Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Mathys vat die pad met sy nuwe musiek

“Twintig vertonings in 20 dae. Dit is my 2020.” So som die sanger Mathys Roets tans sy Covid-19-jaar op. Hy sê hy het so ’n behoefte daaraan om uit te kom dat hy dié druk bekendstellingstoer vir sy nuwe album, Reën, gereël het.

Hy mag dalk ná ’n paar dae spyt wees daaroor, reken hy, maar in hierdie stadium kan hy nie wag om in sy voertuig te klim en stokalleen die pad na Bloemfontein en die Wes-Kaap aan te pak nie. Net hy en sy kitaar. Vir 20 optredes in 20 dae.

Vier van die konserte is in Die Boer, die restaurantteater in Durbanville, waar hy een van die eerste kunstenaars was wat ná die opening 15 jaar gelede opgetree het en nou ná die inperking weer een van die eerstes sal wees. Sedertdien het hy elke jaar daar opgetree en die teater was elke keer stampvol.

Die aktrise Margit Meyer-Rödenbeck, wat Die Boer saam met haar man, Jurgen Human, besit, sê aanvanklik sal net 50 gaste per konsert toegelaat word sodat sosiale distansiëring gehandhaaf kan word. “Liewer veilig speel en vorentoe gaan as om weer ’n streng inperking te beleef,” sê sy.

Roets sê hy werk al geruime tyd aan liedjies vir die Reën-album en die moeilikste was om net 12 uit die sowat 30 te kies. “Ek het toe besluit om dié te gebruik wat stories vertel wat die meeste mense ken, soos ‘Prinses van Wallis’. Wie weet nie van lady Diana van Brittanje nie? Of ‘Stasie in die skemer’, wat oor die hartseer van afskeid en die opwinding van ’n aankoms op ’n treinstasie handel. ‘Reën’ kan vergelyk word met die groot verlange na ’n persoon.

Van al die liedjies lê “Klaasvakie” hom die naaste aan die hart, ’n slaapliedjie wat sy pa altyd vir hulle gesing het. “Ek wou dit graag self toonset, maar het ’n paar keer probeer en elke keer net halfpad gekom. Toe gee ek die taak maar oor aan Matthys Maree wat in ’n oogwink musiek daarvoor geskryf en nog drie liedere getoonset het.”

“Sprokie”, geskryf deur Piet van Wyk de Vries, eggo Roets se siening dat “as jy dit kan droom, kan jy dit wees”.

“Hierdie liedjies is nie partytjiemusiek nie. Dit is alles mooi musiek en wek sterk emosies. Ek hoop dit herinner luisteraars aan spesiale oomblikke in hul verlede wat hulle inspireer om uit te sien na nuwe dinge in die toekoms.”

Die CD sal waarskynlik soos soetkoek verkoop omdat dit die laaste een is wat Roets opgeneem het. Al sy musiek sal voortaan digitaal beskikbaar wees.

Roets was besonder bedrywig in die inperkingstyd. Hy het vir hom ’n ateljee tuis ingerig waaruit hy talle aanlyn konserte aangebied het. Verskeie was ten bate van organisasies of individue in nood, soos ’n kind wat ’n suurstofmasjien benodig het, ’n Suid-Afrikaanse gemeente in Londen en die VLV. Van die konserte, verskeie gratis, het tot 30 000 kykers gelok.

“Mense het van Dubai, Engeland, Malawi, Kanada, Australië en talle ander lande ingeskakel. Dit was vir my heerlik om die platform te gebruik om met hulle te kommunikeer. Die meeste is natuurlik Suid-Afrikaners wat Afrikaans wil hoor.”

Roets sê partykeer het hy ’n Koos du Plessis-vertoning gelewer, ander kere Leonard Cohen-liedjies gesing, of ’n konsert met ’n mengsel van liedere.

Maar nou is dit tyd om weer die langpad te vat en sy musiek na die mense te neem. Die toer begin op 28 September met ’n konsert en ete op die verhoog van die Atterbury-teater in Pretoria.

So lyk die res van die toerprogram.

29 September: Meerkatkolonie se Musiekskuur, Bloemfontein

30 September: Teri-Lemveli Lodge, Beaufort-Wes

1 tot 4 Oktober: Die Boer, Durbanville

6 Oktober: Lovane-wynlandgoed, Stellenbosch

7 Oktober: Drostdyteater, Stellenbosch

8 Oktober: The Winelands@Boschenmeer

9 en 10 Oktober: Musiekskool, Langebaan (Bespreek: 0658795086)

11 Oktober: Kaijaiki Country Inn, Yzerfontein

12 Oktober: The Coffee Club, Mosselbaai

13 Oktober: Argyll, Oudsthoorn. Bespreek by Anita Pelser, 064 867 8254.

14 Oktober: Mel se plek, Plettenbergbaai

16 Oktober: Elkana Skool, Witbank

17 Oktober: NG kerk Driehoek, Vanderbijlpark

18 Oktober: Carnival City, Brakpan

Meer oor:  Nuwe Musiek  |  Matthys Roets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.