Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Margulis, Magalhães voldoen aan verwagtinge

Alissa Margulis, viool; Luis Magalhães, klavier

Miriam Makeba-konsertsaal, Unisa, Pretoria

Alissa Margulis

Twee voorste musici wat met hul buitengewoon indringende en tegelyk verhelderende spel verskeie kere by die jaarlikse Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees hul status bevestig het, se duo-uitvoering in Pretoria het aan talle verwagtinge voldoen.

Met ’n program wat bepaald nie teruggedeins het vir uitdagende elemente wat ál vier die komponiste van albei instrumentaliste vereis nie, kon die gehoor hulle sterk inlewe in die individuele idiomatiese uitdrukkingspektrum van elkeen. Daar is vier nasionaliteite en in ’n groot mate ook vier tradisies.

Die hoofwerk in die eerste helfte was Beethoven se Sonate no .9 in A-majeur, opus 47, bekend as die Kreutzer. Reeds in die openingsdeel, ná ’n besonder fyn gemoduleerde Adagio sostenuto-inleiding, het dié duo hul uitgangspunt ten opsigte van interpretasie duidelik gemaak: Die daaropvolgende Presto was ’n ware stuk wedywering tussen viool en klavier.

Die hegte ensemble en die tegniese soliditeit van die musici was opvallend, maar daar was te min tekens van ’n musikaal weldeurdagte “gee en neem” in dié dialoog.

Margulis se instrument is duidelik besonder klankryk, maar daar was steeds te veel passasies waarin die klavier totaal oorheers is. ’n Vorm van weerbarstigheid het die spel begin kenmerk.

Luis Magalhães

Dit was minstens nie slegs die musici self wat hieraan “skuldig” was nie, maar ook hierdie konsertsaal se akoestiek wat met sy taamlik lae plafon nie die klank ideaal absorbeer nie, maar eerder vergroot. Intieme musiek, soos dié deur ’n kitaar of ’n solo-klavier, klink byna ideaal in die Miriam Makeba, asook jazz waar volume intrinsiek aan die styl is.

’n Mens wonder waarom dié uitvoering nie in die Enoch Sontonga-saal op Unisa se Sunnyside-kampus aangebied is nie – by verre wat akoestiek betref Pretoria se mees ideale ruimte vir kamermusiek.

Terug na die musiek: Die oorblywende twee Beethoven-bewegings is van nature ook komposisioneel helderder van struktuur en was wat klankewewig betref, gelukkig meer ideaal.

Prokofjef se Vioolsonate no. 2 in D-majeur, opus 94a, oorspronklik vir die fluit gekomponeer, is met ’n dinamiese skerpheid uitgevoer wat veral by die Presto en Allegro con brio totaal gepas is. Margulis en Magalhães het ’n natuurlike buigbaarheid om uiteenlopende elemente soos kort uitbarstings van drama, romantiek, liriek en selfs ’n suggestie of twee van humor voluit deel van dié Rus se taal te maak en dit organies oor te dra.

Eugène Ysaÿe se Poème Elégiaque het deur ’n volle uitreiking na dié Belgiese violis-komponis se individuele idioom wat ook deur die pianis met ryke insae ondersteun is, uiters meevoerend geklink, met opbouende klimakse wat juis deur ’n ietwat getemperde gevoelsmatigheid van ’n natuurlike hartstog getuig het.

Eweneens was daar in Dvorák se Romantiese stukke (waarvan ek net die laaste twee ervaar het) tekens van ’n diepe passie, maar ook frases waar ’n nostalgiese besonkenheid sy merk gelaat het.

* Alissa Margulis voer op 5 en 6 September om 20:00 Mendelssohn se Vioolkonsert in E-mineur, opus 64, saam met die Johannesburg Philharmonic Orchestra in die Linder-ouditorium, Parktown, uit. Bespreek by Computicket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.