Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
LUISTER: Nuwe musiek vir ’n nuwe maand

’n ‘Obskure musiekduo’, ’n klavieronderwyseres en ’n mynopmeter is onder die sangers wat almal onlangs nuwe enkelsnitte uitgereik het, berig Christiaan Boonzaier.

• Hulle word as ’n “obskure musiekduo uit Kaapstad” beskryf en “hou hulleself blykbaar dom deur hul nuwe “treffer” met die aanstootlike titel “Ek en jy dikgat”– voor te hou as skok-komedie met intellektuele byt”, maar daar is niks wat Mymymy so goed beskryf soos hul musiek self nie.

Die duo, bestaande uit Conrad van Breda en Jana Oosthuizen, stel binnekort ’n debuutalbum bekend wat saam ’n storie vertel; hulle sê dat “Ek en jy, dikgat” binne die konteks van dié storie geluister moet word.

“Dit gaan soos ’n musical wees,” sê Van Breda in ’n mediaverklaring oor die album.

“Eintlik meer ’n low budget trash opera.”

Oosthuizen sê sy het rapmusiek in die verlede aanstootlik gevind omdat ’n “plus-sized man met baie klere aan” in die voorgrond sit terwyl “pragtige, slanke dames met min klere aan” agter hom dans.

“Die lirieke van ons song is uit die dames se oogpunt geskryf. Dis sarkasme,” sê sy.

Jeanette Pretorius van die bekroonde groep Heuning maak met die enkelsnit “Bee-Bee die by” haar toetrede tot die Afrikaanse kindermusiekmark – en jy gaan op dié snit nie net vir Pretorius hoor nie, maar ook haar dogter, Megan.

Pretorius sê in ’n mediaverklaring sy het die karakter, Bee-Bee, tydens die staat van inperking geskep.

“Ek moes my dogtertjie met haar graad R-huiswerk help. Ek het besef dat daar ’n groot behoefte aan opvoedkundige kindermusiek met ’n lekker ritme en kommersiële klank is,” sê sy.

Sy sê sy het juis ’n by as karakter geskep omdat bye so ’n belangrike rol in die natuur speel.

“Kinders is gewoonlik bang vir insekte en ek wou graag daardie persepsie deur middel van die bytjie verander.

“Omdat die liedjies ook opvoedkundig is, het ek besluit om ’n sterk karakter, wat ook ’n waardevolle bydrae tot die samelewing lewer, te skep.”

Pretorius het reeds opvolgliedjies vir Bee-Bee geskryf en sy hoop om dit later ook na Engels en Zoeloe te vertaal.

CheraLee het ’n baie duidelike boodskap met haar jongste enkelsnit, “As môre kom”: Die lewe is kort en môre is nie vir seker nie.

Sy sê in ’n mediaverklaring sy wil luisteraars daaraan herinner om elke dag voluit te leef.

“Ek en my man het vroeg in ons verhouding ’n uitval gehad wat ons baie omgekrap het. Ek het my pa en stiefma genader vir raad oor hoe om dié situasie te red. Albei van hulle het hul vorige lewensmaats aan die dood afgestaan en die boodskap aan ons was om mekaar met respek te hanteer en elke dag ons liefde aan mekaar te wys.

“Hulle het baie ernstig met ons gesels en gevra dat ons moet seker maak dat ons nie oor klein goed baklei nie, maar mekaar eerder elke dag te koester, want die lewe is baie kort.”

• Nadat hy sy album Op plekke waar ons eens was in 2019 bekend gestel het, het Neil Nachtrein een van die snitte daarop, “Weet jy nie?”, pas as enkelsnit uitgereik.

Nachtrein, wat voorheen saam met Jan Blohm in die groep Blomtrein was, neem luisteraars met dié snit weer op reis en diep ervarings op sy eie lewenspad daarin op.

Hoogs aanbevole vir liefhebbers van alternatiewe Afrikaanse musiek met ’n folk-invloed!

• Die sangeres Monét de Jongh het ook soos Nachtrein ’n liedjie op ’n bestaande album as nuwe enkelsnit uitgereik.

“Weet waaroor dit gaan” verskyn op De Jongh se 2020-album, Bosnimf. Dit is luidens ’n mediaverklaring “lig en verfrissend, nes die oggendson wat sy strale liggies druk deur die dak van ’n woud om vir mens en dier lig te bring”.

