Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
LUISTER: Jong chemikus beier Kaapse klokke

In die nok van die Kaapstad-stadsaal vergader een van die seldsaamste musiekinstrumente in Afrika net stof. Christiaan Boonzaier het met die chemikus gesels wat besig is om dit blink te poets – en beplan om dit weer gereeld te beier.

Alexios Vicatos voor die beiaard se speeltafel in die Kaapstad-stadsaal. Hy druk die beiaard se ‘klawers’ met sy vuiste af en hou ’n balletjie materiaal in elke hand vas om sy hande te beskerm.

Alexios Vicatos (27) is waarskynlik die enigste chemiestudent in die land wat die Kaapstad-stadsaal soos die palm van sy hand ken.

Nadat hy elf jaar gelede as tienerorrelis vir die eerste keer voor die stadsaal se grootse Norman & Beard-orrel ingeskuif het, het ’n gerug oor ’n besonderse musiekskat in die gebou se solder hom à la Indiana Jones geprikkel. Die vonds waarop hy toe afgekom het, het hom sedertdien elke dan en wan getrou terug gelok.

Nou kan Vicatos al toeoog by die stadsaal inwals, die 250 aanvanklik breë en daarna smal en steil trappies woekerend na bo klim, en die deur met gemak oopswaai waaragter ’n beiaard – in Afrikaans ook bekend as ’n klokkespel of kariljon – vanjaar presies 95 jaar in stille afsondering skuil. Benewens stelle klokke wat in Port Elizabeth en Germiston op die oog af eenders lyk, is die Kaapse beiaard die enigste van sy soort in Afrika wat as ’n musiekinstrument bespeel kan word.

“Dit is nogal snaaks hoe mense toutrek oor die regte uitspraak van die (Engelse) woord carillon – ek sal erken ek is self nie altyd heeltemal seker nie,” sê Vicatos, ’n doktorale student in sy tweedejaar aan die Universiteit van Kaapstad, laggend.

“Die eenvoudigste beskrywing van die instrument is dat dit bestaan uit ’n stel groot en kleiner klokke – in ons geval, 39 – wat deur middel van ’n reeks meganiese hefbome aan ’n speeltafel verbind is. Die speeltafel bestaan uit twee stelle ‘klawers’ – een stel vir jou hande, wat jy een vir een met jou vuiste afdruk, en ’n bykomende stel vir jou voete.

“Wanneer jy ’n klawer afdruk, slaan ’n hamer die klok van binne.”

So lyk die beiaard se binneste: Klokke van verskillende grotes hang in rye en is aan die speeltafel verbind.

Die instrument het ná sy aanvanklike vonds meestal net in Vicatos se agterkop geboer tot hy in 2017 genader is om ’n demonstrasie daarvan vir die Kaapstad-vleuel van die Royal Society of Church Music (RSCM) te gee. Hy het tydens ’n uitvoering van ’n stuk musiek wat hy aanlyn ontdek het, ’n rooigesig-openbaring oor die instrument gemaak.

“Ek onthou ek was baie entoesiasties toe die RSCM my genader het. Ek het die stuk musiek voor die demonstrasie op ’n oefen-speeltafel naas die beiaard geoefen, maar toe ek dit vir hule op die ware Jakob uitvoer het ek besef die instrument werk glad nie,” sê hy en bloos weer. “Daar was klank, maar ’n mens kon dit net as ... rou beskryf.”

Hy het hom toe verbind om die geskiedenis van die instrument in besonderheid na te spoor sodat hy presies kon vasstel hoe dit werk en hoe hy te werk moet gaan om dit tot sy volle te herstel.

Kort geskiedenis

Vicatos het uit leeswerk vasgestel dat die idee vir ’n beiaard reeds in 1905 geopper is, toe die stadsaal amptelik geopen is. Vyf klokke is aanvanklik aangeskaf, maar planne vir die res van die instrument is weens buitensporige koste laat vaar.

Kwotasies is weer in 1922 aangevra en die instrument ia teen ’n koste van £3 500 gebou. Dit is amptelik in 1925 in gebruik geneem.

“Die beiaard was die gevolg van ’n reuse-insamelingsveldtog – glo die grootste in Suid-Afrika in dié tydperk – wat georganiseer is deur die destydse burgemeestersvrou, Anna Thorne, en 40 ander vroue wat bekendgestaan het as die Committee of the Women’s Peace Thanksgiving Offering (CWPTO),” verduidelik Vicatos.

“Onthou, dit was net ’n paar jaar ná die Eerste Wêreldoorlog, waarin van hierdie vroue waarskynlik familielede verloor het en waarin beiaards die wêreld oor stilgemaak en vernietig is, so hul doel was om dit as ’n oorlogsgedenkteken en ’n simbool van vrede in te rig. Die beiaard se amptelike naam is vandag steeds die Women’s War Memorial.”

Alexios Vicatos by van die beiaard se grootste klokke.

Hoewel dit eers met net 37 klokke toegerus is, waarvan die CWPTO sewe uit hul eie sak betaal het, het die vroue opdrag gegee om die instrument uit die staanspoor ruimer te bou sodat toekomstige generasies nog 13 klokke kan byvoeg – tot op hede is net ’n bykomende twee in die 1950’s deur die oorspronklike bouer, die onderneming John Taylor & Co, aangebring.

“Die name van regimente wat in die oorlog dood is, is op elke klok gegraveer,” sê Vicatos.

“Op van die klokke staan net ‘vrede’ of ‘dankbaarheid’, so dit is daarom vandag nog vir my ’n baie belangrike simbool van anti-geweld en geluk.”

