Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
LUISTER: Rocker (22) se ‘rou’ lied nadat ma sterf

Die 22-jarige rocker Zaan Sonnekus van Pretoria sê hy’s gereed om die land aan die brand te “skree”. Hy gaan egter eers met sy jongste enkelsnit – sy eerste ná sy ma se dood weens die koronavirus – landwyd harte vermurwe. Hy vertel aan Christiaan Boonzaier meer.

Sonnekus se eerste enkelsnit, ‘Ek kan net bid’, verskyn ook later vanjaar op sy debuutalbum. Foto: Terse Photography

Toe Zaan Sonnekus besef hoe ernstig siek sy ma is, het hy hom tot musiek gewend om, in sy eie woorde, die “wrywing in my hart” te probeer begryp.

“Ek onthou dié aand baie goed,” sê hy. “Ek het in my bed rondgerol en probeer sin maak van wat aangaan. Ek het om en by 04:00 na my ateljee gegaan en ’n song op klavier geskryf.”

Dit was ’n uur of twee se terapie, sê hy.

“Dit (musiek) is hoe ek my pyn en woede verwerk. Dit is hoe ek met my sh*t deal. As dit nie was vir hierdie ‘terapiesessies’ in my ateljee nie, sou ek lankal mal gewees het. Wel, dalk is ek klaar,” sê hy laggend.

“Ek kan net bid”, die liedjie wat hy dié vroegoggend geskryf het, is Vrydag uitgereik en beloof om landwyd ’n beroering te veroorsaak. Sonnekus lig ook met die uitreiking van die liedjie sy hoed vir sy ma, Trudi (48), wat verlede jaar in ’n hospitaal in Johannesburg weens die koronavirus dood is.

“Sy was die mooiste mens wat al ooit spore in hierdie aarde se vuil sand gelos het,” sê hy.

“Sy was my mens en ek was hare.”

Hoewel hy nie gedink het dat hy dié diep persoonlike liedjie ooit sou uitreik nie, was daar geen ander snit waarmee hy Suid-Afrikaanse luisteraars ’n voorsmakie wou gee van die nog naamlose debuutalbum wat hy later vanjaar gaan uitreik nie.

“Dit is amper al waaraan ek dink. Dit voel amper onwerklik om te dink dat almal in hierdie song kan deel en iets kan voel.”

Hy erken wel dat hy “angstig” is omdat hy nie weet hoe luisteraars dit gaan ontvang nie.

“Solank dit iets vir net een mens beteken of iets binne hom/haar begin roer, is dit genoeg vir my. Ek voel wel ook opgewonde, want ek werk al lank aan hierdie droom. Dit mag dalk net die begin van iets groots wees.”

Sonnekus vertel hy is in Bloemfontein gebore, maar het in Pretoria grootgeword. Hy was nog altyd “van binne en van buite” ’n musikant, sê hy.

“Dit is in my bloed. Ek het vir ’n rukkie musiekproduksie aan Copa (die Campus of Performing Arts) gestudeer, maar het my studies gestaak om meer tyd aan my besighede te wy.”

Dié ondernemings sluit tans in Son Sound, wat musiektoerusting verhuur – ’n onderneming wat hy al op hoërskool begin het – die ateljee Son Studios, en Inner Ink, wat kuns op glas vervaardig.

“Ek wou soveel as moontlik tyd en energie aan die besighede gee sodat dit my musiekloopbaan kan fund. Musiek was nog altyd al wat ek wou doen en ek wou graag alles wat ek doen om geld te maak, direk daaraan koppel.”

Hoewel hy met ’n tikkie angs van opgewondenheid borrel om sy musiek met luisteraars te deel, sê hy hy sal nie verbaas wees as dit luisteraars ’n “bietjie skok” nie.

“Ek dink dit is ’n nuwe klank. Die bedryf is geneig om ons as musikante ongemaklik in ’n boks te druk, met die gevolg dat die meeste Afrikaanse songs nie regtig substance het nie en – of jy dit nou wil hoor of nie – eintlik maar bubblegum is. Daar is natuurlik 100% plek vir musiek soos dit in die bedryf; soms moet ’n mens net dans op die ritme.

“Dit is altans nie wat ek probeer doen het nie. Hierdie song (“Ek kan net bid”) is rou en gillend. Dit is hard en dit is kaal. Groot klanke wat amper ’n bietjie cinematic is. Ek wil hê jy moet hierdie song saam met my skree wanneer dit nodig is om te skree. Ek wil nie die luisteraar afskrik nie, maar ek wil my klank met hom/haar deel.”

En dít is net die begin, sê hy – nie net musiek wat by gedigte begin, op ’n kitaar of klavier getoonset word, en dan gerock word nie, maar ook dalk elemente van jazz en gospelmusiek gaan insluit.

“Verwag iets wat aan jou gaan raak. Jy gaan dalk skree, dalk huil of miskien selfs kwaad raak. Die songs is deel van die asem wat ek haal, en ek probeer sê wat ons almal dink, maar nie wil sê nie . . . Ek was net gatvol genoeg om daaroor te begin skree. Ek wil sing oor dit wat saak maak, dit wat ons saambring en uitmekaar skeur.

“Verwag ’n sonsopkoms.”

  • Zaan Sonnekus se liedjie “Ek kan net bid” is op die digitale platforms Amazon, Apple Music, Deezer, Pandora, Spotify en iTunes beskikbaar.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.