As sy nie sing nie, is De Jongh ’n klavieronderwyseres – en as jy ’n baie goeie geheue het sal jy haar en haar susters onthou as kategoriewenners van die ATKV-Crescendo-kompetisie in 1983 en 1984.

• Luister “Walk Through Fire” kliphard as jy deur ’n moeilike tyd gaan – só sê Danileigh Steyn oor haar nuwe enkelsnit.

Sy het die liedjie aan die begin van die Covid-19-pandemie geskryf en is deur haar mentor, Hyzel Hynek, aangespoor om dit te voltooi.

“Die kern van hierdie lied is gegrond op die legende in die Bybel waar Daniël se vriende Sadrag, Mesag en Abednego in die hart van ’n vuuroond gegooi is omdat hulle geweier het om voor enige ander god buiten God self te buig,” sê Steyn in ’n mediaverklaring.

“Hulle was oortuig dat daar geen ander God is nie. Hoewel die besluit hul lewens op die spel geplaas het, het hulle steeds nie ophou glo nie! Binne ’n vuuroond was daar ’n ander man; dit was God wat in dieselfde vuur gestaan het.

“Vir my is dit die soort liefde en geloof wat ’n verskil in die wêreld maak.”

• Die egpaar Vernette en Marius Wessels, beter bekend as die groep Coffee Snobs, se jongste enkelsnit, “Branderkind” voeg twee van hul groot liefdes saam: hul seun en die see.

“Ek is baie lief vir die see, dit is my gunstelingdeel van die skepping en ek voel geanker hier,” sê Vernette in ’n mediaverklaring.

“Al voel dit of die wêreld inmekaar tuimel (soos die laaste jaar) kry ek altyd nuwe perspektief en hoop bloot net deur vir die see te kyk of my tone in die water te sit.

“My seuntjie, Matthias, deel hierdie liefde en dis so wonderlik om te sien hoe die energie deur hom bruis as ons op die strand of in die water is. Ek weet die see sal altyd deel van hom wees en ’n plek waar hy kan vry wees om voluit te leef!”

• Die akteur en sanger Reggie Peace wys sy sagter kant met die twaalfde enkelsnit op sy kerfstok, “Trou met my”.

Luisteraars kan uit die titel aflei dit gaan oor ’n man wat die liefde van sy lewe die jawoord vra.

“Tog dink ek dat almal ’n longing het vir ware liefde en ware liefde is waaroor die figuurlike storie gaan,” sê hy in ’n mediaverklaring.

“Ek het dit gekies om vir mense te wys dat daar ook ’n ander, sagte, liefdevolle kant aan Reggie Peace is.”

• Ruan van Niekerk, beter bekend as RVN, toon sy staal as liedjieskrywer met sy nuwe enkelsnit, “Intieme vuur”.

Van Niekerk, ’n mynopmeter van Middelburg in Mpumalanga, het die liedjie ’n week ná sy 24ste verjaardag (op 1 April) uitgereik. Hy sê in ’n mediaverklaring hy wil luisteraars daaraan herinner om nooit hul drome prys te gee nie.

“Ek wil graag mense aanspoor om nooit op te gee nie; om ’n lig en terselfdertyd ook ’n vuur te wees vir mense wat voel dat hulle nie meer in die samelewing kan oorleef nie.

“Jou aksies kan mense ophef of afbreek; jou aksies kan die verskil tussen lewe en dood beteken. Met die liedjie wil ek aan luisteraars sê dat ’n mens net sterker kan raak deur die pyn van jou verlede en dat dáárdie dinge van jou ’n held kan maak.”

• Die sanger Devan het die enkelsnit “Seisoene” uitgereik kort voordat die winter sy kloue in Suid-Afrika inslaan.

Devan, ’n relatiewe nuwe stem vanuit Bloemfontein, wys luidens ’n mediaverklaring met die snit sy “dieper kant” omdat hy nie net oor die somer, herfs, winter en lente sing nie, maar ook die diep waters en talle hoogtepunte waardeur ’n verhouding gaan.

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Pandemie  |  Inperking  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Staat Van Inperking  |  Heuning  |  Musiek  |  Enkelsnitte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.