Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
LUISTER: Nuwe duette, liefdesliedjies is volop

Vier duette, drie sangers wat elk twee enkelsnitte uitgereik het, en twee liedjies oor sangers se liefde vir Suid-Afrika en die res van die vasteland, is onder die nuwe musiek wat onlangs uitgereik is. Christiaan Boonzaier het geluister.

• As Lydia Winchester, een van die land se voorste musiekbemarkers, sê sy “was baie lanklaas so opgewonde oor ’n groep”, kan jy haar maar glo.

Winchester verwys na die 4 Eva Young Band, wat in Februarie vanjaar gestig is. Die groep bestaan uit die jongelinge Caitie Rock (11), Johan van Rooyen (11), Reuben Herbst (10) en Zandri Bezuidenhout (9) – en hulle maak ondanks hul ouderdom musiek soos van ons volwasse sterre.

Hul eerste enkelsnit, “Sunny Day”, is onlangs uitgereik, en het luidens ’n mediaverklaring ’n moderne pop-gospel-gevoel, hoewel hulle hulleself nie as gospelgroep beskou nie.

“Die liedjie moet net ’n positiewe uitwerking op jonk en oud hê,” sê Reinhard Herbst, Reuben se pa.

“Die kinders is baie lief vir pop- en rockmusiek, en hulle wil veral op die jeug fokus.”

Juan Boucher was doenig: Naas die musiekvideo van sy liedjie “Trou” het hy ook onlangs die pop-rock-ballade “Afrika” saam met Jan Rhaap uitgereik.

Hou maar ’n snesie byderhand vir die musiekvideo van “Trou” omdat dit beeldmateriaal bevat van Boucher en sy vrou, Shamodene, se troudag. Luidens ’n mediaverklaring het Boucher ook die liedjie op hul troudag in Maart vir sy bruid gesing.

Liefde is ook die onderwerp van “Afrika”, wat Rhaap geskryf het om sy waardering vir ons vasteland te verklaar.

“Ek hoop hierdie liedjie laat mense opnuut besef hoe bevoorreg ons is om in Afrika te kan bly, met haar pragtige natuur,” sê Rhaap in ’n verklaring.

Dit is nooit te laat om jou eerste enkelsnit uit te reik nie – vra maar die 53-jarige C-Storm, oftewel Carel Sebastiaan.

Hy het nie net onlangs sy debuutsnit, “Kol op die maan”, die lig laat sien nie, maar ook kort daarna die rock-snit “Vaderland” uitgereik.

“Kol op die maan” vertel luidens ’n mediaverklaring ’n fantasiestorie oor ’n oupa en sy kleinseun wat op ’n boot klim en na ’n eiland reis waar daar net liefde is.

“Die liedjie sinspeel op die soeke na liefde en aanvaarding, en as ons liefde in ons harte het, moet ons dit mos deel, of hoe?” sê C-Storm.

“Vaderland” is ietwat donkerder omdat C-Storm daarin die pyn van ’n egskeiding, sy pa se kankerdiagnose en kort daarna ook sy dood probeer verwerk.

“Ek is ’n optimis en glo dat elke mens inherent goed is – ons moet deur moeilike tye daar wees vir mekaar,” sê hy.

• As jy ’n RSG-aanhanger is, sal jy dadelik die omroeper Esté Gross se stem herken. Op “Hemelruim”, haar tweede enkelsnit, span sy haar bekende stem op ’n heel ander manier in.

Gross, wat die liedjie saam met Len Muller sing, sê in ’n mediaverklaring die liedjie is geïnspireer deur Eksodus 16 waarin God manna uit die hemel laat reën. Die liedjie gaan daaroor om die beste van elke dag te maak.

“Elke dag is opnuut ’n kans om jou drome uit te leef,” sê sy.

“Jy moet wel geloof hê en self die manna vir elke dag gaan optel.”

Emile Welman, ’n voormalige lid van die groep Overtone, het al die pad vanaf Kalifornië na Suid-Afrika teruggekeer om sy eerste Afrikaanse liefdesliedjie uit te reik.

Welman sê in ’n mediaverklaring “Sprokiesland” is deur sy oorlede pa geïnspireer.

