Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
LUISTER: Kommissie se Lucinda sing solo

Sy is al byna 20 jaar lid van Die Melktert Kommissie, wat in 2002 die destydse Jip Rockspaaider-kompetisie gewen het, maar het onlangs eers haar eerste soloalbum, Uitgeskryf, uitgereik. Die sangeres Lucinda gesels met Christiaan Boonzaier oor dié groot stap.

Geluk met jou eerste solo-‘baba’! So, jy’t gegaan van ’n groep van vier (Die Melktert Kommissie) tot ’n groep van twee (jou kortalbum, Waar die see die kus omhels, met Bouwer Bosch) tot op jou eentjie. Het die geleidelike afskaling natuurlik gebeur, of het jy nog altyd in jou agterkop jou oog op ’n sololoopbaan gehad?

Dit het in alle eerlikheid geleidelik gebeur. Die Melktert Kommissie het weer in 2018 hier en daar optredes begin doen, toe het Straatligkinders my genader om te sing op (die liedjie) “Herinner”. Daaruit het die kortalbum met Bouwer gekom.

Die afgelope twee jaar het ek vreeslik baie geskryf en besluit dat dit nou of nooit is. As ek nie ná al hierdie geskryf solomusiek uitreik nie, sal ek nooit. Dit is ook maar ’n selfvertroue-ding. Ek is nou in my middel-30’s en voel gemakliker in my vel as vantevore.

Tel ek reg, Die Melktert Kommissie is volgende jaar 20 jaar oud?

Ha-ha! Ja, ons is al vintage.

Is julle nog amptelik saam? Wat het jy in jou tyd met die melkterte oor die musiekbedryf geleer?

Ons hou daarvan om te dink dat Die Melktert Kommissie altyd saam sal wees, juis omdat ons soos familie is en enige geleentheid sal aangryp om saam op te tree en te kan kuier. Hulle (die res van die groep, Jean-Marie Korff, Jan-Adriaan Korff en Tim van der Westhuizen) bly almal in die Kaap en ek in Gauteng. Ons het wel ’n lang tyd van musiek maak afgevat om te fokus op dinge soos studeer, ander loopbane en familie.

Ek het geleer dat dit áltyd in die mode is om nederig te bly. Hou jou voete op die grond. Daar sal altyd mense wees wat nie hou van jou musiek nie, en dit beteken nie jy sal nie van hulle hou nie. Wees in elk geval nice en doen waarin jy glo.

Skryf is definitief helend. Ek reken daar word gehamer daarop dat skryf terapeuties is, want dit ís. Dit is ’n manier om jou gedagtes te orden en sin te maak van die 'geraas' wat in jou kop tydens donker tye aangaan.
Lucinda

Wat was vir jou die lekkerste én uitdagendste aan die werk aan ’n soloalbum, veral in vergelyking met die werk aan ’n kort- of vollengte-album saam met ’n ander persoon of ’n hele groep?

Die feit dat ’n mens verantwoordelik is vir al die uiteindelike besluite! Daar is nie drie ander menings om in ag te neem nie, maar daarom ook nie drie ander menings om te vertrou nie. Ek was omring deur ongelooflike musikante en kreatiewe vriende tydens die opname van Uitgeskryf, wat natuurlik raad kon gee en saam dink en doen, maar die uiteindelike besluite is myne.

En waaraan het jy op hierdie album uitgeskryf?

Die album is geskryf in ’n tyd wat ek op baie spesifieke goed gekonsentreer en deurgewerk het, hoewel ek dink dit baie universeel kan wees. Dit is wat ek die meeste geniet van musiek en terugvoering – as iemand vir my sê ’n sekere liedjie het hulle in ’n sekere tyd aangeraak, maar dis eintlik oor iets heeltemal anders geskryf. Ek hou dit (dié iets anders) geheim. Dit maak nie ’n verskil nie. As iemand aanklank gevind het daarby of getroos is daardeur, het die liedjie sy doel bereik, ongeag die rede vir sy ontstaan.

Ek het spesifiek baie vrae gehad oor die dood – hoe dit so ’n groot leemte los, maar waarom ons dan ook soveel sterker word met die leemtes in ons. Hoe ’n mens rou, die dinge wat ’n mens doen en dink, asook hoe die mense om jou jou tydens jou rouproses ervaar.

Dit klink asof skryf terapeuties was vir jou.

Skryf is definitief helend. Ek reken daar word gehamer daarop dat skryf terapeuties is, want dit ís. Baie mense wat nie in ’n kunstige sin skryf nie, hou tog dagboek en het die behoefte om hul daaglikse lewens uit te skryf. Dit is ’n manier om jou gedagtes te orden en sin te maak van die “geraas” wat in jou kop tydens donker tye (of muisneste, seker die rede waarom daar so baie love songs geskryf word) aangaan.

As ’n liedjieskrywer gebeur dit baie natuurlik vir my. Ek is oor die algemeen baie streng met myself. Sodra ek sing oor iets, is dit asof ek uit ’n sagter oogpunt my gevoelens aanvaar, kan aanspreek en kan aanbeweeg.

Wat sal aanhangers van veral Die Melktert Kommissie verras op hierdie album?

Ek is nogal baie eerlik op hierdie album. Met die laaste Melktert-musiek was ek jonger; ’n mens skryf eerlik, maar ook met die wete dat mense luister. Op dié album het ek besluit om ’n bietjie meer voorbarig te wees en dinge te sê soos ek dit voel. Verder is die musiek ook nogal anders, aangesien ek saam met ander musikante gewerk het: Wesley van der Westhuizen veral, ook Peach van Pletzen van Planet Awesome.

Die Melktert Kommissie is my grootste aanhangers. Hulle het basies eerste die liedjies geluister en is die mees ondersteunende groep mense onder die son. Ek sal altyd dankbaar wees daarvoor!

  • Uitgeskryf is reeds uitgereik en is op die digitale platforms Amazon Music, Apple Music, Deezer, iTunes, Napster, Pandora, SoundCloud, Spotify, Tidal, Yandex en YouTube Music beskikbaar.
Meer oor:  Apple Music  |  Youtube Music  |  Itunes  |  Pandora  |  Tidal  |  Spotify  |  Bouwer Bosch  |  Lucinda  |  Jip  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.