Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Luister Jan Blohm, Elandré en ander se nuwe musiek

Suid-Afrikaanse musikante het die afgelope maand gewoeker en een ná die ander nuwe liedjies en musiekvideo's op talle digitale platforms uitgereik. Hier is van die hoogtepunte.

* Christiaan Baartman sê in ’n mediaverklaring sy jongste enkelsnit, “Die beste deel”, is “gebore uit ’n lekker bottel rooiwyn en ’n nostalgie van liefde”.

Hy sê die liedjie handel oor jou wederhelf.

“Daai oomblik wat jy alleen by die huis sit en jy besef jy mis jou ander helfte so baie dat jou dag leeg voel – dís wanneer jy besef daardie persoon is die beste deel van jou.”

* Elandré het ondanks die pandemie net van krag tot krag gegaan en hom die afgelope jaar gevestig as een van die opwindendste sangers in die land.

Ná liedjies soos “Vuur op die water” en “Tussen die lakens” skryf Elandré op Facebook dat hy “met baie trots en dankbaarheid” ’n “nuwe avontuur” kan uitreik – die musiekvideo van sy liedjie “Dag en nag”.

* Hoewel Francois van Coke en Matthew Mole reeds in Augustus hul duet “Fall” uitgereik het, het die amptelike musiekvideo onlangs eers die lig gesien.

Dié video is in September by die konsert Francois van Coke & Vriende Livestream 2020 opgeneem. Die video poog om aanhangers net soos die liedjie te betower – “Fall” is volgens ’n mediaverklaring uit Van Coke se hele katalogus die liedjie wat die meeste met die app Shazam opgesoek word.

* TV-kykers wat ontsteld was dat Henrico Coetzer in die talentsoekkompetisie Maak my famous uitgeskakel is, sal bly wees om te hoor dat sy jongste enkelsnit, “Hoor my woorde”, uitgereik is.

Dié liedjie is spesiaal deur Vaughan Gardiner vir die 27-jarige Pretorianer geskryf.

“Dit is ’n lekkerluister- Afrikaanse liedjie met ’n diep storie,” sê Coetzer in ’n mediaverklaring.

“Dit gaan oor hoe dit nóú my tyd is. Al was daar teleurstelling, gaan dit my nie onderkry nie. Dit is ’n lied van hoop.”

* Die musiekvideo van “Levi jeans”, die derde enkelsnit op Jan Blohm se jongste album, Jenny, is ook onlangs uitgereik.

Die video is deur die kunstenaar Lionel Smit in sy ateljee in Kaapstad verfilm.

“Daar was nie ’n spesifieke idee of konsep (vir die musiekvideo) nie en alles het net mooi saamgevloei,” sê Blohm in ’n mediaverklaring.

“Die boodskap is dat kreatiwiteit bevrydend kan wees.”

Die video is ook ekstra spesiaal omdat Blohm tans besig is om self te skilder en beeldhouwerk te doen vir sy eie kunsgalery in die Strand.

* Juan Boucher het die agtste album van sy loopbaan Gewigloos gedoop omdat dit is hoe hy voel wanneer hy daarna luister.

“Dit is my eerste album waar nie een van die klanke geprogrammeer is nie en met regte, lewendige instrumente opgeneem is,” sê Boucher in ’n mediaverklaring.

“Elke liedjie is in ’n unieke skryfstyl, ritme en tempo, met kitare wat sag skree en die bas wat alles nostalgies bymekaar hou. Ek wil graag hê die inhoud moet Afrikaans sterker maak en Suid-Afrikaners saambind.”

Die album se jongste enkelsnit, “Ek mis maar net jou hart”, is ook onlangs met ’n musiekvideo uitgereik.

* Met sy jongste enkelsnit, “Let Me Go”, maak Leon John vir die eerste keer sy hart oop.

Die liedjie is volgens ’n mediaverklaring een van drie in ’n suite op sy nuwe album, wat sy “gedrag in romantiese situasies” in oënskou neem. Dit vertel ’n storie, sê hy.

“ ‘Let Me Go’ is in dié storie die hoofstuk oor dwase verliefdheid, en dit beskryf hoe ek myself só gereeld weens begeerte verloor dat ek nie meer my emosies kan beheer nie.”

Die liedjie sal ingesluit word op John se debuutalbum, wat vroeg volgende jaar uitgereik word.

* Die akteur en sanger Reggie Peace en die vervaardiger DJ Darkness het tydens die staat van inperking ’n liedjie geskep wat deur geslagsgegronde geweld geïnspireer is.

“African Queen” word saam deur Peace, Petronel Baard en KayCzwe Nkosi in drie tale gesing, ook Afrikaans, om Afrika se koninginne aan te moedig “om hul plek in te neem deur sterk te staan en hulself te aanvaar net soos wat hulle is”.

“Dis ’n snit met ’n goedvoelboodskap van versoening wat ons almal nodig het,” sê Baard.

“Reggie sing ‘African Queen, love yourself’ en ons (Baard en Nkosi) eggo dit om die woorde te beaam.”

* Reynardt Hugo, onder meer Binnelanders-akteur en voormalige lid van die musiekgroep Adam, het vroeër vandeesmaand sy tweede enkelsnit uitgereik – ook ’n musiekvideo wat hy in ’n mediaverklaring beskryf as ’n “baie kort kortfilm”.

“Die storie handel oor ’n paartjie wat by ’n kruispad gekom het in hul verhouding/huwelik, waar hulle moet besluit of hulle wil opgee of werk aan die verhouding,” sê hy.

“Dit wys op ’n baie eerlike manier met behulp van die kamera en toneelspel hoe eerlik en rou situasies in ’n verhouding kan wees.”

* Nadat hy in 2018 by The Parlotones aangesluit het as deel van hul herdenkingstoer in Europa, het die Pretorianer Stefan Jansen pas sy jongste enkelsnit, “Verdienste en genade”, uitgereik.

Die liedjie is volgens ’n mediaverklaring oorspronklik in Engels geskryf en opgeneem, maar Jansen het dit na Afrikaans vertaal.

“Dit gaan oor die pad wat ek en my meisie al saam gestap het. Ek het nie van die begin af gesien watter waarde sy tot my lewe voeg nie en ons was vir ’n rukkie lank net vriende,” sê hy.

“Op ’n stadium het ek besef dat ek haar in my lewe nodig het en nie as vriendin en maat wil verloor nie, al sou dit beteken dat ek my liefde uiteindelik aan haar moes verklaar.”

* Ontmoet die Potchefstroomse groep Zebraman, wat bestaan uit Johan Viljoen (sang en kitaar), Jan-Meyer Verhoef (klawerbord), Wouter Möller (tromme) en Franzua “Zua” van den Heever (baskitaar).

Die viertal het onlangs hul debuutenkelsnit, “Green & Lovin’”, uitgereik, wat die eerste enkelsnit op hul komende kortalbum, Zebraman, is.

Hul musiek kan nie maklik in ’n boks geplaas word nie – dit is indie-, pop- én dansmusiek – en hulle beskryf dit as musiek wat mense oor alle kulture heen opkikker. Luister gerus self!

  • Saamgestel deur Christiaan Boonzaier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.