Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
LUISTER: Elandré, Brendan en kie se nuwe liedjies

Nuwe enkelsnitte deur plaaslike sangers stroom elke week by die dosyne in. Christiaan Boonzaier vat hier tien van dié nuwe liedjies saam.

• Die Afrikaanse musiekgogga het die jongeling Ché beslis gebyt. Nadat sy verlede jaar “Ek like hoe jy dans”, haar eerste Afrikaanse enkelsnit, saam met Snotkop uitgereik het, het “Vergeet” pas verskyn.

Ché het aan Hendrik Spangenberg in ’n regstreekse onderhoud op Facebook gesê dat sy die liedjie saam met Stephan van Huyssteen geskryf het. Die idee vir die liedjie het gespruit uit ’n gesprek wat hulle gehad het oor hul verlede en waardeur hulle die afgelope paar maande is.

“Ek is ongelukkig deur ’n heartbreak – dis oukei, almal gaan deur hulle – en toe het ons besluit ons wil ’n liedjie skryf uit verskillende mense se oogpunt,” sê Ché.

’n Musiekvideo is ook uitgereik, en as jy gedink het Ché kan net sing, moet jy in dié video sien hoe sy draai en swaai!

Jako Meyer het die laaste enkelsnit op sy debuutalbum, Middernag kantoor, uitgereik. Op “Daar wil ek wees” span hy met Deon Meiring saam.

Luidens ’n mediaverklaring is Meyer en Meiring al jare lank vriende en wou al lank saam musiek maak.

“Jako wou graag hê dit moet ’n liedjie wees oor plekke – fisiek én andersins – waar ’n mens veilig voel en weer in voeling kan kom met jou waarheid,” sê Meiring.

“Ons het nie toe geweet dat ons binnekort weens die inperking gestroop sou word van die vermoë om te reis na sulke plekke toe nie. Toe dít gebeur het, het die song my eintlik gehelp om nog steeds daai plekke in my gedagtes te laat leef.”

Meyer stem saam. “Die lewe raak vir ons almal by tye net te veel. Hoeveel te meer in hierdie tyd. Ons almal moet wegbreek – fisiek of in jou kop – om introspeksie te doen, te herlaai, en sodoende te oorleef.”

Dít kan jy beslis deur “Daar wil ek wees” doen.

Elandré se nuwe enkelsnit op sy jongste album, Rugsak, het ook onlangs “ingewaai”.

Hy sê in ’n mediaverklaring “Waar die wind my waai” verwys eintlik na Gqeberha (Port Elizabeth), die winderige stad, waar hy hom bevind.

“Die wind waai hier, aldag, heeldag. Dit gaan ook daaroor om te laat gaan van sekere goed. Ek is nie 100% seker wat gaan gebeur nie, maar ek is hier vir die ride. Ek gaan nou waar die wind my waai. I’ll take it as it comes... with confidence.”

Hy beskryf die liedjie as een wat ’n tipe New Wave-klank omarm.

“Ons het nogal bold gegaan met hom. Ons wou die klank van die wind namaak.”

• Dit is moeilik om Jacques du Plessis se eerste enkelsnit, wat verlede jaar uitgereik is, te vergeet – en nie net omdat die liedjie se naam “My f*k” is nie.

Du Plessis, wat voorheen deel van die Die Grafsteensangers was, het dit nou met nog ’n enkelsnit opgevolg – en dié keer het die titel, “Dit is mal”, geen sterretjies nodig nie.

Dit word in ’n mediaverklaring beskryf as ’n “diep, eerlike liedjie met sterk lirieke en ’n trefkrag-melodie”, en dít is presies wat Du Plessis opdis wanneer jy na die liedjie luister.

• Ook Brendan Peyper het nie tydens die staat van inperking op sy louere gerus nie – die inperking het juis sy nuwe liedjie, “Deur dik en dun”, geïnspireer.

Luidens ’n mediaverklaring het Peyper tydens die pandemie “net weer besef hoe ware vriendskap jou kan oplig in moeilike tye” en “dat jou ware vriende nie net daar is met die goeie tye nie, maar ook wanneer dinge moeilik gaan – dit is wanneer ’n vriend familie word, soos ’n broer of suster. Dit is ook jou ware vriende saam met wie jy die goeie tye soveel meer waardeer as jy saam deur die swaar tye kon skuur.”

Kabaal Klankbaan het nie net hul jongste enkelsnit, “If It’s All the Same” (op hul nuwe kort-album, I’m Not Good With Promises) uitgereik nie, maar hulle het twee weergawes daarvan die lig laat sien – die tweede ’n klavierweergawe wat deur die komponis Franco Prinsloo verwerk is en Michael Canfield se sang insluit.

