Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
LUISTER: Zebraman ‘galop’ op debuutalbum

Tydens die inperking het vier musikantvriende in Potchefstroom saamgespan en ’n nuwe groep begin met een van die interessantste name nog: Zebraman. Christiaan Boonzaier het met Johan Viljoen, die groep se voorsanger, gesels oor hul “karnavalagtige” musiek – en hoekom hulle hulself as “halfsebra, halfman” beskryf.

Zebraman bestaan uit Wouter Möller, Jan-Meyer Verhoef, Franzua van den Heever en Johan Viljoen. Foto: August Photography

Stel ons eers net bekend aan almal in die groep.

Ek is Johan Viljoen (kitaar en stem). Ek is ’n musiekstudent aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en vervaardig musiek vir verskeie kunstenaars.

Franzua van den Heever speel baskitaar. Hy doseer aan die Academy of Sound Engineering in Johannesburg en werk ook in elektronika en ontwerp. Ons almal noem hom Zua.

Jan-Meyer Verhoef is op keys – ook ’n musiekstudent aan die NWU. Jan is een van die beste skaakspelers in die provinsie en hy is ook ’n klassieke pianis.

Wouter Möller speel tromme. Hy kan eintlik omtrent elke instrument denkbaar speel, maar sy guilty pleasure is die konsertina.

Hoe het jul paaie gekruis en hoe lank speel julle al saam?

Ek en Zua het in 2015 vriende geword toe ons by die Academy of Sound Engineering studeer het. Ek, Johan en Wouter het mekaar in 2018 as musiekstudente by die konservatorium in Potchefstroom ontmoet.

Ons het eers in ’n ander band gespeel, maar die groep het in 2018 tot ’n einde gekom. Ons het steeds almal goeie vriende gebly en gereeld musiek gemaak. Die groep bestaan dus eintlik net uit ’n klomp goeie vriende, en Zebraman is ons manier om nog saam musiek te maak. Ons het eers in die inperking ontstaan!

Julle beskryf julself as “halfsebra, halfman”. Ha! Wat beteken dit en hoekom het julle op die naam Zebraman besluit?

Ons hou van sebras omdat hulle verskillende strepe het, in plaas van net een grys geheel. Almal in die band is anders, en die dinamiek weerspieël ook in ons musiek. Die sebra is vir ons ’n simbool van hoe diversiteit in ons land gevier word. Die samesyn van verskillende mense, geure, teksture en kleure kom voor in ons klank juis omdat dit reeds in Suid-Afrika voorkom.

Hoe sou jy die vibe van jul musiek opsom?

Dis karnavalagtig, met verskillende teksture en kleure saam met harde tromme, Afrika-elemente en popklanke. Dié klanke kry inspirasie by Milky Chance, Paul Simon (sy album Graceland), Foster the People en Johnny Clegg.

Die omslag van Zebraman se debuut-kortalbum.

Is daar enige onderwerpe waaroor julle spesifiek sing? Hoe kry dit gestalte op Zebraman, jul eerste kortalbum?

Ons musiek handel oor die algemeen oor opofferings wat ons in ons daaglikse lewe moet maak. Soms het dit te doen met mense wat ons nie nodig het nie, en soms is dit plekke waarin ons onsself bevind.

(Die snit) “Green & Lovin’” handel juis hieroor. Dit lewer kommentaar op dinge wat green and loving voorkom, maar wat in die werklikheid nie is nie. Die liedjie praat oor hoe ons moet wegbreek van dít wat ons nie nodig het nie.

’n Ander liedjie wat ’n soortgelyke tema het, is “Medicinal Criminal”. Dit gaan oor mense in magsposisies wat ander uitbuit. Dit kan ook in verskeie vorms voorkom: politici, korrupte mense, leiers van instansies, ens.

Julle wou seker vanjaar met groot fanfare debuteer – maar toe slaan die koronavirus toe. Hoe, indien enigsins, het dit jul planne deurmekaargekrap?

Dit was uit die aard van die saak onmoontlik om ons musiek op verhoë te speel, maar ons het gereeld saamgespeel, en dit is op die ou end waaroor dit vir ons gaan. Ons wil as vriende saam musiek maak, of dit nou op groot verhoë of by ons huise is. Dit is ook belangrik vir musiekgroepe om eers goed saam te speel voordat hulle op verhoë wil verskyn.

Ons het die musiek dus digitaal uitgereik en op só ’n manier met die wêreld gedeel. Dit is interessant om nie jou gehoor in persoon te sien nie, maar te weet hulle luister tog daarna. Ons sien wel baie daarna uit om die musiek in lewende lywe met mense te deel – hopelik binnekort!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.