Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Luistergenot wag in Johannesburg en Pretoria vir foendi’s
Die dirigent Conrad van Alphen.

Musiekliefhebbers moet kaartjies aanskaf vir die volgende konserte in Johannesburg en Pretoria, meen Paul Boekkooi.

Elke einde-van-die-jaar-konsert, soos aangebied deur die Johannesburgse Musiekvereniging (JMV), is ’n feestelike aangeleentheid. Vir redes slegs aan hulle bekend, slaag die bestuur altyd daarin om uitnemende musici se kontrakteer. Dit word alles moontlik gemaak deur ’n omvattende geldelike bedrag wat die legendariese joernalis Percy Baneshik aan die vereniging bemaak het.

Vanjaar word elke lid van die gehoor voor die aanvang van die konsert getrakteer op ’n glasie vonkelwyn.

Van veel meer belang is die statuur van die pianis wat gaan optree. Hy is die Suid-Koreaanse Jondo An wat wêreldwyd bekend geraak het met sy sege in 2012 se Marguerite Long – Jacques Thibaud Internasionale Klavierkompetisie. Benewens sy bykans oornagse faam, het hy van meet af aan wyd opgetree, is hy intussen ook as ’n Steinway-kunstenaar gekies, geloof vir sy debuut-opname van klawerbordmusiek van Rameau, en aangestel as artistieke direkteur van Hamburg se Klank-akademie.

Jondo An se JMV-konsert vind op 16 November om 20:00 plaas in die Linder-ouditorium, St. Andrews-weg, Parktown.

Charl du Plessis

Sy program bestaan uit die volgende werke: Suite in G majeur (d’Anglebert), die Chromatiese Fantasia en Fuga, BWV 903 (J.S. Bach), Twee Nokturnes, opus 55 en Ballade no. 1 in g mineur (Chopin) en die Davidsbündler-Tänze (Schumann).

* Kaartjies: Computicket, of van 19:30 die aand by die Linder-loket. By laasgenoemde is daar geen kaartgeriewe nie en slegs kontant word aanvaar.

In November is die Johannesburgse orkeste baie aktief. Eerskomende Sondag 10 November om 15:00 bied die Johannesburgse Simfonieorkes onder leiding van Kutlwane Masote hul 136ste Jong Kunstenaars Concertofees in die Linder-ouditorium aan. Dié feeste word jaarliks twee keer gehoor; in die eerste helfte van die jaar tree jong instrumentaliste en sangers onder 12 op; en in die tweede helfte die meer senior lede tot die ouderdom van 20. Die program omvat ’n wye verskeidenheid van musikale style. Kaartjies (slegs kontant) teen R150 vir volwassenes en R100 vir kinders onder 12 en pensioenarisse, word vooraf by die loket verkoop.

Op 22 September om 20:00 bied die Randse Simfonieorkes hul slotkonsert, getiteld Symphonic Splendour, vir 2019 in die Roodepoort Stadsteater, Christiaan de Wet-weg, Florida, aan. Dié amateurorkes, wat reeds talle dekades bestaan, word reeds vir ’n aansienlike aantal jare deur hul residensiële dirigent, Carel Henn, gelei. Vir dié konsert is ’n ander Steinway-kunstenaar, ons eie Charl du Plessis, as solis genooi.

Hy sal die Klavierkonsert no. 3 in c mineur, opus 37 van Beethoven uitvoer. Die aand word geopen met Mozart se Ouverture tot Die huwelik van Figaro en ná pouse afgesluit met die Simfonie no. 9 in e mineur, opus 95 van Dvorák – beter bekend onder sy bynaam “Die Nuwe Wêreld”-simfonie. Kaartjies teen R160 (volwassenes), R140 (pensioenarisse, studente) en R120 (skoliere) kan bespreek word by www.roodepoorttheatre.com, of bel die teater by 0861 670 670.

Die slotkonsert van die Johannesburgse Filharmoniese Orkes se Lenteseisoen is op 13 en 14 November om 19:30 en op 15 November om 11:00 in die Linder te hore. Conrad van Alphen dirigeer en Matilda Lloyd (trompet) is die solis. Program: Suite uit die Watermusiek (Handel), Trompetkonsert in E mol majeur (Haydn) en The Planets (Holst).

* Besprekings: Computicket.

’n Uitsonderlike program wat die Woord en musiek saamsnoer en die Adventstyd begroet, is die voordragaanbieding deur die akteurspaar Carel Trichardt en Petru Wessels, getiteld Van krip na kruis. Hieraan gaan die orrelduo met die naam Rooi4, bestaande uit Isabelle van Rensburg en Andrea Kayser-Mitas, verdere luister verleen. Dit vind eenmalig plaas en wel in die NG kerk Universiteitsoord in Hatfield, Pretoria, op Vrydag 8 November om 19:00.

Benewens Bybelverse wat die tema uitbou, maak die digkuns van onder andere Sheila Cussons, Elisabeth Eybers en W.E.G. Louw deel van die program uit – plus orrelmusiek van Mendelssohn, Holst, Bach, Dupré, Rutter en Kloppers.

Kaartjies is by die deur beskikbaar of by www.tixsa.co.za. Dit kos R150 (volwassenes), R120 (pensioenarisse) en R80 (kinders onder 18). Groepbesprekings vir tien of meer kos slegs R100 per kaartjie.

Meer oor:  Musiek  |  Pretoria  |  Johannesburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.