Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
LUISTER: Kaalvoet 13-jarige het wêreld in vervoering

’n 13-jarige Noorweegse sangeres het Dinsdagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) miljoene aanhangers wêreldwyd bygekry toe sy haar eie verwerking van Queen se liedjie “Bohemian Rhapsody” op die talentsoekkompetisie America’s Got Talent: The Champions gesing het.

Angelina Jordan se hartroerende verwerking van die gewilde liedjie het so ’n beroering veroorsaak dat dit binne twee dae meer as 4,3 miljoen keer op YouTube gekyk is.

Jordan is genooi om aan die Amerikaanse werklikheidsreeks deel te neem nadat sy oorspronklik in 2014 – toe sy net agt jaar oud was – Norway’s Got Talent in haar geboorteland gewen het.

Die tiener, wat Vrydag 14 jaar oud word, kom nou in America’s Got Talent: The Champions teen wenners en gewilde deelnemers van die reeks in ander wêrelddele te staan. ’n Kontantprys en die titel as wêreldkampioen is op die spel.

Voordat sy vir die beoordelaars gesing het, het Jordan gesê sy beskou die berugte bitterbek Simon Cowell as ’n legende en dat sy tien jaar gewag het om vir hom te sing.

Cowell, wat die wêreldkompetisie met die supermodel Heidi Klum, die sanger Alesha Dixon en die komediant Howie Mandell beoordeel, kon nie sy oë en ore glo toe Jordan begin sing nie.

Die 13-jarige Angelina Jordan op die America’s Got Talent: The Champions-verhoog. Foto: Getty Images

“Ek het nog nooit dié verwerking van die liedjie gehoor nie,” het hy oorbluf gesê. “In alle erns: Dit was ’n ongelooflike uitvoering.”

Klum was ook in vervoering en het die jong sangeres beloon met ’n “golden buzzer”, wat haar ’n eenrigtingkaartjie na die eindstryd gee.

Jordan het die liedjie kaalvoet gesing, omdat sy volgens haar webwerf onderneem het om nie skoene op ’n verhoog te dra totdat elke kind op aarde ’n paar skoene besit nie.

Sy het dié besluit geneem kort nadat sy as sesjarige ’n hawelose meisie ontmoet het wat kaalvoet was. Jordan het haar skoene uitgetrek en aan die meisie geskenk.

Jordan is in die Noorweegse hoofstad, Oslo, gebore en het op tweejarige ouderdom begin sing. Haar sangvideo’s op Facebook is reeds meer as ’n miljard keer gekyk.

Haar eerste kortspeler, Angelina Jordan – The EP, is in 2017 uitgereik, en haar eerste vollengte-album, It’s Magic, in die daaropvolgende jaar.

Meer oor:  Simon Cowell  |  Musiek  |  Tv  |  America's Got Talent  |  Queen  |  Bohemian Rhapsody
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.