Vrede, wat bestaan uit “dieper dinkmusiek” en ’n paar dansnommertjies waarvoor Dozi so geliefd is.

“Die rede hoekom ek musiek skryf, is om iets in die wêreld beter te maak,” sê hy.

“Musikante is dissipels van die wêreld en dis hul werk om mense se siele gelukkig te maak. As jy ongelukkig is en jy luister na die regte musiek, dan voel jy beter.”

Die album is reeds op alle digitale platforms beskikbaar.

* Ná albums soos My hart bly in ’n taal (2016), Deur my venster (2017) en Liefdegenerasie (2018) gaan Refentse sy jongste album, Wandel in my woning, op 9 Oktober bekend stel.

Die sanger het sy aanhangers met ’n voorsmakie trakteer en reeds die enkelsnit “Stormnag” uitgereik.

Dit is volgens ’n mediaverklaring een van 11 snitte op sy nuwe album, wat “die liefde vier, gemeenskaplike grond verken, die goeie in die lewe geniet, stereotipes konfronteer en die soektog na dit wat dieper en hoër as onsself is met ’n treffende broosheid en egtheid in woord en melodie vaslê”.

* Daar is g’n keer aan die sang-en-rap-duo John James nie. Nadat die groep – wat bestaan uit Chris Delport en James Janse van Rensburg – verlede jaar by die Krone 6-konsert gedebuteer het, het hulle al hoe meer aandag begin trek met enkelsnitte soos “Ek is meer werd”, “Nintendo” en “Gedislokeerde hart”.

Nou is hulle terug met nog ’n enkelsnit, “Almal saam alleen”, wat volgens ’n mediaverklaring ’n “kragtige boodskap van hoop en eenheid” het. Dit is geïnspireer deur die staat van inperking en roer spesifiek eensaamheid aan, wat talle mense weens die inperking ervaar het.

“Dit het duidelik geword hoe belangrik menslike interaksie vir die psige is en hoe maklik ’n mens weens finansiële en emosionele druk, wat die grendelstaat op ’n mens plaas, in ’n depressie kan verval,” lui ’n mediaverklaring oor die liedjie.

“Dit is wel die een ding wat almal gemeen het en sommige steeds het – eensaamheid. Maar in almal se gesamentlike eensaamheid is daar ook ’n sekere troos om te weet dat jy nie alleen eensaam is nie.”

“Almal saam alleen” is reeds uitgereik en op alle digitale platforms beskikbaar.

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

Meer oor:  Musiek  |  Refentse  |  Dozi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.