Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Met Jessica aan sy sy het Ray nou alles

Sy nuwe CD, Uitbasuin, is ’n viering van sy liefde vir die lewe, sê die sanger Ray Dylan, wat ook vrede gevind het in sy persoonlike lewe. Hy gesels met Maretta Bellingan.

Lekker dik ketting om die nek, ligstrepe in die hare, stywe T-hemp en stywer jeans, leerstewels… die man is muso van kop tot tone. Geen wonder hy’s onlangs op ’n TV-program bekend gestel as die land se minister van country nie.

Maar jy verwag niks minder nie, want Dylan het by die beste geleer. As 12-jarige het hy saam met “oom Bles” getoer en onthou hoe dié troebadoer elke aand net voordat hy op die verhoog gaan, geskeer het.

Ray Dylan erken hy het baie foute gemaak, maar dit het hom waardevolle lesse geleer.

“Dan het hy ’n peperment gekou. En hy’t altyd die mooiste vrou in die gehoor uitgesoek en tydens die show op haar skoot gaan sit.”

Maar dit sal hy nooit doen nie, lag Ray en kyk liefderyk na mevrou Dylan wat langs hom op die bank sit. Jessica in haar babablou top, denim en babablou skoene het die geluksalige uitdrukking van ’n vrou wat weet dat sy gekoester word.

Ray is in Kaapstad waar hy vir twee aande by Die Boer optree. “Ek’s mal oor die Kaap, al het die Kapenaars ’n ongewone bestuurstyl,” terg hy en voeg vinnig by, “maar hulle het ’n pragtige waardering vir Afrikaanse musiek.”

Donkiejare gelede

Die 39-jarige Ray is reeds sedert 2001 deel van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en spog met CD-verkope van bykans ’n miljoen, maar dit was nie altyd maanskyn en rosegeur nie.

“Ek was 23 toe my pa skielik aan ’n beroerte oorlede is. Hy was my beste vriend en die hartseer was intens.

“Ek het ’n tyd lank alle belangstelling in musiek verloor.”

Ek het drie jaar aan die liedjies geskryf en die boodskap is basies: Leef elke oomblik ten volle.

Ray het ’n paar jaar lank by ’n selfoonmaatskappy gewerk. Op ’n dag het ’n vriend, ene Kurt Darren, hom teruggelok na die bedryf. Hy’t weer heeltyds begin musiek maak en sedertdien feitlik elke jaar ’n CD uitgereik. Hy hou ook sowat ’n honderd konserte per jaar.

Met treffers soos “Crazy lief vir jou”, “Angel Face” en natuurlik die bekende “Jessica” het Dylan sy kleim afgesteek, en vandag is die minister van country een van die gewildste kunstenaars in die Afrikaanse musiekbedryf.

“Ek sien myself as ’n unieke kunstenaar. Ek skryf my eie songs, sing in Engels én Afrikaans, het my eie ateljee in my huis en vervaardig die meeste van my eie klanke.”

Oor sy nuutste album, Uitbasuin, is hy baie opgewonde. “Ek het drie jaar aan die liedjies geskryf en die boodskap is basies: Leef elke oomblik ten volle. ’n Mens moet jou liefde vir die lewe, jou medemens en jou God uitbasuin. Dis ’n mengsel van 15 Engelse en Afrikaanse liedjies.

“Die liedjie ‘Woorde’ is die laaste liedjie wat ek geskryf het, en al hoe meer mense verwys daarna.”

Sy vrou meen egter die liedjie “Hier teen jou lyf” het al die eienskappe van ’n treffer.

Dit was nie ’n maklike paar jaar nie, ek het baie foute gemaak, maar ook baie gegroei. Ek dink die geheim van ons verhouding is dat ons mekaar se loopbane respekteer.

‘Jessica’ se storie

Tien jaar gelede het Sarah Theron vir hom die liedjie “Jessica” geskryf en nege jaar lank het hy feitlik elke aand daai liedjie gesing.

“Ek dink regtig daai song het vir my geluk gebring.”

En hy kon doen met ’n bietjie geluk, want ’n tyd lank was die sanger wat pa is van ’n 15-jarige seun en ’n sesjarige seun uit vorige verhoudings, meer in die nuus vir sy stormagtige liefdeslewe as vir sy musiek, iets waaroor hy nie juis geneë is om te praat nie.

Toe hy so drie jaar gelede een aand in Despatch optree, was romanse die laaste ding waaraan hy gedink het, maar die noodlot het ander planne gehad. Iemand het ’n pragtige blondine aan hom bekend gestel en al wat hy kon kwytraak, was: “Jou boots werk vir my.” Die meisie het haar hand uitgesteek en gesê: “Hi, I’m Jessica.”

Ray kon sy ore nie glo nie.

Die twee is in April verlede jaar getroud en hulle woon in Vredefort, Ray se tuisdorp en die plek waar hy grootgeword het as Jacobus Jersich.

“Dit was nie ’n maklike paar jaar nie, ek het baie foute gemaak, maar ook baie gegroei. Ek dink die geheim van ons verhouding is dat ons mekaar se loopbane respekteer.

“Toe ek vir Jessica aan my ma voorstel, was haar reaksie: ‘Ek het altyd vir jou gesê jy moet ’n vrou kry met goeie inbors, iemand wat haar eie geld verdien en uit ’n goeie huis kom, maar ek het nie gesê sy moet verdomp beter wees as ek nie,’ ” vertel die sanger laggend.

Ek het baie karre afgeskryf, dom en roekelose dinge aangevang, maar nou weet ek ek moes daai pad stap en het soveel meer waardering vir my vrou en my loopbaan.

Jessica is deesdae Ray se bestuurder, maar sy gee ook Engels vir gr. 11’s en gr. 12’s by die Hoërskool Parys.

“Jessica is baie goed opgevoed en is baie liefdevol. Ek hou ook daarvan dat sy goed Engels kan praat.”

“Ek hou van musiek, maar is baie lief vir lees en doen mosaïek,” sê die sagaardige Jessica. “Ray kan nooit verstaan hoekom die huis so stil is nie.

“Ek het ook vroeg in die verhouding vir Ray gesê: ‘We can give this a go, maar ek wil nie kinders hê nie.’ Ek is baie lief vir my man en dis genoeg vir my. Ek het ’n klas vol kinders, dis heeltemal voldoende.”

En Ray beaam sy vrou se gevoelens.

Die seuntjie wat op drie met ’n kitaar in sy arms gaan slaap het, meen hy’t alles wat hy begeer.

“Ek het my kruin bereik en hoop om nog lank ’n suksesvolle uitvoerende kunstenaar te wees, maar in die toekoms sal ek graag ander kunstenaars se albums wil vervaardig.

“Ek het baie karre afgeskryf, dom en roekelose dinge aangevang, maar nou weet ek ek moes daai pad stap en het soveel meer waardering vir my vrou en my loopbaan.

“Soos ou Steve al gesê het, It’s not how you get there, it’s how you stay there wat belangrik is.”

Meer oor:  Ray Dylan  |  Vermaak  |  Celebs  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.