Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Luluc praat en verstom via Drake
Sculptor deur Luluc.

Luluc se lieflike weergawe van “Things Behind the Sun” op Way Too Blue: The Songs of Nick Drake tref jou hart tussen die oë. Zoë Randell van Luluc (Loeloek uitgespreek) het nie Drake se magiese elegie dramaties nuut geïnterpreteer nie, maar dis asof Drake self in haar binneste spook en haar noop om te sing soos sy eie bloedsuster – vier dekades nadat hy op 26 aan ’n oordosis antidepressante oorlede is.

Oor Drake skryf Nick Hornby in sy roman A Long Way Down: “Man, dis asof hy al die melankolie in die wêreld, al die kneusplekke en al die verbroude drome gedistilleer het tot ’n konsentraat wat hy in ’n klein botteltjie geskink en met ’n kurkprop toegemaak het.

Wanneer hy begin kitaar speel en sing, trek hy die kurk uit en jy kan dit ruik. Jy word vasgepen in jou stoel asof ’n muur van geraas jou daarin vasgedruk het, maar dis eintlik tjoepstil en jy wil nie asemhaal nie omdat jy bang is jy jaag die liedjie weg.”

Luluc vermag op hul saggies tierende derde album soortgelyke voedoe as Drake, wat Randell ’n enorme invloed noem. Sculptor is ’n stil onstuitbare sloper soos die sekel van die tyd. In die meesleurende eerste snit, “Spring”, hoor jy saam met sensuele plesier aan ’n nuut ontwakende wêreld die aanmars van winter wanneer Randell sing: “Why should the flowers / Alone make haste to go / So swift to depart / From those who love them so”. In “Moon Girl” mymer sy: “That big clock that does move so slow / Will catch you up, so be on those toes”.

Danie Marais

Kultusgroepe soos Low en Sun Kil Moon se stilweg intense klanke is in die 90’s as “slowcore” beskryf. Hierdie musikante was in indie-rock die melankoliese keersy van die lawaaierig aggressiewe grunge-beweging. En “slowcore”, soos in stadig dog hardcore, is ’n raak klassifikasie van Luluc se folk-rock-kamerpop.

Uitstaande liedjies soos “Heist” en “Kids” is minimalisties, broeiende gedoentes waarbinne die gedempte klank van ’n borsel oor ’n trom, die grom van ’n elektriese kitaar, ’n mineurtoon op ’n orrel of die diep sug van ’n trompet jou ore laat tuit. Hierdie Australiese duo laat jou hoor wat Bob Dylan bedoel wanneer hy in “Love Sick” verklaar: “Sometimes the silence can be like thunder”.

Zoë Randell en Steve Hassett, wat mekaar reeds in 1999 by die Edinburgh-fees in Skotland ontmoet het, se 2008-debuut, Dear Hamlyn, was ’n tuisopname geïnspireer deur die dood van Randell se vader.

Sedertdien het dié twee musikale sielsgenote na Brooklyn, New York, verhuis waar hulle invloedryke aanhangers gewen het. Aaron Dessner van The National het saamgewerk aan Sculptor en sy hoogaangeskrewe voorganger, Passerby (2014).

Op hul jongste het Jim White van Dirty Three, en J. Mascis van Dinosaur Jr. gehelp om die ryk klanktapisserieë te weef wat jy met oorfone moet verken om behoorlik te waardeer.

Toe Randell gevra is wat sy die meeste in Nick Drake se musiek bewonder, het sy geantwoord: “Die atmosfeer. Die wêrelde van sy liedjies is volmaak verbeel. Hy dring nie idees aan jou op nie. Hy skilder net die toneel en nooi jou binne.”

Dieselfde kan van Luluc se fyn klankhouwerk in Sculptor gesê word. Dit verlos jou 35 minute lank van al die lawaai.

Topsnitte:

“Spring”

“Heist”

“Kids”

“Cambridge”

Meer oor:  Danie Marais  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.