Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Melodieë met liefde uit Parys
Ammiel Bushakevitz en Laetitia Grimaldi Spitzer

Die program van romantiese Franse liedere, Melodies from Paris, wat die Suid-Afrikaanse pianis Ammiel Bushakevitz en die liriese sopraan Laetitia Grimaldi Spitzer van Frankryk die week in Bloemfontein aanbied, kon net sowel From Paris with Love heet. Dit bestaan uit ’n hand vol goedvoelmusiek wat van operaliefhebbers tot chanson-aanhangers plesier sal gee.

Ál die werke – vir stem en soloklavier – is van Franse komponiste wat in die Belle Époque, die vrolike goue era van 1871 tot 1914, aktief was.

Salonmusiek het in dié tydperk hoogty gevier en, soos Bushakevitz­ verduidelik, is die werke gewoonlik in ’n intieme atmosfeer uitgevoer waar vriende met ’n glas wyn in die hand sit en luister het.

“Die komponiste het dikwels ten nouste met digters saamgewerk en hul skeppings vir omstanders uitgevoer terwyl die ink nog nat was,” het Spitzer bygevoeg.

Dié toeganklike salonliedere op die duo se program is van die minder bekende Reynaldo Hahn, maar ook van bekendes soos Gounod, Delibes, Bizet en Duparc.

Van Hahn se musiek word gesê: “As jy daarna luister, is dit of die wêreld om jou in ’n Renoir-skildery verander, ’n wêreld wat jy nie na die werklikheid wil laat terugkeer nie.”

Program

Die sangnommers op Spitzer en Bushakevitz se program sluit in L’Invitation au voyage van Henri Duparc, À Chloris en Quand je fut pris au pavillon van Hahn, Le premier jour de mai van Gounod, Bizet se Chansons-mélodies: Extase, Les filles de Cadix van Delibes en liedere van Joseph Cantaloube.

  • Bushakevitz sal ook solowerke vir klavier uit die Belle Époque uitvoer, onder meer Franz Liszt se treffende Jeux d’eaux à la villa d’Este, Gabriel Fauré se Le secret en Romance sans paroles, op. 17 nr. 3, en Recueil de chants, op. 38 nr. 1 van Charles-Valentin Alkan. Melodies from Paris: 6 Mei om 19:30 in die Odeion-teater, UV-kampus. Kaartjies: R130 (volwassenes), R90 (pensioentrekkers, studente, skoliere), R70 (UV-personeel), R50 (groepe van minstens 10). Bespreek by Computicket of kry kaartjies by die deur.
Só verloop die lewe van dié twee musiekkunstenaars

Laetitia Grimaldi Spitzer

Die drie weke lange konserttoer tans is dié jong Franse sopraanse eerste kennismaking met Suid-Afrika, ’n land waarop sy onmiddellik verlief geraak het, “veral op die vriendelike mense”.

Spitzer, wat in Frankryk gebore is en ’n deel van haar jeugjare ook in Portugal en Brittanje deurgebring het, sê nie in haar wildste drome het sy gedink sy sal van musiek ’n loopbaan maak nie, al was sy baie lank ’n blaaier vir haar ma, ’n kamermusiekpianis.

“Ek was vas van plan om ’n bioloog te word wat in bye spe­sialiseer – dit was my oorweldigende belangstelling totdat ek 18 was. In daardie jaar het ek egter ’n meesterklas by die beroemde Spaanse mezzo-sopraan Teresa Berganza bygewoon, en sy het my omgepraat om sang in New York te gaan studeer, eers by die Manhattan School of Music en daarna vir ’n meestersgraad aan Juilliard.”

Spitzer sê sy was nog nie ’n dag spyt oor haar besluit nie, ondanks die jaar wat dit haar geneem het om die sopraan-repertorium in te studeer nadat sy van mezzo-sopraan, waarin sy opgelei is, na sopraan oorgeskakel het.

Voor dié omwenteling het sy egter goeie verhoog-ervaring opgedoen in onder meer Carnegie Hall, konsertsale in Brittanje en op bekende feeste soos Verbier in Switserland, Aix-en-Provence in Frankryk, Leipzig in Duitsland, asook Ravinia in Chicago.

Die verskeidenheid wat sang bied, geval Spitzer. Sy is net so gaande oor kunsliedere as opera-arias en het selfs al in ’n rock-opera gesing.

Ammiel Buhsakevitz

Bushakevitz, wat saam met sy ewe bekende suster, die violis Avigail Bushakevitz, in George grootgeword het, woon nou, soos sy, in Berlyn. Nie dat “woon” vir hom dieselfde betekenis as vir ons gewone mense het nie.

Ná die laaste noot op die Suid-Afrikaanse toer vertrek hy na Zimbabwe vir vyf solokonserte in Harare. Dan is dit terug Europa toe vir konserte in Duitsland en in Julie vlieg hy weer Suid-Afrika toe vir ’n uitvoering met Avigail op die Nasionale Kunstefees in Grahamstad.

Bushakevitz sê hy is tevrede met die gang van sy loopbaan. “Dit is ’n voorreg om ’n lewe as vryskutpianis te maak en noudat ek ’n agent vir solo-optredes in Brittanje het, neem die werk toe.”

Hy is ook genooi na die bekende Luzern-musiekfees in Augustus vir ’n solo-uitvoering en ’n optrede met ’n sanger. Voor dit aanbreek, bied hy en Spitzer Melodies from Paris ook in Mexiko aan.

Bushakevitz het pryse in verskeie kompetisies gewen, insluitend die internasionale Schubert, Johannes Brahms en die Léopold Bellan in Parys.

Ná sy aanvanklike studies aan die Universiteit van Pretoria, het hy nagraads gestudeer aan die Hochschule für Musik und Theater in Leipzig en die Conservatoire Nationale Supérieur de Musique in Parys.

Hy het ’n voorliefde vir liedbegeleiding en het mentorskap van vermaarde sangers ontvang, niemand minder nie as Dietrich Fischer-Dieskau, Elly Ameling, Thomas Hampson, Matthias Goerne en Teresa Berganza.



MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.