Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
‘Medicine at Midnight’ sal jou saam laat brul
‘Medicine at Midnight’ deur die Foo Fighters.

Die Foo Fighters se nuwe album, Medicine at Midnight, gaan nie jou siening oor hulle óf die wêreld verander nie, maar dié “Saterdagnagpartytjieplaat” het steeds harde voet-in-die-hoek-rock wat jou noop om saam te brul, skryf Danie Marais.

’n Rock ’n roll-ligpunt aan die einde van ’n duister 2020 was die trommeltweestryd op YouTube tussen die grunge-legende Dave Grohl (51) en Nandi Bushell (10) van Ipswich in Engeland. Nadat sy Grohl met ’n vurige weergawe van sy Foo Fighters se 1997-treffer “Everlong” uitgedaag het, het Grohl aanlyn aangetree vir die geveg.

Nadat albei hul bes gedoen het met Them Crooked Vultures (nog ’n groep waarin Grohl gespeel het) se “Dead End Friends” het hy die stryd gewonne gegee.

Dié speelse stukkie wedywering het Grohl saam met miljoene kykers wêreldwyd breed laat glimlag. Die oorstelpte Nandi wat haar tromstel pak gee totdat sy elke dan en wan van pure vreugde kraai, maak weer die wilde kind in jou wakker wat kleintyd voor die dansende vlamme en oerritmes van rock geswik het.

Dit is dus gepas dat die tiende album van die Foo Fighters een is wat Grohl as hul “Saterdagnagpartytjieplaat” beskryf.

Medicine at Midnight is geen radikale herverbeelding van die groep se kenmerkende klank nie. Daar is steeds hope harde voet-in-die-hoek-rock wat jou noop om saam te brul (die crescendo van “Waiting on a War”, byvoorbeeld), maar dié keer is funk en disco deel van die plesier. Vlugvoetige liedjies soos “Making a Fire”, “Shame Shame”, “Cloudspotter” en “Medicine at Midnight” slaan die dik snare van dansvloer-rock en knik kop in die rigting van David Bowie se “Let’s Dance” en die Stones se “Miss You”. Selfs die hardste volspoed-Metallica-nommer op die plaat, “No Son of Mine”, het ’n aansteeklike metal boogie wat saam met die hamerslae die voete laat jeuk.

Dis met ander woorde rock waarop jy jou kop kan stamp én jou heupe kan swaai en jou laat onthou van ’n jonger jy wat op ’n Saterdagnag kon uitrafel in ’n vryer, minder beklemmende wêreld. G’n wonder dat Medicine at Midnight reeds in tien lande, insluitende Amerika, Brittanje en Duitsland, die nommereenplek op albumtrefferparades gehaal het nie.

En nee, dis nie ’n plaat wat jou siening oor die Foo Fighters óf die wêreld gaan verander nie. Dis groot rock ’n roll “comfort Foo” wat jou herinner aan ’n wonderwerk: Grohl wat ’n kwarteeu gelede uit die wrak van Nirvana ná Kurt Cobain se selfdood gesteier het om ’n groep te stig wat steeds dreig om van rebelse lewensvreugde uit sy nate te bars.

Met hierdie twee reëls in “Everlong” het die Foo Fighters die roekeloosheid van my 20’s netjies saamgevat: “The only thing I’ll ever ask of you / You’ve got to promise not to stop when I say when”.

Deesdae wil ek hê jy moet stop wanneer ek jou vra, maar ’n mens moet nooit jou innerlike Nandi heeltemal verwaarloos nie. Die nag bly ’n trom vir jou om te slaan. En wanneer Grohl in die titelsnit sing “Medicine at midnight howling / But it ain’t no cure” dien hy daarmee, ironies genoeg, net die middernagmedisyne toe wat jy nodig het in die groot kollektiewe beswaardheid van 2021.

Topsnitte:

“Making a Fire”

“Waiting on a War”

“Medicine at Midnight”

“No Son of Mine”

“Chasing Birds”

Meer oor:  Danie Marais  |  Foo Fighters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.