Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
LUISTER: Naaimasjiene kapittel Trump behoorlik

Donald Trump se kaskenades as Amerikaanse president was die vonk in die kruitvat wat die musiekgroep Die Naaimasjiene aangespoor het om in ’n nuwe enkelsnit “gal te braak oor dié gevaarlike hanswors”.

Die groep, wat bestaan uit Dokter Boomslang (sang, liriekskrywer), Vadertjie Langbeen (produksieleier, komponis, verwerker), Dougg Phat (kitaar), Mr Zooty E (veelsydige instrumentalis) en Soekie Vogel (sang, perkussie), het Sondag die amptelike musiekvideo van “Trumpocalypse” uitgereik – en daarin nie vir ’n oomblik doekies omgedraai oor wat presies hulle van Trump dink nie.

Een van die verse in die liedjie lui: “Hey, Mr. President, where is your little brain? Your IQ, your sanity, it all washed down the drain. You feed us with Big Pharma, wash every little brain. You love the psycho-drama, and flourish from the pain.

Dokter Boomslang sê aan Netwerk24 die liedjie, waarin die akteur Marcel van Heerden ook as gaskunstenaar optree, het eintlik sy oorsprong in boeke oor Trump wat hom (Dokter Boomslang) ná sy verkiesing as president gefassineer het.

“Juis oor die hele verskynsel van iemand soos Trump as een van die magtigste mense ter wêreld – as ’n mens dit klinies van buite bekyk is dit niks minder as bisar nie,” sê hy.

“Dit is ook soos die beste absurde teater of surrealistiese tragikomedies wat ’n mens in vandag sê wêreld kan teëkom – en die beste van alles is, dit is nie fiksie nie, dit is alles die werklikheid. Die lewe het baie soos werklikheidstelevisie geword.

“Die boeke (oor Trump), en dan natuurlik al Trump se streke op TV, het my mond laat water om ’n bietjie gal te braak oor dié gevaarlike hanswors.”

Dokter Boomslang met van die boeke oor pres. Donald Trump wat tot die enkelsnit ‘Trumpocalypse’ gelei het. Foto: Verskaf

Luisteraars sou eintlik al vroeër vanjaar die liedjie gehoor het, maar die snit se uitreiking is vertraag “ná verset uit sommige geledere”, luidens ’n Facebook-inskrywing, oor die snit se oorspronklike titel, “Po3sklap”.

“Dit was maar net ’n ligte storm in ’n teekoppie,” sê Dokter Boomslang.

“Ons het ’n baie lekker Facebook-blad – dit is nie soos jou tipiese ou popster-bubblegum nie, maar meer soos ’n fanzine of ’n little magazine. Ons deel daarop alles waarvan ons hou, daar is baie satire en maatskaplike kommentaar, en ek skryf ook ’n gereelde rubriek oor boeke, Boeke, koeke & donker hoeke.

“Ons sangeres en residensiële digteres, Soekie Vogel, het ook haar eie rubriek, Soekie se hoekie, waarin sy gereeld haar pennevrugte deel. In een gesprek op die blad is daar gemeld dat “Po3sklap” ’n lekker naam vir ’n song kan wees, maar Soekie was woedend en het gesê só ’n titel is seksisties, onsensitief en onsmaaklik in hierdie dae van geweld teenoor vroue.

“Ons het dadelik haar punt ingesien, en toe het die song maar vanself in ‘Trumpocalypse’ ontwikkel.”

Kritiek soos dié is nie vir die groep ’n nuutjie nie. Aanhangers sal onthou dat hul debuutalbum, Die saai lewe, in 1989 uitgereik is toe die groep nog as Randy Rambo en die Rough Riders bekend gestaan het. Die album is kort daarna deur die destydse apartheidsregering verbied nadat die sangeres Anneli van Rooyen se pa volgens Dokter Boomslang by die Publikasieraad kapsie daaroor gemaak het.

Die album is kort daarna deur die destydse apartheidsregering verbied nadat die sangeres Anneli van Rooyen se pa volgens Dokter Boomslang by die Publikasieraad kapsie daaroor gemaak het.

Daarby het ’n “smallminded suurgat”, luidens ’n inskrywing op die groep se Facebook-blad, ook in September vanjaar hul Soundcloud-rekening gerapporteer, wat sonder enige kennisgewing kort daarna geheel en al uitgewis is.

“Dit verras ons nog as mense oor ons gaan kla by Facebook of Soundcloud en probeer om ons profiele gesluit te kry. Ons leef tog in 2020, nie meer in 1948 nie,” sê Dokter Boomslang.

“Ons by Die Naaimasjiene sê wat ons wil. Ons is grootmense. En ons is nie vir sissies nie. Ek dink ’n rede hoekom ons sekere mense ontstel, is omdat ons nie bang is om te praat oor goed waaroor ander mense net fluister nie. Maar ons het vryheid van spraak en ons het al ’n goeie offensief opgebou teen die suurgatte wat ons probeer ondermyn.”

Dié “suurgatte” keer hulle ook nie om verder musiek te maak nie – Dokter Boomslang sê hulle sal nog liedjies uitreik “tot die dag dat ons lepel in die dak steek”.

Die groep het in 2002 die album Live uitgereik. In 2018 het die enkelsnit “O Pieleplaas” gevolg,en in Desember verlede jaar is die enkelsnit “Vakansietyd in Hartenbos” gehoor, wat geïnspireer is deur Deon Wiggett se podsending My Only Story.

Dié musiek is op onder meer iTunes, Apple Music, YouTube Music en Amazon beskikbaar. Besoek die Facebook-blad https://www.facebook.com/dienaaimasjiene vir meer inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.