Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Madonna spartel tussen alles en niks op nuwe album
Madonna

Madonna, die koningin van pop, se jongste album, Madame X, is ’n wankelrige een, skryf Kobus Burger.

Op haar 14de ateljeealbum, Madame X, is die “Koningin van Pop” bereid om soos die Bybelse sondebok die wildernis ingejaag te word met al die wêreld se sondes wat op haar skouers rus. Ja, sing Madonna, almal wat die gays, Moslems of armes veroordeel en wil vermoor, moet háár eerder pak.

Dit is dieselfde kunstenaar wat gesê het sy voel sy is “verkrag” toe The New York Times Magazine na ’n onderhoud met haar in die opskrif “Madonna at sixty” na haar ouderdom verwys het.

Die smagting na ewige jeug is in die album se openingsreëls hoorbaar: “I took a pill and had a dream / I went back to my 17th year . . .”

Daarby is die albumtitel ’n troetelnaam wat haar destydse dansinstrukteur Martha Graham haar op 19 jaar gegee het.

Die soeke na die jongste klanke en daarby die diep versugting om toepaslik te bly ná ’n loopbaan van sowat 36 jaar, maak van Madame X ’n wankelrige album wat die luisteraar in die dryfsand van teenstrydighede laat rondtrap. Voeg daarby Madonna se liriese esoterika en soms clichéagtige herhalings – byvoorbeeld “Life is a circle” – en ’n mens wonder of sy net met ’n spul alter ego’s speel of werklikwaar ’n spieël vir haarself en die wêreld wil ophou.

Sedert sy haar in Lissabon, Portugal, gevestig het, is dit ’n spul nuwe musikale invloede wat produksieleiers soos Mirwais nou op een album probeer saamhark. Sy sing in Engels, Spaans en Portugees en goël met van die Indiese tabla-tromklanke wat aan Burundi se bekende tromspelers herinner, tot robotstemme wat Daft Punk al jare gelede op hul albums vervolmaak het.

Madame X is ’n album van uiterstes. Madonna sing dat sy al na links én regs geneig het en toe probeer het om haar voete te vind. Op ’n vreemde, soms Jungiaanse manier probeer sy die polariteit van haar bestaan én musiek versoen. Sy is die eerste een wat na haarself as ’n heks en hoer sal verwys, maar dan weer om genade smeek en koer: “Let your light shine . . .”

Daar is hoendervel- akoestiese momente, disko, reggae, rap, fado en Spaanse ritmes wat die voete laat jeuk, met ’n greep uit Tsjaikofski se Neutkraker wat op ’n verrassende manier opduik. En tog klink die album asof dit geen fokuspunt of goue draad gehad het nie.

Sou ’n mens enige verwagtinge kan opskort en die album oor en oor luister (veral na die subliminale lirieke), word dit ’n wekroep. Die skisofreniese musikaliteit vervaag later en Madonna word ’n eietydse hofnar wat al koggelend ’n paar skrikwekkende waarhede in haar maltrap-musiekbredie deel.

Dit is terselfdertyd Madonna se beste én swakste album. Die sinloosheid van so ’n stelling is Madame X se sweepslag.

Dít is die jin en jang van Madonna op 60. Verwarde vrou in ’n versmorende borstrok. Soekende dogtertjie. Verlore siel. En warm-onder-die-kraag-wysgeer. Tussen alles en niks struikel sy op ’n meesterlike, dog onbeholpe manier. Luister en durf dan om self te oordeel…

Meer oor:  Madonna
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.