Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Matie wat nie na SA kan terugkeer, is ‘kalm, rustig’
Féroll-Jon Davids Foto: Marina Griebenow

’n Matie-musiekstudent wat hom tans in die stad Bozeman, in die Amerikaanse deelstaat Montana, bevind en weens die staat van inperking nie na Suid-Afrika kan terugkeer nie, sê hy is onder die omstandighede eintlik “heel kalm en rustig”.

Féroll-Jon Davids (23), ’n klarinetspeler wat sy magistergraad in musiek aan die Universiteit Stellenbosch voltooi, het verlede jaar ’n beurs gewen wat hom toelaat om ’n semester by die Montana State-Universiteit (MSU) deur te bring en deur die klarinetpedagoog dr. Gregory Young onderrig te word.

Dié semester het amptelik op 13 Januarie vanjaar begin en sou tot 8 Mei duur – die dag wat Davids se J1-visum amptelik verval – maar die Covid-19-pandemie het dié plan midde-in die MSU se lentevakansie tussen 13 en 22 Maart op sy kop gekeer.

“Dit was in dié periode (die lentevakansie) wat die universiteit noodmaatreëls begin implementeer het,” vertel Davids per e-pos vanuit Bozeman aan Netwerk24.

“Die MSU het studente wat die kampus tydens die lentevakansie verlaat het, aangeraai om nie terug te keer nie sodat hulle die verspreiding van die virus kan bekamp én dié wat – soos ek – op die kampus agtergebly het, te beskerm.”

Davids sê hy het toe besluit om sy tasse te pak en liewer so gou moontlik na Suid-Afrika terug te keer. Sy aanvanklike terugvlug op 9 Mei is gekanselleer – en omdat hy dit nie kon herskeduleer nie, moes hy onder meer R43 000 opdok vir ’n splinternuwe eenrigtingkaartjie op United Airlines.

Hy sê hy het “ná ’n lang dog vinnige geskarrel” al sy sake in orde gekry om op 28 Maart in Kaapstad te land – maar dié vlug is óók gekanselleer weens die staat van inperking wat net ’n dag voor sy aankoms begin het. Hy het gelukkig nog nie toe sy koshuiskamer prysgegee nie – en sal in alle waarskynlikheid sy 24ste verjaardag op 28 April daar moet deurbring, veral nadat pres. Cyril Ramaphosa die staat van inperking in Suid-Afrika Donderdag tot 30 April verleng het.

“Tans doen ek alles vanaf my koshuiskamer – aanlyn klasse, klarinetlesse, oefen, en selfs virtuele konserte,” sê hy.

“In hierdie stadium sou ek nie sê ek is in my koshuiskamer of Amerika ‘vasgekeer’ nie, aangesien ek tegnies nog tot 8 Mei in die land mag wees. Ná 8 Mei sal dinge egter drasties anders wees.”

Hy sê hy het reeds kontak gemaak met die Suid-Afrikaanse konsul-generaal in Los Angeles.

“Ek word nie tans geklassifiseer as iemand wat ‘gestrand’ is nie, aangesien ek verblyf in Amerika het. Die konsulaat het my egter verseker dat hulle bystand aan my sal bied sou my situasie of Suid-Afrikaanse wetgewing ten opsigte van internasionale vlugte verander.”

Hy sê hy is gelukkig dat aan al sy basiese behoeftes, insluitend verblyf en kos, danksy sy beurs en die ooreenkoms met die MSU voorsien is.

“Op die oomblik is ek heel kalm en rustig om die eenvoudige rede dat ek kies om te fokus op dit wat ek persoonlik kan beheer,” sê hy.

“Na my mening is dit meer produktief om te kapitaliseer op dít wat jy kan beheer en nie angsbevange te wees oor dinge wat buite jou beheer is nie.

“Danksy my musiekvriende wat nog op kampus is, is ek darem ook nie vingeralleen nie en ek hou natuurlik gereeld kontak met my familie en vriende in Suid-Afrika.”

Meer oor:  Musiek  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Matie  |  Maties  |  Universiteit Stellenbosch  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.