Floris Groenewald, wat die liedjie geskryf het, sê in ’n mediaverklaring dat enigiemand wat romanties “voos” is, hulself met die liedjie sal kan vereenselwig.

“Het jy nog nie die liefde van jou lewe gevind nie, maar weet steeds dat jy ’n ton romanse het om te bied? Dan is hierdie liedjie vir jou.

“Ek hoop daar is selfs ’n reisende musikant of sanger-liedjieskrywer daarbuite wat die storie (in die liedjie) eerstehands ken.”

Groenewald wou die klavierweergawe van die liedjie op hul kort-album insluit, maar die tyd het hulle ingehaal; hy het dit daarom as ’n aparte enkelsnit uitgereik.

• Die sangeres Pastel Pauw, ’n natuurwetenskaplike wat op die habitat en gewoontes van die grasuil fokus, maak haar debuut in Engels met die enkelsnit “Guilty”.

Pauw word in ’n mediaverklaring met Norah Jones vergelyk en het glo ’n stem wat so “warm” is soos ’n “blokkie egte Switserse sjokolade wat op jou tong smelt”.

“Guilty” word beskryf as ’n “aweregse liefdesballade”.

“Ek dink dat ons almal eens op ’n tyd in ’n verhouding was waar die een persoon meer omgegee het as die ander,” sê sy.

“Ons breek of bou die mense met wie ons in verhoudings is. As gevolg daarvan is dit ons skuld as iemand iets geword het wat hulle nooit sou wees as dit nie vir ons invloed was nie. Ons is geneig om ná ’n mislukte verhouding weg te stap en te probeer vergeet, maar ons sal altyd onthou wat ons aan daardie persoon gedoen het.”

Interessante feit: Pauw dra al vir langer as ’n dekade nie skoene nie.

“Maar ek dra maar hakkies na ’n werksfunksie toe, want ander mense vind my kaal voete soms vreemd,” sê sy laggend.

• “Jessica!” Nee, dié bekende liedjie het Ray Dylan al in 2008 uitgereik. Hy het onlangs “By jou voete lê” die lig laat sien en bewys daarmee wéér hoekom hy die “kroonprins en kitaarkoning van Afrikaanse sokkie” is.

Die liedjie handel luidens ’n mediaverklaring oor Suid-Afrikaanse boere wat in die buiteland werk en huistoe verlang.

“Ek het gevoel dat ek ná 14 jaar vir my mark en ondersteuners moet wys dat ek steeds by my klank en musiekstyl hou,” sê hy.

“Dit is belangrik om jou aanhangers te ken en te weet wat hul verwagting is. Ek is seker daarvan dat ek hulle nie gaan teleurstel met my nuutste vrystelling nie. ‘By jou voete lê’ is een van daardie liedjies wat die dansvloer gaan laat gons.”

Die liedjie se musiekvideo is ook reeds uitgereik en is in Parys (in die Vrystaat) verfilm.

• Die sanger Faraway George het “Hold Up”, die vierde enkelsnit op sy 2020-album Burnt & Found, saam met Fritz Günter, sy broer, geskryf.

Hy sê in ’n mediaverklaring die liedjie sou oorspronklik ook “Burnt & Found” heet, maar hulle het daarteen besluit omdat “Hold Up” beter by die storie van die liedjie pas.

“ ‘Hold Up’ gaan daaroor dat jy twyfel in jouself moet oorkom en hoe jy die liefde van jou lewe ontmoet langs die pad en dan saam vorentoe beweeg,” sê hy.

“Dit verwys ook na hoe ’n mens mekaar in ’n verhouding volg en lei.”

• Die lirieke van die Radio Rosestad-omroeper Mario Lategan se eerste enkelsnit, “Sagte val”, is deur die bekroonde skrywer Fanie Viljoen geskryf.

Lategan sê in ’n mediaverklaring hy en Viljoen het ’n paar jaar gelede saam ’n kursus bygewoon, en dit is daar waar hy die kans gewaag het en vir Viljoen gevra het of hy nie lirieke vir hom het nie. Die antwoord was ja!

“Ek het die liedjie vir een van my vriende, Arno de Wet, gegee om te toonset, maar my verwagtinge was nie vreeslik hoog nie. Nadat Arno sy musikale genialiteit op die lirieke losgelaat het, het my mond oopgehang,” sê Lategan.

Hy sê dit is ’n liefdeslied wat op verskillende maniere geïnterpreteer kan word.

“Sommige mense glo dit handel oor die liefde; ander interpreteer dit weer as iemand se liefde vir musiek wat ook ’n ‘sagte val’ kan wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.