Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
LUISTER: Hier’s SA se 1ste ‘Boere-boyband’

Wat begin het as ’n veldtog om ’n klerereeks te bemark, het vinnig ontpop in Suid-Afrika se eerste amptelike “Boere-boyband” – een waarvan veral Afrikaanse musiekliefhebbers tans nie genoeg kan kry nie.

Die groep JAN JAN JAN se eerste enkelsnit, “Wys jou vleis”, is onlangs uitgereik en is sedert Vrydag meer as 250 000 keer op YouTube gekyk.

Die drie Janne in die groep – Jaco Pitzer (bekend as FrisJan), Riaan Venter (LangJan) en Heinrich Rautenbach (KleinJan) – was vroeër vanjaar nog net modelle in die Boerboel Wear-klerereeks se bemarkingsveldtog. Van ’n musiekgroep was daar aanvanklik g’n sprake nie, maar hul deuntjie het vinnig verander toe ’n foto van hulle soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het.

“(Die komediant) Donovan Goliath het dit (die foto) raakgesien en dit op 9 April vanjaar op Twitter gedeel en geskryf: Name this rap group. Dit het binne ’n dag viral gegaan,” sê Stephan Hugo Botha, bemarkingsbestuurder en mede-eienaar van Boerboel Wear.

“Die publiek het heelparty interessante name voorgestel, soos Brasse van die Plaas, Die Voorvellies, Fokof Plaasbakkie, en Boetie en die Blou Vis. Die meer beskeie Jan Direction het egter loshande gewen.”

Die grappe oor ’n musiekgroep het Botha en sy span toe die idee gegee om werklik een met die drie Janne te begin. Die naam Jan Direction was egter te na aan die Britse popgroep One Direction; daarom is hulle liewer JAN JAN JAN gedoop. Botha het self die lirieke van “Wys jou vleis” geskryf; dit is deur lede van DJ Ossewa getoonset.

Oor die vinnige ommeswaai van modelle tot sosialemedia- en musieksterre, is die driestuks nog baie beskeie.

“Dit is eerlikwaar vir my snaaks, maar ek het glad nie gedink dat dit só ’n groot ding gaan word nie,” sê die 25-jarige Pitzer (FrisJan), wat deesdae in Pretoria woon, maar oorspronklik van Witrivier is.

“Die ‘reis’ was tot dusver baie lekker en ek sien uit na wat kom. Nie een van ons het dit beplan nie, so wie is ons om God se planne te stop?” vra die 28-jarige Venter (LangJan) van Alberton.

“Ek was baie verras – ek en al my vriende het baie lekker gelag vir die (publiek se) opmerkings,” sê die 25-jarige Rautenbach (KleinJan) van Pretoria.

Van links na regs: Riaan Venter (LangJan), Heinrich Rautenbach (KleinJan) en Jaco Pitzer (FrisJan).

Hoewel hulle nog nie in die publiek deur aanhangers oorval word nie, sê hulle dis veral op sosiale media waar hulle skielik baie aandag kry.

“Dit is maar meer op my Instagram en Facebook waar die “encounters” (met aanhangers) plaasvind,” sê Pitzer (FrisJan). “Ek geniet die mense en voel ons moet by elke persoon se boodskap uitkom en ’n formele dankie-sê-boodskap terugstuur.”

“Dit (die publiek se aandag) is iets wat ons moet omarm en waarin ons die positiewe moet sien,” meen Venter (LangJan).

Hoewel Pitzer, Venter en Rautenbach – wat onderskeidelik ’n fiksheidsinstrukteur, projekbestuurder en medebestuurder van Die Boswinkel-fabriekwinkel is – nog nie hul heeltydse beroepe gaan laat vaar nie, sê hulle hulle gaan hul onverwagse musiekloopbane geheel en al omarm.

“Ek wil hê ons moet ’n nuwe styl van Afrikaanse musiek begin en dit net voortaan geniet,” sê Pitzer.

“Ek sal graag ’n ordentlike toer wil doen saam met die ander twee Janne,” sê Rautenbach. “Dit sal ook ’n voorreg wees om saam met Valiant Swart te kan werk – sy musiek is briljant!”

Meer oor:  Musiek  |  Kleinjan  |  Frisjan  |  Heinrich Rautenbach  |  Riaan Venter  |  Boerboel Wear  |  Jan Jan Jan  |  Langjan  |  Jaco Pitzer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.