Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Luister: So sing Afrika Mamas 'Imagine'
Die Afrika Mamas het hul vyfde album, ‘Ilanga’, opgeneem. Dit word Vrydag bekend gestel. Foto: Arc Music

Die Afrika Mamas, ’n Zoeloe a cappella-ensemble, word in die buiteland lof toegeswaai vir hul nuwe album, Ilanga, wat “die son” in Afrikaans beteken.

Die kern van die album is ’n verwerking van John Lennon se bekende “Imagine”, waarin die tema liefde en menslikheid kulmineer. ’n Coda wat die Mamas by die lied gevoeg het, doen ’n beroep op samehorigheid “in ’n tyd dat die wêreld skynbaar onder tweespalt en stamtwiste gebuk gaan”, sê ARC Music.

Ilanga is die vyfde album van die groep, wat sedert 1998 bestaan en volgens hulle steeds nie genoegsame erkenning in Suid-Afrika kry nie. Dit terwyl buitelandse media en gehore hulle op die hande dra.

Die rede is dat die isicathamiya-genre met mansgroepe verbind word en die Afrika Mamas steeds die enigste vrouegroep is wat hulle daarop toespits.

Isicathamiya het in die 1900’s in Zoeloeland ontstaan en is ’n mengsel van a cappella-sang spesifiek in Zoeloe, Christelike koorsang en teatrale vermaak. Net mans het dit beoefen totdat die Afrika Mamas op die toneel gekom het.

Hoewel die sewe sangers in die vroue-ensemble die hele spektrum stemme van bas tot sopraan dek, sukkel hulle om ’n deurbraak in Suid-Afrika te maak.

Een van die lede wie se stembande sodanig verslap is dat sy inderdaad van die laagste note kan haal, verskaf die basstem.

Die gedagte vir die Ilanga-album het in 2019 ontstaan toe die legendariese Ladysmith Black Mambazo die Imbokodo-prys aan die vroue oorhandig het.

Hulle is hierna na Ladysmith se akademie genooi om meer oor isicathamiya te leer. Daar is toe besluit om die verwerking van isicathamiya-liedjies as ’n gesamentlike projek aan te pak.

Van die liedjies is onder hande geneem deur die seuns van Joseph Shabalala, die stigter van Ladysmith Black Mambazo, wat in Februarie 2020 oorlede is. Sibongiseni Shabalala het “Ilanga” verwerk en Thulani Shabalala was verantwoordelik vir “Hlonipha” en “Tshelamina”. Xolani Majozi van Ladysmith Black Mamabazo is ’n medevervaardiger van die album.

Dit is interessant dat die Afrika Mamas al saam met die Afrikaanse sangers Jannie Moolman, Amanda Strydom en Dozi gesing het en op verskeie Afrikaanse kunstefeeste opgetree het.

Op dié feeste word die gehalte van hul sang waardeer en word nie ag geslaan daarop dat die isichathamiya-genre verkieslik net deur mans gesing moet word nie.

Die Afrika Mamas is gekies om Durban in 2017 op die Essence-fees in New Orleans in Amerika te verteenwoordig.

Andersins onderneem hulle van tyd tot tyd konserttoere na Brittanje, Duitsland, Pole, België en Nederland. – Saamgestel deur Elretha Britz met bykomende bronne www.arcmusic.co.uk, arkivjazz.com en wikipedia.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.