“In Julie 2019 is fase 4-lewerkanker by my pa gediagnoseer. In daardie stadium het ek reeds vir tien jaar in Amerika gewoon en net een of twee keer per jaar in Suid-Afrika kom kuier.

“My pa was mal oor Afrikaanse musiek en ek wou iets skryf waarvan hy sou hou en sou waardeer. Ek het dus die liedjie geskryf in die hoop om dit so gou as moontlik op die radio te kry. Hy is toe ongelukkig oorlede en het nooit die liedjie gehoor nie, maar ek is vasberade om hom steeds trots te maak.”

• Duette, soos Mack Rapapali en Christiaan Baartman se “ ’n Vriend soos jy”, is deesdae volop.

Baartman, wat nog nie voorheen saam met Rapapali gesing het nie, sê in ’n mediaverklaring die liedjie se titel vat die sentrale boodskap goed saam.

“Ons almal het daardie een mens of vriend wat jou van binne en buite ken, al jou sterk- en swakpunte. Die eerste persoon wat jy bel wanneer jy in die moeilikheid is en die eerste persoon wat jy bel om mee goeie nuus te deel. Dít is ‘ ’n Vriend soos jy’.”

• Die sangpaar Jack & June het ook ’n nuwe duet opgelewer. “Kom terug bed toe” volg op hul eerste wegholtreffer, “Steek ons liefde aan die brand”, en vestig hulle as die opwindendste nuwe sangpaar in Afrikaanse countrymusiek.

Luidens ’n mediaverklaring openbaar hulle weer in hul jongste snit hul liefde vir mekaar en raak hulle aan “die ligter kant van die getroude lewe waarmee paartjies hulle mee sal kan vereenselwig”.

• Die sangeres Lana Crowster gaan net van krag tot krag. Benewens verskynings op The Voice en die speletjiesprogram Musiek Roulette, het sy ook die album Subconscious verlede jaar uitgereik.

Haar jongste enkelsnit, “Fake”, verskyn op dié album, wat sy in ’n mediaverklaring sê ’n klompie kortverhale saamvat.

“ ‘Fake’ is ’n liedjie wat ek geskryf het oor ons generasie se neiging om tyd te belê in ander mense se persepsie van wie ons is, in plaas daarvan om net jou ware self te omarm.

“Ek hoop dit herinner mense dat jou ware self liefde, vriendelikheid en respek verdien.”

Crowster hoop om in September met haar musiekstudies aan die Universiteit van New York te begin. Finansiering bly egter ’n probleem; sy het haar daarom tot skarefinansiering op die webwerf BackaBuddy gewend om haar New York-droom te bewaarheid.

Besoek https://www.backabuddy.co.za/lana-crowster as jy haar kan help.

• Die aktrise en sangeres Christia Visser het ondanks die Covid-19-pandemie ’n droomjaar in 2020 beleef: Haar debuutsnit, “17 shots”, en “Die deur” het goue toekennings verwerf én haar album Gemaklik verlore is vir ’n Sama benoem.

Sy volg dit nou op met die enkelsnit “Beste leuen wen”, waarmee sy weer haar voorkeur vir kragtige popsnitte openbaar.

Luidens ’n mediaverklaring sal veral paartjies wat worstel met klippe in hul pad, by die liedjie aanklank vind.

• Benewens Juan Boucher en C-Storm het Jezelle ook onlangs twee nuwe enkelsnitte kort na mekaar uitgereik.

Nadat sy die sokkieliedjie “Jan Koffiekapitaal” uitgereik het om die lewe van die storieverteller Jan Spies te vier, het sy dit opgevolg met “Suid-Afrika”, waarin sy meer ernstig oor haar liefde vir die land sing.

“Hierdie is nie ’n politieke liedjie nie,” sê sy in ’n mediaverklaring oor “Suid-Afrika”.

“Maar een ding wat niemand van kan wegkom nie, is die feit dat ons almal hierdie land deel.

“Jy mag dalk reken ons verskille is onversoenbaar, maar ek waarborg jou dat oor-en-weer-bakleiery net gaan afbreek en beslis nie gaan opbou nie.

“Maar ons kan dit nie self doen nie. Daarom moet ons hande vat en op die grond neerval en vra: O, God, kom red ons land.”

Meer oor:  Christia Visser  |  Len Muller  |  Musiek  |  Juan Boucher  |  Enkelsnitte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.