Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
LUISTER: Richann en René se 1ste enkelsnit

Die immergewilde werklikheidsreeks Boer soek ’n vrou op kykNET het vanjaar iets meer as net die liefde opgelewer – een van die boere en sy meisie het ’n nuwe musiekgroep begin.

Boer Richann Brüssow (30) van Vredefort in die Vrystaat en sy pasmaat van die TV-program, René de Klerk (26), het nie net Donderdag in die finale episode aangekondig hulle is steeds ’n paartjie nie, hulle het ook Donderdagaand hul eerste enkelsnit bekend gestel onder hul verhoognaam, Reën. Dit is van Vrydag af op alle digitale platforms beskikbaar.

Die pasmaats van ‘Boer soek ’n vrou' Richann Brüssow en René de Klerk is steeds ’n paartjie. Foto: Verskaf

Hulle het die lirieke van “Vrystaat Vlaktes” saam geskryf en sê dit vertel die storie van hul ontmoeting op Boer soek ’n vrou.

Richann het op die program gepraat oor sy liefde vir musiek en sy talent selfs ’n bietjie ten toon gestel toe hy vir René, Marizel en Annemien kitaar gespeel het terwyl hulle op die plaas gekuier het.

Nadat hy René as pasmaat gekies het, het hulle gesê hulle geniet dit om saam musiek te maak en oorweeg dit om ’n musiekgroep te begin wat by troues of spesiale geleenthede kan optree.

“Dit het eintlik nie lank geneem vir ons om ’n kitaar uit te pluk en ’n bietjie saam te speel en te sing nie. Ons het besef dat ons dit eintlik verbasend baie geniet om dit saam te doen,” het die paartjie per e-pos aan Netwerk24 gesê.

“Die saamwerk-aspek het nie natuurlik gekom nie. Dit is maar ’n leerproses, want ons het baie verskillende persoonlikhede en maniere van dinge doen.”

Hoewel Richann, wat met skilderbokke boer, lief is vir musiek, het hy nog nooit regtig ’n musiekloopbaan gehad nie. Hy sê hy het “passieprojekte” aangepak soos die musiekgroepe Rieg van Finn, Flatlander en Valkenburg.

Dit het eintlik nie lank geneem vir ons om ’n kitaar uit te pluk en ’n bietjie saam te speel en te sing nie.
René de Klerk en Richann Brüssow is dolverlief. Foto: Verskaf

“Sommige mense sou dalk al van my musiek op kykNET gehoor het, maar dit was nie ’n loopbaan wat ek aktief nagejaag het nie. Ek het nog altyd meer belang gestel in musiekproduksie.”

René sê sy het nie juis formele musiekopleiding nie.

“As kind het ek klavierlesse geneem en toe vir ’n paar maande kitaarlesse. Ek was verskriklik skaam en twee van my vriendinne het my eintlik gedwing om ’n oudisie te gaan doen vir my hoërskool se a capella-groep, waarvan ek toe lid was.

“Ek het ook koor gesing op skool en toe ek my universiteitstudie in Kanada begin het.”

René het ná skool Kanada toe getrek en daar ’n paar los werkies gedoen, waarna sy ’n beurs gekry het om internasionale studies en Engels te studeer. Ná ongeveer drie en ’n half jaar in Kanada het sy teruggekom om politieke wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat te studeer. Sy het haar meestersgraad voltooi en werk as ’n junior lektor by die universiteit.

“Vrystaat Vlaktes” is die eerste lied wat die paartjie saam geskryf het.

Hulle is albei oorspronklik van die Vrystaat en ná René se paar jaar in Kanada en Richann se paar jaar in Gauteng, het hulle hulself weer in die Vrystaat bevind.

Die omslag vir Richann Brüssow en René de Klerk se eerste enkelsnit, ‘Vrystaat Vlaktes’. Foto: Verskaf

“Dit is ’n soort huldeblyk aan die Vrystaat en die platteland as geheel. Dis eintlik so spesiaal om van die platteland af te kom en mense besef dit nie altyd nie.

“So die platteland, en spesifiek die Vrystaatse platteland, is die direkte inspirasie. Ons het ook ’n bietjie elemente ingebring wat vertel van die Boer soek ’n vrou-ervaring,” skryf hulle in die e-pos.

Die liedjie se melodie is deur Murray Lubbe en Shan Read geskryf en die lirieke is deur Richann en René geskryf.

Hul verhoognaam, Reën, het vir hulle ’n dubbele betekenis.

“Oorspronklik het ons gesukkel om ’n naam te kry wat lekker sê en val op die oor. Ons het saam met Murray in sy ateljee gesit en omdat ons plaasmense is en Richann ook boer, wou ons dit op ’n manier inkorporeer.

Dit is ’n soort huldeblyk aan die Vrystaat en die platteland as geheel. Dis eintlik so spesiaal om van die platteland af te kom en mense besef dit nie altyd nie.

“Murray vra toe net die eenvoudige vraag: ‘Wat is iets wat alle boere wil hê?’ en ons het albei dadelik geantwoord, sonder om te dink daaraan: ‘Reën!’

“Dis ook toevallig ’n skommeling van die letters in René se naam, wat oulik is,” skryf hulle.

Gaan hulle nog musiek uitreik?

“Beslis ja! Dit is so ’n lekker proses en so ’n groot voorreg om dit saam te kan doen, ons sal vir seker nog liedjies skryf en uitreik.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.