Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
LUISTER: 'Vanilla' kry voorts meer vanieljegeur
Die mansgroep Vanilla bestaan uit (van links) Xander Stander, Tyan Odendal, Jaen-Pierre Dowling en Francois Keyser.Foto: Chris Joubert

Goeie terugvoering op hul eerste Afrikaans liedjie het die Suid-Afrikaanse mansgroep The Vanilla oortuig om voortaan meestal Afrikaanse liedjies te sing.

Die groep – bestaande uit Tyan Odendal (sang en kitaar), Xander Stander (sang en kitaar), Jaen-Pierre Dowling (baskitaar) en Francois Keyser (tromme) – het daarmee saam die “The” in hul naam verwyder en sal voortaan net as Vanilla bekend staan.

Keyser vertel die groep in sy huidige vorm is in 2016 deur Odendal en Dowling as ’n “Engelse band met ’n poprock-aanslag” herbedink. Liedjies soos “Canopies”, “Little Thoughts”, “The Sun’s Tide” en “Out of Here” het gevolg, maar hulle het aanhangers eers laat regop sit toe hulle in Mei vanjaar hul eerste Afrikaanse liedjie, “Nie stilstaan nie”, uitreik.

“Die reaksie wat ons van luisteraars gekry het, het ons heeltemal oorbluf – dit was ongelooflik,” sê Keyser.

“Om te weet dat jou kuns en jou passie ’n verskil in iemand se lewe gemaak het, is onbeskryflik. Ons kon nie méér dankbaar wees nie.”

’n “Afrikaanse gogga” het die groep toe “beslis gebyt”, sê Keyser, en die “uitfasering” van Engelse liedjies het toe begin.

“Ons het die afgelope paar maande baie hard aan Afrikaanse liedjies gewerk, so ek is baie trots om te sê dat ons vertonings nou uit oorwegend Afrikaanse liedjies bestaan. Dis tog so ’n mooi taal,” sê hy.

“Al vier van ons is Afrikaans, so dit maak ons baie opgewonde om die geleentheid te kan hê om musiek in ons eie taal uit te reik. Dit is wonderlik om jou emosies en denke in jou eie taal te kan deel en wanneer jy iets in Afrikaans skryf, het jy reeds ’n sterk band met jou luisteraar.”

Om die “oormaaksessie” te vier, het die groep Vrydag hul tweede Afrikaanse enkelsnit, “Almal hier om die vuur”, bekend gestel.

“Dit is ’n liedjie wat geskryf is om jou moed te gee,” sê Keyser.

“Almal het hul eie bekommernisse en daar is soveel negatiewe dinge aan die gang in ons land. ‘Almal hier om die vuur’ herinner jou net daaraan dat ’n mens soms so ’n bietjie moet afskakel en dat dinge oukei gaan wees. Dis ’n tipe summer anthem, die temalied vir almal se Desember-vakansie. So as hierdie liedjie jou kan kry om so ’n bietjie van jou probleme te vergeet, dan het ons in ons doel geslaag.”

Hoewel daar nog nie sprake van ’n volledige Afrikaanse album is nie, sê Keyser ’n kortspeler is op pad. As dít ook goed ontvang word, sal hulle moontlik hul voltydse beroepe en studie in onder meer bemarking en bedryfsielkunde vaarwel kan toeroep en dit vir ’n loopbaan in musiek verruil.

“As band bewonder ons groepe soos Francois van Coke en Die Gevaar, Spoegwolf, Die Heuwels Fantasties en Karen Zoid en ek dink ons sal ook graag daardie tipe sukses wil behaal,” sê Keyser.

“Een van ons grootste drome is ook om ’n liedjie soos ‘Klein Tambotieboom’ of ‘Kinders van die wind’ uit te reik – ’n ikoniese lied wat elke Suid-Afrikaner ken en wat deel van ons land se ryk geskiedenis is.”

Meer oor:  Pop  |  Vanilla  |  Rock  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.