Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
LUISTER: Rooibos & Wijn, YsterperdTert en kie. sing!

Van die grootste name in die musiekbedryf én ’n handvol nuwe stemme met interessante name, soos Rooibos & Wijn en YsterperdTert, het nuwe enkelsnitte uitgereik. Christiaan Boonzaier vat dié nuwe musiekaanbod saam.

• Die sanger JP Rossouw, beter bekend as Sewevoet, besin in sy jongste enkelsnit, “Voetspore”, diep oor die lewe. ’n Mens sou dink hy het dit in reaksie op die Covid-19-pandemie geskryf, maar dit is reeds in 2008 voltooi en dit wat luisteraars nou hoor, is die derde weergawe.

Hy sê in ’n verklaring dit gaan oor die gevolgtrekking “dat ons nie regtig in beheer is nie”.

“ ’n Mens weet nie altyd hoe die wind sal waai of waar jy jouself later sal bevind nie, maar die voetspore wat jy los, hang van jouself af.”

• ’n Roeitog op die Oranjerivier het Mjön van Blommestein, lid van die rockgroep Saarkie, geïnspireer om die liedjie “River Blues” te skryf.

“Die liedjie gaan oor die hindernisse wat in die lewe oor jou pad kom. Jy weet nooit regtig waarheen jy op pad is nie, maar jy het ’n idee waarheen jy moet gaan,” sê Van Blommestein in ’n verklaring.

Sy sê almal in die lewe het mense nodig wat jou help roei of ondersteun – of dit nou jou ouers, troeteldiere, vriende of ’n lewensmaat is.

“Die lewe gaan soms soos ’n opdraande pad voel, maar wanneer jy aan die ander kant aankom, was dit tog die moeite werd. So hou moed, want jy sal nooit ’n roete gegee word wat jy nie kan aanpak nie.”

• Die sangeres Vandiét Marx wil met haar nuwe enkelsnit, “Waar jy leer”, musiekliefhebbers herinner dat daar net een “plek” is waar jy moet wees as jy deur ’n moeilike tyd gaan – op jou knieë.

Sy sê in ’n mediaverklaring sy het veral die afgelope jaar die krag van gebed besef.

“Ek het baie lank gevoel my winterseisoen wil nie verbygaan nie, maar ek het bly hoop, glo en vertrou dat my verlange en vrae deur gebed verhoor sal word. Ek het gehoop nuwe winde sal waai oor my seer en dat my seisoen sal draai – en dit het!”

• Die manne van Jan Jan Jan raak in hul nuwe enkelsnit, “Die RSA is in my DNA”, ’n bietjie patrioties. In die liedjie is hulle trots Suid-Afrikaans – trots op hul taal, hul kultuur én hul land.

“Dit (die liedjie) vertel ’n storie van ’n volk wat al eeue lank aan die suidpunt van Afrika met moed en vertroue saai en bou. Hulle is al deur vuur en oorloë geteister, maar kan nie gebreek word nie, want met ’n stam so taai soos dié van die waboom en hul oë na bo vol geloof sal hulle bly voortbou in hierdie land wat hulle liefhet,” lui ’n mediaverklaring.

Luisteraars kan nou vir die eerste keer hoor wat in Dylan Emslie, die groep se nuwe lid, steek – en as jy die musiekvideo kyk, kan jy sommer ook sien hoekom hy in die groep as MooiJan bekend staan.

• Die sanger Herman Kleinhans en die groep Rubber Duc het albei onlangs enkelsnitte uitgereik wat hulde aan ma’s bring.

Kleinhans het luidens ’n verklaring die liedjie “Dankie” (op sy album Ruite Oop) tydens die staat van inperking vir sy ma geskryf. Die musiekvideo is deur Wian van der Walt vervaardig.

“Herman het ’n video op sy sosialemediaplatforms geplaas waar hy sy aanhangers vra om foto’s van hulle saam met hul ma in te stuur. Ek het ’n samestelling van die foto’s vir die musiekvideo gemaak.”

Van der Walt sê die video, wat op Moedersdag uitgereik is, is ’n “mooi manier om vir jou ma dankie te sê vir alles wat sy doen en al die opofferings (wat sy maak)”.

Dít is ook wat Nick Jordaan, hoofsanger van Rubber Duc, aangespoor het om “Mama” vir sy ma te skryf.

