Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
LUISTER: Nuwe liedjies oor hoop, positiwiteit

Heelwat sangers het nuwe enkelsnitte uitgereik waarmee hulle ’n boodskap van hoop en positiwiteit onder musiekliefhebbers wil aanwakker. Christiaan Boonzaier vat dié nuwe musiekaanbod saam.

• Hoewel Gerrie Pretorius besluit het om nie meer te sing en nuwe liedjies op te neem nie, het Chris Else sy arm gedraai om saam met hom die Bles Bridges-liedjie “Ek sal by jou staan” te sing.

“Dit was in die tyd toe Covid-19 reeds mense om ons begin wegneem het en gesinne uitmekaar geskeur het, en ek wou iets inspirerend daar buite kry,” sê Pretorius in ’n mediaverklaring oor die duet.

Else sê op sy beurt dit was ’n “groot voorreg” om Bridges se welbekende liedjie saam met Pretorius te sing.

“Dit was omtrent moeite om hom (Pretorius) te oortuig (om die liedjie te sing), maar nou kan ons die boodskap van hoop en positiwiteit oordra.”

Musiekliefhebbers is duidelik beïndruk met hul weergawe: Dit is in ’n bietjie meer as ’n maand byna 29 000 keer op YouTube geluister.

Dozi is nog ’n sanger wat breed glimlag oor YouTube-syfers: Die musiekvideo van sy jongste enkelsnit, “Dis hoekom”, is in vyf dae meer as 18 000 keer gekyk.

Dié enkelsnit verskyn op Dozi se 19de album, Vrede, en gaan in sy eie woorde oor “plekke se name wat verander en die verwarring wat daarmee gepaard gaan”.

“Dit is ’n ligte, humoristiese liedjie wat gaan oor die dinge wat ons almal eintlik kwaad maak, maar die liedjie werp ’n bietjie lig daarop,” sê hy in ’n mediaverklaring.

“Ek dink mense sal aanklank vind en kan deel in die humor omdat dit so van toepassing is op die huidige omstandighede in ons land.”

Brendan Peyper het “heel onskuldig” een aand ’n uittreksel van ’n potensieel nuwe liedjie op sy Facebook-blad gedeel. Die reaksie op dié uittreksel was so oorweldigend dat hy die uittreksel in ’n volwaardige liedjie, bekend as “Op jou spoor”, omskep en twee weergawes daarvan aanlyn uitgereik het.

Aanhangers moet nou toutrek oor watter weergawe hul gunsteling is, maar albei maak aanspraak op een van die mooiste Afrikaanse snitte van die jaar.

• Politieke onrus en die Covid-19-pandemie wat verwoesting saai het Tertius Swanepoel geïnspireer om die enkelsnit “ ’n Land met vrede” te skryf en uit te reik.

Daarmee bepleit hy luidens ’n mediaverklaring nie vryheid nie, maar vrede.

“Dit is ’n lied wat ek geskryf het vir die mense van ons land. Mense lewe net vir hulself, of dit nou hartseer bring of nie, of dit nou God se goedkeuring wegdra of nie. Met die lied pleit ek om vrede en vergifnis; ons sal sterker teen die vyand kan staan as ons mekaar vergewe en liefhet.”

• Die Clarens-sangeres Kate Rok het haar debuut-enkelsnit, “Maangenade”, op haar verjaardag uitgereik.

Luidens ’n mediaverklaring gaan die liedjie oor “hoe nietig die mens is in vergelyking met die grootsheid van die skepping”.

“Hierdie lied het ek geskryf om te onthou dat ondanks die seer in ’n mens se lewe, daar ook soveel mooi en lekker dinge is,” sê Rok.

“As jy daarop fokus, vind jy genesing in die vreugde van soveel ander goed – soos familie, vriende en die natuur.”

• Hoekom werk Afrikaanse en Nederlands- of Vlaamssprekende sangers nie meer gereeld saam nie?

Dit werp duidelik vrugte, as jy Lee Scott en die Nederlander Ryan Claud se nuwe duet, “Todo El Mundo – Dancing in the Streets” luister.

Dié liedjie is onlangs uitgereik en is hopelik die begin van ’n vennootskap wat ons in die toekoms weer sal hoor.

• Die sanger Anton Thomas is met sy nuwe enkelsnit, “Soms”, vas oortuig hy het met ’n “splinternuwe klank vorendag gekom”.

Thomas, wat jare gelede aan Patricia Lewis se talentsoekkompetisie Supersterre deelgeneem het, sê sy liefde vir country en rock is in “Soms” vermeng om iets nuuts te lewer.

Die liefde is ook die onderwerp van dié liedjie omdat Thomas homself as ’n liefdesliedjieskrywer ag.

“My liedjies handel meestal oor situasies, emosies en omstandighede in ’n liefdesverhouding,” sê hy in ’n mediaverklaring.

“Ek poog altyd om liedjies te skryf wat die positiewe kant van die liefde uitbeeld, nie die negatiewe nie. Ek glo dat God liefde is, en ek glo ook die liefde is ’n werklike teenwoordigheid van wie God is.”

Dirk van der Westhuizen het ná sy jongste album, Dirty 30’s, weer teruggekeer na sy wortels en die enkelsnit “Roekeloos” uitgereik.

As jy versot is op sy vorige treffers, soos “Sexy vi my” en “Net so (mmm)”, gaan jy net so baie van “Roekeloos” hou.

Henrico Coetzer wou ook soos Gerrie Pretorius en Chris Else ’n boodskap van hoop bring met sy nuwe enkelsnit, “Die lewe”.

Hy sê in ’n mediaverklaring die liedjie, wat op sy album Dis wie ek is . . . verskyn, wil luisteraars aanspoor om altyd die positiewe in ’n negatiewe situasie te soek.

“In die tyd waarin ons nou is, het die land en ons mense iets nodig wat hulle opgewonde maak en moed gee,” sê hy.

“Ek was op ’n plek my loopbaan waar ek gesoek het na ’n lied wat positief is vir die mense daar buite. Iets so ’n bietjie anders as die gewone om te wys dat jy met die regte denke ’n negatief in ’n positief kan verander.”

• Ook Prophet, wat bestaan uit Koos van der Merwe en Theo Geyser, herinner luisteraars met hul nuwe enkelsnit, “Dankbaar en tevrede”, om hul seëninge in die moeilike tyd te tel.

Die liedjie, wat deur Van der Merwe geskryf is, is luidens ’n mediaverklaring ’n Afrikaanse folk-treffer oor vergenoegdheid.

“Dit help ons om perspektief te behou,” sê Van der Merwe.

“Ons is geneig om in moeilike tye net op die negatiewe te fokus, maar daar is nog soveel om voor dankbaar te wees.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.