Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Meer as net Mozart op Jhb se Mozart-fees
Die pianis Renan Koen

Moet vir geen oomblik dink net Mozart-musiek word op die Johannesburgse Internasionale Mozart-fees gespeel nie, ook nie net Beethoven-werke nie, al word een van sy aanhalings, “Alle Menschen werden Brüder” as feestema gebruik en sy 250ste sterfjaar vanjaar groot en wyd gevier.

Musiek van ’n legio komponiste van verskeie vastelande en styltydperke kan in sowat 15 uitvoerings gehoor word.

Musiekliefhebbers wat mal is oor Beethoven, kan wel uitsien na al tien sy vioolsonates wat deur die uitmuntende Duitse violis Alissa Margulis en die Stellenbosse pianis Luis Magalhães uitgevoer word. Dit word in drie uitvoerings op 1 en 2 Februarie in die Linder-ouditorium aangebied.

Florian Uhlig, pianis en artistieke direkteur van die Johannesburgse Internasionale Mozartfees

Die Odeion-strykkwartet van Bloemfontein is weer na die fees genooi en sal twee kwartette uitvoer – Strykkwartet op. 33 nr. 2 in E mol majeur van Haydn, die vader van die strykkwartet, en die derde deel uit Beethoven se Strykkwartet in A mineur, op. 13.

Florian Uhlig, pianis en artistieke feesdirekteur, sal ná pouse Beethoven se Klavierconcerto nr. 4 in G majeur, op. 58 speel. Die konsert is op 29 Januarie in die Linder.

Renan Koen (klavier) het musiek van die Turkse komponis Ali Dramar, asook Mozart en Viktor Ullman, vir haar program gekies, terwyl die Italiaanse pianis Matteo Arevalos van sy eie komposisies, asook werke van Chopin en Beethoven, sal speel.

Die fees open op 25 Januarie met musiek van drie vastelande uitgevoer deur die Buskaid Soweto String Ensemble en verskeie soliste. Van Mozart se Eine Kleine Nachtmusik tot ’n township-kwêla is op die program.

Die Duitse violis Alissa Margulis

Nog ’n konsert met ’n groot verskeidenheid werke is dié deur die Applegreen Orchestra met Phil Cox (trompet) as solis en dirigent Tim Roberts.

Ander interessanthede is ’n lesing oor Beethoven, ’n bespreking oor die politiek van vreugde en Richard Cock wat belangstellendes Beethoven se koorwerk Ode an die Freude uit sy Simfonie nr. 9 leer.

Dié volledige werk word met die Johannesburgse Feeskoor en -orkes en soliste Andiswa Makana (sopraan), Minette Pearce-Du Toit (alt), Siyabonga Maqungo (tenoor) en Bongani Kubheka (bas) op 2 Februarie om 15:00 in die Linder uitgevoer.

Kindermusici kry ook geleentheid om hulle te laat hoor, in Orchestra from Scratch, waar selfs outjies van gr. 3-musiekvlak welkom is. Susan Cock neem hier die leiding.

Die organiseerders het ook aan operaliefhebbers gedink. Vir hulle is daar Die Zauberflöte van Mozart wat van 23 Januarie tot 2 Februarie in die Brooklyn-teater op die planke sal wees.

Lees die volledige feesprogram op www.join-mozart-festival.org.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.