Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
LUISTER: Nuwe enkelsnitte stroom in

Suid-Afrikaanse sangers het beslis nie tydens inperking op hul louere gerus nie. Nuwe enkelsnitte word byna daagliks uitgereik en stroom sonder ophou in. Christiaan Boonzaier het die jongste musiekaanbod saamgevat.

• As jy hoor hoe sy sing, sal jy weet hoekom dit moeilik is om te glo dat Lillia Lessev net 16 jaar oud is!

Dié sangeres van Bulgaarse afkoms het vroeër vanjaar met die enkelsnit “Heartless” gedebuteer en het dit onlangs opgevolg met “Ghosts” – ’n popballade waarmee sy nie net haarself in Suid-Afrika se musiekbedryf vestig nie, maar ook kan aanspraak maak as een van ons beste sangers.

As Lillia vir jou bekend lyk, het jy haar waarskynlik in 2018 by Jacaranda FM se JacaDay gesien, ’n geleentheid wat sy ná ’n kompetisie losgeslaan het.

Hou dié belowende sangeres dop!

• Nadat die musiekgroep Adam ’n bietjie meer as ’n jaar gelede ontbind het, het hulle onlangs aangekondig hulle gaan weer herenig – dié keer met ’n nuwe lid.

Kyle Grant en Hugo Ludik het afskeid geneem van Reynardt Hugo en Christoff de Beer in sy plek verwelkom. Saam het hulle hul eerste enkelsnit, “Liefde is”, onlangs uitgereik.

“Die (musiek)video is modern en sexy, met neonligte, mooi meisies en puik dansers,” sê Grant in ’n mediaverklaring.

“Ons wou graag ’n internasionale gevoel na die Afrikaanse mark bring en is baie opgewonde om ons idee met aanhangers te deel.”

Die musiekvideo is vir al drie lede in die groep ekstra spesiaal omdat elkeen se wederhelf daarin verskyn: Danieka du Plessis (Ludik se verloofde), Leighré White (De Beer se meisie) en Elizca Coetzer (Grant se vrou).

Emma Ellis, wat aan die tweede reeks van The Voice SA deelgeneem het, kan met haar enkelsnit “Kombuis” aanspraak maak op een van die mooiste Afrikaanse snitte van die jaar.

“Ek hoop die publiek kan aanklank vind by die hartseer wat ons gevoel het toe ons dit geskryf en gesing het,” sê Ellis in ’n mediaverklaring.

“Die einde van ’n verhouding is iets waardeur die meeste mense al self gegaan het en ek hoop dat ‘Kombuis’ vir iemand anders ook kan afsluiting bring.”

Die liedjie se musiekvideo is in die Port Elizabeth-operahuis verfilm, waar Ellis vir die eerste keer as kind opgetree het.

Die roerende liedjie is vervaardig deur Richard Onraet van Van Coke Studios.

• Liedjies het soms ’n vreemde oorsprong – en dít is presies die geval met “Sweetness”, wat Kyle September onlangs uitgereik het.

“Ek was op toer in Botswana saam met my musikant-vriend Lindo M,” sê September in ’n mediaverklaring.

“Een oggend het ons gaan ontbyt eet. Ons het toevallig vir mekaar gekyk op presies dieselfde oomblik as wat ons albei ’n hap van ons kos gevat het. Ek vra hom toe wat so spesiaal is aan die situasie. Sy antwoord was dat dit gaan oor daardie soet samesyn in die lewe.”

Dít het September aan die dink gesit, ook oor die “onbeskryflike X-faktor” tussen lewensmaats, en dit is toe dat hy “Sweetness” skryf en sing.

“Uit ’n musikale oogpunt is ‘Sweetness’ die eerste liedjie wat ek uitgereik het nadat ek my ware klank ontdek het,” sê hy.

“Dit is ’n besonderse werk wat my ware identiteit as musikant weergee.”

• Die liedjie “Come Again” was eintlik bestem vir ’n Koreaanse platemaatskappy, maar is uiteindelik saam deur die musiekgroepe Rubber Duc en Adam opgeneem.

Nick Jordaan, hoofsanger van Rubber Duc, sê in ’n mediaverklaring die liedjie is hier in Suid-Afrika deur kunstenaars van Muse Studios geskryf met die hoop dat K-pop-musikante in Korea daarin sou belang stel.

“Ons skryf baie liedjies vir ander kunstenaars, maar daar was net iets spesiaals aan die een wat ons nie uit ons kop kon kry nie,” sê Jordaan.

Hugo Ludik, lid van Adam, stem saam.

“Ons het uiteindelik so baie van die liedjie gehou dat ons besluit het dat Adam en Rubber Duc dit eerder moet opneem – en ons is bly ons het!” sê hy.

Deon Dee het sy jongste enkelsnit, “Lewe”, saam met Fokofpolisiekar se Hunter Kennedy geskryf – en dit deur WhatsApp!

“Aangesien dit vlak 5 van die inperking was, kon ons nie saam in een vertrek skryf nie, so ons het via WhatsApp idees, lirieke en stemboodskappe uitgeruil en die liedjie só voltooi,” sê Dee in ’n mediaverklaring.

Hy wil met die liedjie mense herinner dat hulle waardevol is.

“Ek wil met die liedjie luisteraars motiveer om te begin dink oor wie hulle is, wie hulle sê hulle is en wie hulle werklik wil wees.”

• Die sanger Renaldo Alberts, wat net 13 jaar oud was toe hy as Mnr. Junior Suid-Afrika gekroon is, het sy musiekloopbaan met die enkelsnit “Hoe hoog” afgeskop.

Hy sê in ’n mediaverklaring dit gaan oor hoe jy bereid moet wees om enigiets te doen vir die persoon wat jy liefhet.

“As die persoon sê jy moet spring, moet jy vra: ‘Hoe hoog?’ ’n Mens kan altyd net hoop dat ’n verhouding na albei kante toe sal uitwerk. Om dit te laat gebeur, moet jy bereid wees om uit jou pad te gaan vir die een wat goed is vir jou,” sê hy.

Alberts, ’n B.Com-student aan die Universiteit van Pretoria, sê hy sal graag met sy musiek mense wil inspireer.

“Wanneer mense na my musiek luister, moet hulle geïnspireer voel om pret te hê en met hoop en liefde gevul wees.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.