Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Matt Hurter vir sy omgee onthou
06 September 2018
Matt Hurter

Die country-sanger Matt Hurter (74) wat Maandag aan prostaatkanker dood is, sal veral vir die bevordering van jong kunstenaars en vir sy omgee vir ander mense onthou word.

Die sanger Anton Goosen onthou Hurter se vertolking van die treffer “Tequila Sheila”.

“Hy kon dit baie goed doen. ‘Hand me down that bottle of tequila, Sheila’. Nou dis al klaar ’n wenliriek vir enige song. Ek sal hom onthou as die lang ou met die hoed op die kop in die poskantoor,” sê die Liedjieboer wat in Gansbaai woon.

“Hy het al vier en ’n half jaar gelede die kanker gekry. Hy was in ’n koma in die hospies en toe het die nuus Maandag net na 19:00 gekom. Ons is almal sad.”

Goosen onthou dat die inwoners van sy omgewing sowat vier jaar gelede ook ’n geld ingesamel het vir iemand anders met kanker, en hoe Hurter soveel van sy tyd beskikbaar gestel het om daarmee te help.

Anton Goosen

“Hy was natuurlik jare lank die president van die Country-musiekvereniging van Suid-Afrika. Hy het hom sterk uitgespreek oor musiek en oor wat nié country is nie. Hy was by almal geliefd. Hy het ook kontak gehad met Willie Nelson. Dít is nogal iets.”

Hurter se vrou, Nelia, sê haar man se hande het vir niks verkeerd gestaan nie.

Hy het ook ’n stuk grond gekoop en sy bekende “Music Farm” gestig.

“Hy was baie ten gunste van die opheffing en bevordering van jong kunstenaars. Hy was altyd op soek na nuwe kunstenaars en nuwe bloed in die bedryf en het baie tyd aan hulle afgestaan.”

Hurter was bekend om sy treffers soos “Big Bad John”, “Ride Safe” en “Bicycle Bill”, laasgenoemde glo die eerste liedjie wat hy self geskryf het.

Volgens Nelia was die geesdrif in Hurter se ateljee snags tasbaar.

Hy het die afgelope vier jaar moedig teen die kanker geveg, maar die laaste maand was ’n opdraande stryd.

“Hy het egter tot aan die einde geglo hy sal gesond word,” sê Nelia. “Hy was ’n dapper en ontsettend sterk mens. Hy was later in ’n koma, maar hy was rustig en ons het vrede gemaak.”

Die egpaar het die afgelope 17 jaar in Pearly Beach gewoon.

“Hy het in KwaZulu-Natal grootgeword. Hy was eintlik ’n strandmens, maar hy kon eintlik terwyl ons aan die kus gewoon het nooit die see geniet nie, omdat hy altyd op toer was en toe later siek geword het. Hy het ook ’n bietjie van hengel gehou.”

Dennis East

Haar man was ook g’n nabootser nie, sê Nelia.

“Hy het liedjies geskryf wat treffers was. Ek onthou sy fantastiese humorsin, maar ook sy diepe denke. Hy was baie beginselvas. ’n Baie, baie mooi mens.”

Volgens Dennis East, liedjieskrywer en musiekvervaardiger en ’n jarelange vriend, het Hurter nooit ’n agenda gedryf met enigiets wat hy aangepak het nie; dit was sy omgee vir mense wat die belangrikste was.

“Niks was ooit ’n kopseer met hom nie. Dit is jammer om so iemand te verloor,” sê East.

Tommy Dell

“Matt het almal ‘Sport’ genoem. Hy was ’n mens met ’n hart so groot soos hyself. Ek onthou dat hy so ’n maand gelede vir my gesê het dat hy van dié ‘ding’ (sy siekte) ontslae gaan raak. Dis ’n groot verlies om die mense na aan jou te verloor wat ’n groot verskil gemaak het.”

Op 26 Augustus is daar ’n fondsinsamelingskonsert in Hartbeespoort vir Hurter gehou.

“Dit was wonderlik om soveel bekendes weer te sien en hul steun vir Matt te ervaar. Hy het net soveel vir mense omgegee, almal het ’n plek gehad. Hy kon ure in ’n kroeg sing en mense vermaak. Ek is verby hartseer, maar ek beskou dit in die lig dat sy lyding verby is,” sê East.

Nog ’n groot vriend, die country-sanger Tommy Dell, vertel ook van Hurter se groot gawe om ander te kon vermaak.

“En behalwe dat hy kon sing, kon hy skreeusnaakse stories op die verhoog vertel. Ek het hom al geken toe sy hare nog swart was. God seën hom. Wat ’n mooi siel, iemand met so ’n goeie hart. Regtig ’n gentle giant.”

Hurter word oorleef deur sy vrou, Nelia, en drie kinders, Janine, Kelly en Ryan.

* ’n Gedenkdiens word Vrydag in Pearly Beach se hengelklub vir Hurter gehou. Dit is nie ’n tradisionele diens nie, maar die Hurters se pastoor sal dit waarneem.

Meer oor:  Dennis East  |  Anton Goosen  |  Tommy Dell  |  Matt Hurter  |  Country Musiek  |  Celebs  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.