“Dit is baie maklik om oor liefde en gebroke harte te skryf. Ons het dit al baie gedoen,” sê hy in ’n verklaring.

“Ons is egter geneig om te vergeet van die mense in ons lewens wat die stukkies optel wanneer ons uitmekaarval, wat ons oplig wanneer ons af voel, wat altyd die pad saam met ons sal loop omdat ons deel is van hulle en hulle waardes en DNS deel.”

• Familie is ook die spilpunt van Hugo Ludik, stigterslid van die groep Adam, se nuwe enkelsnit, “Pa se hand”. Ludik het luidens ’n mediaverklaring die liedjie spesiaal vir sy bruid, Danieka, geskryf en haar daarmee op hul troudag in April verras.

“Ons (die groep) het op die gedagte gekom om ’n liedjie te skryf wat gaan oor daai laaste ‘wag’ voor die kansel, die wag vir jou bruid om in die paadjie af te stap,” sê hy.

“Dit is die simboliek van die meeste troues: Die pa ‘gee’ sy dogter oor vir die man – en daarna word die man en vrou een, vir ewig saam verbind.”

Adam het die liedjie stilletjies vooraf opgeneem – en Danieka het dit vir die eerste keer gehoor toe sy en haar nuwe man die dansbaan as egpaar open.

“Sy het absoluut niks vermoed nie!” sê hy.

“Ons was albei oorweldig deur die emosies en dit was so mooi, sy love die song! Sy het dit al ’n paar honderd keer geluister.”

• Die liefde blom in die nuwe Afrikaanse alternatiewe groep Rooibos & Wijn se debuut-enkelsnit, “Sonskyn kind”.

“Dit gaan oor ’n meisie op wie ek verlief geraak het,” sê JP van Zyl, die groep se hoofsanger, in ’n verklaring.

“Ek kon ure lank in haar oë staar op die slaapkamervloer terwyl ons oor ware liefde filosofeer.”

’n Musiekvideo, uit Van Zyl se oogpunt, is ook uitgereik.

“Ek sal daarvan hou as mense wat daarna luister by iets in my woorde aanklank vind.”

• Met ’n naam soos YsterperdTert kan jy maar weet sake gaan ruk en rol. Die groep, wat bestaan uit Judith Kea en Kobus Stix Drotskie, maak hul debuut met die enkelsnit “Praat met my”. Mense wat weet van musiek, sal dadelik besef dit is ’n Afrikaanse vertaling van Stevie Nicks se treffer “Talk to Me”.

“Dit was natuurlik ’n groot waagstuk, maar wie is YsterperdTert as ons nie ’n bietjie gewaagd is nie?” vra Kea in ’n verklaring.

“Dit is ’n kompliment as iemand my as Suid-Afrika se eie Stevie beskou, maar ek is nie soos enigiemand anders nie. Ek is my eie, unieke self.”

Sy sê hulle het besluit om “Talk to Me” in Afrikaans te vertaal omdat hulle gesoek het na ’n liedjie “wat Judith Kea-aanhangers nie sal vervreem nie, maar sterk genoeg sou wees om YsterperdTert as groep te vestig”.

“Toe ek die eerste keer ‘Talk to Me’ hoor, het dit my asem weggeslaan en ek het geweet met YsterperdTert se kitaarklanke en die nuwe Afrikaanse woorde kan ons die liedjie in iets fantasties omskep.”

• As jy versot is op skoffel en verlang na die dae voor die pandemie toe jy sonder ’n masker en die aandklokreël kon dans, is Marius Lubbe se “Mure” vir jou!

Die liedjie is deur Vaughan Gardiner geskryf en hulle hoop om luisteraars aan te spoor om die figuurlike mure om hulle af te breek.

“Daar gaan soveel dinge in die wêreld aan: Covid-19, oorloë, politieke onstabiliteit, protesoptogte en woede teenoor regerings en die mensdom. Dit is dinge wat spanning veroorsaak,” sê Lubbe, ’n IT-konsultant, in ’n verklaring.

“Ons hardloop rond van die een plek na die volgende sonder om regtig af te skakel. ‘Mure’ moet aan luisteraars die geleentheid bied om net af te skakel en saam met familie en vriende te kuier. Dit moet mense aanspoor om die spreekwoordelike mure af te breek en om uit hulle grendelsones te klim.”

Meer oor:  Hugo Ludik  |  Adam  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Pandemie  |  Inperking  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Musiek  |  Enkelsnitte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.