Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
LUISTER: Elandré reik nuwe enkelsnit, album uit

Die sanger Elandré, wie se loopbaan ook weens die Covid-19-pandemie tydelik tot stilstand gedwing is, het sy stiltetyd gebruik om ’n denkbeeldige rugsak – ’n “spreekwoordelike bêreplek vir die klippe wat jy op jou lewenspad vind” – uit te pak.

Dit wat hy in dié bestekopname oor sy lewe en werk ontdek het, het hy in 11 liedjies omskep wat op sy nuwe ateljeealbum, Rugsak, saamgevat is.

“Binne & Buite”, die eerste enkelsnit op die album, word Vrydag uitgereik. Die titelsnit volg op 19 Maart en die hele album ’n week later.

Elandré sê aan Netwerk24 hy “is meer opgewonde as ooit” om ’n nuwe album uit te reik.

“Hierdie album het my herinner aan alles wat my na musiek toe gelei het en my steeds hier hou.

“Ek sien die ‘klippe’ nie as ’n las nie, maar liewer lesse. Alles wat jy aanvat vorm jou met tyd. Die laaste jaar het natuurlik sy eie stel uitdagings gehad en het my aangehits om met meer deursettingsvermoë vorentoe te kyk.”

Hoewel sy kykie na binne ’n persoonlike en intieme oefening was, wou hy graag uitdrukking daaraan gee omdat die lewe volgens hom oor mededeelsaamheid gaan en almal hul menswees met ander kommunikeer.

“Musiek is my medium en gelukkig is dit ’n taal wat soveel grense oorskry,” sê hy.

“So vertaal ek maar net my daaglikse dankbaarheid en denke in gesprek met dié wat gaaf genoeg is om te luister.”

Hy wou juis daarom hê luisteraars moet “Binne & Buite” heel eerste hoor.

“Dit het ’n klank en ’n houding wat ek voel Rugsak nogal opsom. Daar is natuurlik ’n paar ander snitte op die album wat diep in my hart gekruip het, maar ek dink ‘Binne & Buite’ is ’n goeie plek om te begin.”

Elandré (25), oorspronklik van Despatch in die Oos-Kaap, het hom in ’n relatiewe kort tydjie as een van Afrikaanse musiek se blinkste sterre gevestig.

Nadat hy op 27 Oktober 2016 as student aan die Waterfront-teaterskool in Kaapstad een van sy ma se gunstelingliedjies, “Tougher Than the Rest”, deur Bruce Springsteen, regstreeks op Facebook gesing het, het dit soos ’n veldbrand op die internet versprei. Hy is kort daarna op Bokradio gehoor en het toe ook musiekbase se aandag op hom gevestig.

’n Jaar later is sy debuutalbum, Kleindorp-Drome (2017) uitgereik, wat eindelik in 2019 platinumstatus bereik het. Hy het dit met Boomhuis (2019) opgevolg, waarmee hy sy reuse-opgang in die bedryf voortgesit het.

Hy het ondanks dié suksesse plat op die aarde gebly.

“So onverwags soos wat die reaksie was, het dit (sy aanvanklike Facebook-vertoning) ’n nuwe wêreld oopgemaak. Snaaks hoe dit gebeur as jy net aanhou probeer . . .

“Die grootste eer van hierdie hele avontuur tot dusver was die mense wat ek ontmoet het en die gesprekke wat ons gehad het. Ek kon om ’n tafel sit met van my kinderhelde, die grootste name in die bedryf, en getroue ondersteuners wat ná vertonings vir ure saam met my gestaan het sodat ek vir hulle met ’n foto of ’n handdruk kan dankie sê.”

Hy het op dié reis ook heelwat lesse geleer, sê hy.

“Die afgelope paar jare in die bedryf het my geleer dat volharding, familie en vrede noodsaaklik is. Ek is seker die meeste dankbaar vir die platform waarna ek al so lank streef, my ondersteuners, en my span saam met wie ek elke projek aanpak.

“Ons ‘rugsak’ is gepak, ons kyk op en ons droom voort.”

  • Rugsak, Elandré se derde ateljeealbum, word op 26 Maart op alle digitale platforms uitgereik. Die enkelsnit “Binne & Buite” is reeds op hierdie platforms (klik hier) beskikbaar.
Meer oor:  Musiek  |  Boomhuis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.