Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Met se ‘Walküre’ bekoor met magiese klankglinstering
Die sopraan Christine Goerke is Brünnhilde in Wagner se Die Walküre.

Gode, reuse, dwerge én lewende mense oefen hul maglus uit in die opera Die Walküre, die tweede opera in Wagner se Ring-siklus. Paul Boekkooi resenseer die Met Opera se verfilmde produksie.

By operas – dit weet almal lankal reeds – is die kamera soms ’n onwelkome indringer. Dat New York se Met Opera sedert 2006 reeds 24 miljoen rolprentkaartjies van hul verfilmde produksies wêreldwyd verkoop het, is ’n bewys daarvan dat operaliefhebbers hulle nie daaraan steur nie. Ons lewe soos millenniërs en dalk wil sommiges nooit meer operas in ’n operahuis sien nie. Ons is versot op HD (hoë definisie).

Die Met se jongste Ring-opvoerings is die geesteskind van die Kanadese meesterontwerper en -regisseur Robert Lepage. So tegnologies vernuftig is sy meganies-elektronies bewegende stelle dat dit deur die bedryf as “die masjien” gedoop is. In die begin (2011) en nog vir jare daarna was dié kolos op die Met-verhoog nie alte betroubaar nie. In dié Walküre is dit egter alles iets van die verlede. Tog kleef kunsmatigheid steeds aan die toepassing daarvan. Die agt “Rynmeisies” se kaperjolle op die masjien se planke kom steeds ongemaklik oor.

Maar nou, met ’n uitgesoekte rolverdeling verteenwoordigend van top- internasionale sangers, plus Philippe Jordan, ’n Wagner-dirigent met min gelyke, rig die kyker en luisteraar hom- of haarself as vanselfsprekend eksklusief op die artistieke resultate waaraan die twee regisseurs J. Knighten Smit en Gina Lapinski ook ’n leeueaandeel gehad het.

Totaal gepas het die sopraan Eva-Maria Westbroek haar treffende Sieglinde met veelsydigheid in stemaanwending en ’n dramaties oortuigende persona gevestig.
Günter Groissböck in die middel saam met ses van die “Rynmeisies” in ’n toneel uit Die Walküre.

Reeds in die eerste van die drie bedrywe het die prestasievlakke van drie sangers uitgestaan. Stuart Kelton se tenoorstem in die rol van Siegmund het ’n fluweelagtige kwaliteit wat verbind word met duidelike karakterisering. Hy besit die vermoë om die Engelse begrip “word painting” duidelik deur sy bykans sintuiglike stemkleuraanwending waar te maak.

Totaal gepas het die sopraan Eva-Maria Westbroek haar treffende Sieglinde met veelsydigheid in stemaanwending en ’n dramaties oortuigende persona gevestig. Hierop het sy in die oorblywende twee bedrywe subtiel voortgebou en die toeskouer natuurlikerwys met haar lot laat identifiseer.

Greer Grimsley is ’n dramaties sterk en deurgaans dreigende figuur as Wotan. Met sy soepele basstem in kombinasie met die bykans weersinwekkende verwringing wat hy op sy gesig uitbeeld, leef sy karakter hom ten volle in die mees uitdagende situasies uit.

As Brünnhilde is die nog betreklik jeugdige Christine Goerke ’n ware vonds, met ’n stem wat nêrens iets van die oordrewe vibrato weerspieël wat die meerderheid van haar voorgangers later in hul loopbane begin openbaar het nie. Goerke is ook ’n verrassende en voluit oortuigende sanger-akteur.

Günter Groissböck in die rol van Hunding het verstommende beheer oor sy vokale register wat van ’n ware bas tot by ’n soepele bariton strek. By eersgenoemde is sy stentorstem soms weerbarstig, terwyl hy in die baritontessituur die uitgebreide liriese frases uiters musikaal hanteer.

Die mezzosopraan Jamie Barton se Fricka is ’n gewigdraende teenwoordigheid as die godin van die huwelik, terwyl die agt “Rynmeisies” ’n voorbeeld is van hoe ensemblesang moet klink.

Jordan lei die Met-orkes buitengewoon idiomaties. Wagner se orkestrasies klink met magiese klankglinstering op.

WAGNER: Die Walküre. Met Stuart Skelton, Eva-Maria Westbroek, Günter Groissböck, Greer Grimsley, Christine Goerke, Jamie Barton, e.a. Metropolitan Opera-orkes/Philippe Jordan. Regie: J. Knighten Smit en Gina Lapinskis. Dekorontwerp: Carl Fillion. Tydsduur: 330 minute (twee pouses ingesluit). Tot 8 Mei in Cinema Nouveau- en uitgesoekte Ster-Kinekor-teaters.

Meer oor:  Opera  |  Metropolitan  |  New York
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.