Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Luna Paige vier 21 jaar as musikant
Luna Paige vier 21 jaar in die plaaslike musiekbedryf. Foto: Jeandri Streicher

’n Mens skrik eintlik, sê Luna Paige, met die besef dat jy jou mondigwording as musikant vier.

“Dit is maar ’n moeilike bedryf en ’n mens wonder gereeld oor jou plek en die relevansie van jou musiek daarin. Tog is dit opwindend om terug te kyk. Die belangrikste is om te besef dat dit jou eie reis is en om jou nie te veel met jou tydgenote te vergelyk nie,” sê sy.

Sy tree gereeld in die buiteland soos onder meer in Nederland en België op. Sy het in Oktober verlede jaar met haar vertoning Korreltjie Kantel, wat fokus op die digter Ingrid Jonker en die skrywer André P. Brink se verhouding, in Nederland getoer, en dit is in 2018 vir ’n Sama benoem.

Deur die jare het sy geleer om in ’n wispelturige bedryf te oorleef en kreatief te bly. “Ek het besef ek moet met ander kunstenaars saamwerk, saam musiekproduksies bly skep en so ’n bydrae maak. ’n Mens kan steeds iets kragtigs na die planke bring en in voeling bly met dit wat ‘onder jou vel is’,” meen sy.

Op die Sama-geleentheid is die benoemdes uitgejou in die kategorie waarin Korreltjie Kantel benoem is, vermoedelik omdat dit Afrikaans is, sê sy. Ander musikante is ook die aand uitgejou.

“Ek moes dit probeer verwerk en dit het ná die aand tot baie gesprekke met medekunstenaars gelei. Dit het my myself laat afvra hoekom ek nie altyd so relevant voel nie, en my baie meer bewus gemaak van die landskap waarbinne ek my musiek lewer.”

Ná die periode van introspeksie het sy teruggedink aan die vreeslose meisie wat die verhoog die eerste keer in 1999 kaalvoet betree het. Sy het haar dagboeke en aantekeninge uitgehaal en opnuut begin skryf, en die resultaat was 21 jaar later wat in Maart op die Toyota US Woordfees opgevoer word.

“Ek het die plakkaat van destyds vir inspirasie vir ’n nuwe plakkaat gaan uitgrawe. Ek skryf wat binne is en lewer kommentaar op my omstandighede, wat my bydrae tot die kulturele landskap is.”

Wat sy wel weet, is dat ’n nuwe dekade voor haar lê en dat sy baie meer in die buiteland wil optree.

“Ek wil net soveel energie instoot om produksies daar op te planke te kry as hier. Die gehore vir my musiek daar is net so groot, indien nie effens groter as hier nie.”

Aan haar sy vir die mondigwordingvertoning in Stellenbosch is die baskitaarspeler Schalk van der Merwe, die kitaarspeler Frank Freeman asook Blake Hellaby op klawerbord en elektronika.

Dan vir die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn en later die Suidoosterfees in Kaapstad wag Smeltkroes, ’n bewys dat “Afrikaans in duisend stemme sing”. Dit is ’n mengsel van woordkuns, musiek, digkuns en kortverhale.

Benewens Page is die jazzkomponis Ramon Alexander, die veelsydige liedjieskrywer, musikant en sanger Frazer Barry aan boord vir Smeltkroes. Dit sluit voordrag van gedigte van Philip Odendaal, Gaireyah Fredericks en Diana Ferrus in, sowel as kortverhale deur Nathan Trantraal en Dana Snyman deur die aktrise Devonecia Swartz en akteur Breyten Treurnicht. Jolyn Phillips en Shirmoney Rhode dra self voor uit hul werk.

Paige bly aan die werk, probeer elke dag skryf en het haar by ’n poësieklub aangesluit om haar kreatiwiteit te voed. Sy lees onverpoos, die bundel van Jeanne Goosen Los gedagtes het haar ook onlangs geïnspireer.

“Elke dag moet ek ook ’n bietjie besigheid doen. Ek kan nie soos my groot ikoon, Nick Cave, sê dat as hy teen middagete een perfekte reëltjie geskryf het, het hy genoeg vir die dag gewerk nie!”

  • 21 jaar later word op 14 Maart om 17:30 in die Kunste-vierkant op die Toyota US Woordfees opgevoer. Kaartjies kos R120 by Computicket en R140 by die deur. Slegs 250 kaartjies is beskikbaar.
  • Smeltkroes was ’n opdragproduksie vir 2018 se RSG Kunstefees. Dit word op 27 en 28 Maart in die Laerskool Wesbank in Oudtshoorn opgevoer, onderskeidelik om 13:00 en 19:00, asook op 2 Mei om 15:30 op die Suidoosterfees in die Kunstekaap. Kaartjies is by Computicket te koop.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.