Windverwaaide kreeftegang – en moedige herstel

Die beiaard het oor die dekades heen tydens formele én informele geleenthede opgeklink, en dit het selfs met heelwat heeltydse beiaardiers – spelers van die instrument – gespog, maar dit het met die draai van die eeu al hoe stiller geword.

Hoewel die Kaapstad-metro die instrument agter slot en grendel bewaar het, is die klokke weens ’n opening in die solder deur die suidooster geklingel – en met ’n lelike stoflaag bedek.

“Die instrument is nie beskadig nie, maar dit is verwaarloos,” sê Vicatos.

“Weens die opening en die suidooster het die hele instrument opgedroog en heelwat onderdele moet gereeld geolie word. Dit het ook geroes en onder korrosie deurgeloop.

“Die hamertjies wat die klokke van binne slaan en die hefbome is ook uit plek gewaai, wat veroorsaak het dat van die pedale (wat met die voete gespeel word) nie meer gewerk het nie.

“Die moeilikste deel was al die skroewe wat verroes en sekere stange en vere gebreek het; ook al die vilt (op die hamers) moes vervang word – en dít is maar die oortjies van die seekoei. Berge moet nog versit word om die instrument tot sy volle glorie te herstel.”

Vicatos het besluit om dié reusetaak aan te pak en dit met behulp van die klaviertegnikus Garth Hammer en sy (Vicatos se) pa, George, op te knap.

“As ons enigiets daarop wil speel, moet ons dit eers laat werk, wat ek dink ons nou reggekry het; dit is tot ’n groot mate weer speelbaar. Ons het tegnies vir die eerste keer in 2018 ’n volledige stuk op die beiaard gespeel – net betyds vir die honderdste herdenking van die einde van die Eerste Wêreldoorlog (in 1918) – maar die herstelproses is nog lank nie klaar nie.”

Die trio het tot op hede hul eie tyd en geld aan die instrument bestee en Vicatos sê hy is nie werklik seker wat presies dit sal kos om die taak te voltooi nie.

“Ek probeer nog kontak maak met die onderneming wat die beiaard gebou het – hulle is vandag nog in Loughborough in Brittanje gebaseer – om kenners se raad te kry.

“Dit sal wonderlik wees om by hulle uit te vind presies hoe ons die instrument in stand moet hou, hoe presies die klokke gestem moet word en dan eindelik ook die uitstaande 11 klokke aan te skaf – dit sal wonderlik wees om die laasgenoemde droom te bewaarheid, ook om die CWPTO-lede daardeur te vereer.”

Simbool van vrede en SA erfenis

Vicatos sê daar is heelwat redes hoekom hy dié taak aanpak en hoekom dit belangrik is dat die beiaard weer gereeld beier.

“Ons moet eerstens weer die soeklig plaas op hoekom die instrument 95 jaar gelede gebou is: Om die einde van ’n oorlog en die einde van geweld te vier,” sê hy.

“En hoe het ons nie in vandag se wêreld dié boodskap nou meer as ooit tevore nodig nie? Ons het ’n simbool vir anti-geweld en -misdaad nodig.

“Die instrument sou ook nie bestaan het sonder vroue nie, en met die vlakke van geweld teen vroue wat in die land net styg, moet ons ook vroue deur die instrument vereer. Dit sou werklik ’n skande wees om dit nié te doen nie (die instrument nie te herstel nie).”

Die instrument is ook integraal deel van ’n gedeelde Suid-Afrikaanse erfenis, sê hy.

“Dit is so ’n unieke instrument, en met die demonstrasies wat ek daarop aanbied, is dit wonderlik om te sien hoe dit alle Suid-Afrikaners met vreugde vervul.

“Ek sou nooit gedink het die belangstelling in die instrument is so groot nie – selfs leerlinge raak tydens demonstrasies opgewonde daaroor. Ek dink dit is belangrik om die instrument te herstel sodat hulle ook daarop kan speel.

“Dit is net deur daarop te speel wat ons dit werklik in stand kan hou en die instrument werklik kan waardeer.”

Kitsfeite oor die Kaapse beiaard
* As al 50 klokke in die beiaard aangebring word, sal dit vier oktawe kan speel.
* Beiaardiers dra weens die instrument se harde klank oorpluisies om hul gehoor te beskerm. “Dit is nie harder as, byvoorbeeld, musiek in ’n nagklub nie,” sê Vicatos, “maar ek het eenkeer vir 45 minute gespeel – en my ore het omtrent gesuis!” Hy sê ’n mens kan voel hoe die klank “deur jou bene vibreer”. 
* Op daardie noot: Vicatos is nie bewus van enigiemand wat al ’n klagte by die Kaapstad-metro oor die instrument se harde klank ingedien het nie. “Ek reël my oefentye met die stadsaal se personeel om te verseker ek steur niemand in die gebou nie, en ek oefen net wanneer meeste mense die stad verlaat.”
Spits jou ore vir beiaard by stadsaal
Alexios Vicatos, chemikus en beiaardier, gaan op 23 en 26 Januarie, asook op 2 Februarie om 19:30 die beiaard in die nok van die Kaapstad-stadsaal bespeel.
Vicatos gaan werke deur die Vlaamse komponis Matthias van den Gheyn uitvoer wat spesifiek vir dié instrument se besonderse klokke geskryf is.
Belangstellendes word genooi om hul ore tot 19:55 buite die stadsaal vir die klokkespel te spits. Simfoniekonserte deur die Kaapstadse Filharmoniese Orkes begin kort daarna om 20:00.
Musiekliefhebbers wat die instrument graag eerstehands wil beleef en ’n demonstrasie daarvan wil bywoon, kan Vicatos direk per e-pos kontak by avicatos@hotmail.com.
Meer oor:  Musiek  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.