Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
LUISTER: Jack & June sing nou in Afrikaans

Die sangpaar Jack & June, wat bestaan uit die egpaar Jacqueline Tolken en Peter Hoven, het vir die eerste keer sedert die groep se ontstaan in 2016 ’n Afrikaanse enkelsnit uitgereik. Christiaan Boonzaier het gesels met Hoven oor hul besluit om voortaan ook in Afrikaans musiek te maak.

Geluk met die sprong van Engelse na Afrikaanse musiek. Is dit iets wat julle nog altyd wou doen?

Dit was, om eerlik te wees, nooit regtig in ons gedagtes nie, maar so twee jaar gelede het ons albei in Afrikaans begin dig. Soos dit maar met musikante gaan, word lirieke gewoonlik liedjies. Die materiaal het goed geklink en ons het dit meer en meer begin verken.

Hoekom wou julle (in Afrikaans) met die enkelsnit “Steek ons liefde aan die brand” begin? Is dit ’n liedjie wat in die staat van inperking ontstaan het?

Tegnies gesproke, ja. Die staat van inperking het baie gedagtes en liedjies tot gevolg gehad. Sover ons weet, is daar nie baie van hierdie soort liefdesliedjies wat so direk en eerlik verwys na die slegte dele van ’n verhouding en/of die huwelik nie. Ons het ook gevoel dat baie mense met hierdie onderwerp sou kon identifiseer, veral weens die inperking.

Julle debuteer met ’n baie intieme liedjie wat sommer uit die staanspoor baie oor jul huwelik sê. Is dit moeilik of ongemaklik om jul huwelik so vir die wêreld oop te gooi en oor iets so persoonliks te sing – en dit boonop in Afrikaans?

Nee, enige getroude paartjie sal presies verstaan wat in die liedjie gesê word. Ons het ’n besluit geneem dat ons liedjies eerlik en opreg moet wees sonder om iets voor te gee. Die soet sal nooit so soet wees sonder die suur nie – feite!

Wat is jul skryfproses? Verskil julle ooit van mekaar?

Baie! Ons kom uit verskillende musikale agtergronde en het uiteraard verskillende persoonlikhede, so die kuns is om elkeen ’n eie kreatiewe ruimte te gun en op die ou end op iets te besluit waarmee albei gelukkig is.

Ons skryfproses verskil van liedjie tot liedjie: Soms in die middel van die nag met ’n melodie of ’n liriek; ander kere maak ’n ou liriek sin saam met ’n nuwe wysie, of andersom. Emosies speel natuurlik ’n rol in terme van die gevoel of vibe van ’n liedjie, so die proses is baie uiteenlopend.

Vertel ons meer van julle.

Jacqueline (die “Jack” in die groep se naam) is in Phalaborwa gebore en getoë, en het daarna in Kempton Park, Indië, Stellenbosch, drie keer om die wêreld op ’n skip, sewe jaar in Amsterdam, toe weer Kempton Park en uiteindelik weer in Stellenbosch gewoon.

Ek (die “June” in die groep se naam) is in Kroonstad gebore, was in Robertson en George op skool, en het toe in Potchefstroom, Johannesburg, Pretoria, Kempton Park en nou Stellenbosch gaan draai.

Ons het in Oktober 2016 by ’n gig ontmoet en toe ons mekaar sien, het ons geweet dis till toe. Ons is in April 2019 getroud. Ek het twee laaities uit ’n vorige huwelik en Jack is ’n superma vir albei.

Die sangpaar Jack & June sê hulle is gereed om die Afrikaanse musieklandskap te betree. Foto: Lionel Smit

Was julle nog altyd in die musiekbedryf doenig of het julle eers ander beroepe gehad?

Jack het as somatoloog gekwalifiseer en dit vir ’n hele aantal jare beoefen voordat ons saam in 2019 heeltyds begin musiek maak het.

Ek het studeer, maar musiek was nog altyd ’n groot aantrekkingskrag; ek doen dit al heeltyds sowat 17 jaar. Ek is ook baie lief vir houtwerk en hou my daarmee besig.

Wat sal julle graag volgende wil bereik? Wil julle jul fokus op die Afrikaanse mark hou?

’n Grammy gaan ’n bietjie moeilik in die Afrikaanse mark wees, dit is tog maar elke musikant se droom om eendag ’n Grammy te wen. Vir nou wil ons onsself graag uitdruk in ons moedertaal (Afrikaans) en kreatief daarmee wees. Ons wil ons musiek deel maak van elke Suid-Afrikaner se lewensklankbaan en ons wil die gevoel van liefde uitbeeld in ons musiek – goed of sleg. Goeie musiek moet tydloos wees – dit is ons mikpunt.

  • “Steek ons liefde aan die brand” is reeds aanlyn uitgereik en is op platforms soos Apple Music, Deezer, iTunes, Joox, Spotify, Tidal en YouTube Music beskikbaar.
Meer oor:  Spotify  |  Deezer  |  Youtube  |  Afrikaans  |  Grammy  |  Apple Music  |  Youtube Music  |  Itunes  |  Joox  |  Tidal  |  Grammy-Prys  |  Koronavirus  |  Covid  |  Inperking  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Pandemie  |  Covid-19-Pandemie  |  Staat Van Inperking  |  Musiek  |  Peter Hoven  |  Jack & June  |  Jacqueline Tolken  |  Steek Ons Liefde Aan Die Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.